Peperduur brandweerstasie al jare lank ongebruik

Die gebou is intussen beskadig en daar is geen sekuriteit nie. (Foto: Verskaf)

Die Mmamahabane-brandweerstasie wat ten duurste langs die N1 in die Vrystaat opgerig is, word al bykans ses jaar lank nie bedryf nie.

Dié brandweerstasie is in die Matjhabeng-munisipaliteit geleë en moet gemeenskappe van onder meer Welkom, Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg en Virginia in tye van nood kan bystaan. Gevolglik moet inwoners en boere dikwels self inspring wanneer geboue hier brand.

Volgens Armand Cloete, VF Plus-raadslid, is die brandweerstasie in 2015 ingehuldig en het dit R14 miljoen gekos om op te rig. Foto’s wys egter dat die gebou dolleeg staan met geen teken van personeel of brandweertoerusting nie.

“Hoekom dit nie in werking is nie, weet nugter alleen. Dit is reeds ses jaar en daar is geen teken van brandweerdienste nie. Die brandweerstasie sou glo ook as opleidingsentrum gebruik word.”

Die munisipaliteit het in Julie 2019 aangekondig dat die brandweerstasie “binnekort sou heropen”, maar dit het helaas nooit gebeur nie.

“Later was daar sprake dat die Vrystaatse departement van gesondheid moontlik die gebou as ʼn nooddienssentrum sou gebruik het. Dit het ook nie gebeur nie,” het Cloete gesê.

Die gebou is intussen beskadig en tydens Cloete se onlangse besoek aan die perseel was daar ook geen sekerheidsdiens nie.

“Dit is ʼn bewys dat die ANC nie eens die basiese dienste op distriksvlak kan verseker nie,” het Cloete gesê.

Johan Terblanche, voorsitter van die AfriForum-tak in Welkom, het gesê dat die brandweerstasie juis op ʼn strategiese plek (reg langs die N1) opgerig is sodat hulp vinniger aan die omliggende gebiede verleen kan word – ook wanneer daar ongelukke op die snelweg plaasvind.

Volgens Terblanche is daar boonop net een brandweertrok en een brandbestrydingsbakkie in die hele munisipaliteit.

“Die brandweerstasies in Hennenman en Virginia is ook heeltemal vervalle. Daar is nie genoeg personeel óf toerusting om brande te bestry nie,” het Terblanche gesê.

Dít beteken dat inwoners dikwels aan hul eie genade oorgelaat is wanneer brande uitbreek.

“Baie huise het al afgebrand omdat daar nie voldoende brandweerdienste is nie,” het Terblanche gesê.

Volgens hom word brande wat uitbreek dikwels ook die verantwoordelikheid van die Goudveld Brandbeskermingsvereniging wat hoofsaaklik deur boere bedryf word.

“Boere is opgelei om veldbrande te bestry – nie huisbrande nie. Hulle het nie die nodige toerusting om dít ook te doen nie.”

Verder kon die munisipaliteit glo ook nog nooit goedgekeurde rampbestuurplanne verskaf nie. “Ons sit met ʼn baie groot probleem,” het Terblanche gesê.

Die munisipaliteit het nog nie op Maroela Media se navrae gereageer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jeff

Wat is nuut in hierdie land. Gees van vernietiging orals. Kannie bou kan net afbreek

Willem

En raak al klaar vervalle

Madz

FYI – Dit is REGDEUR die land ‘n probleem! En intussen gaan mense se versekerings-premies op en op indien daar ‘n brand ontstaan en die wat nie versekering kan bekostig nie verloor alles wat hul weer afhanklik van die staat maak. Dis ‘n bose kringloop en intussen worry hulle oor maskers en Covid en Zuma …. ons stry ‘n verlore styd in SA!

JM

En só ploeter die ANC-regering aan van die een na die volgende mislukking (ek het ‘n ander woord hiervoor, maar kan dit nie hier noem nie!!) Sal daar ooit uitkoms wees?

Blikkies

Hulle sal ook nie op julle navrae reageer nie, te sleg.