‘Peperduur drank skandalig’ – VF Plus

Tafels kreun onder duur drank by ‘n funksie van die nasionale weermag. (Foto: Skermgreep/ Facebook video)

Die VF Plus sê die groot hoeveelhede peperduur drank en whiskey wat glo deel was van ’n rits swierige afskeidsgesellighede vir die afgetrede weermaghoof genl. Solly Shoke, is skandalig en vrae moet beantwoord word oor wie daarvoor betaal het.

Maroela Media het vroeër berig in ’n video wat op sosialemediaplatforms rondgestuur word, kan bottels peperduur drank – wat op die tafels uitgestal word – by dié geselligheid gesien word. Bottels Johnnie Walker, Glenlivet, Glenfiddich en Bells kan onder meer gesien word.

Die video van die lokaal is glo geneem by die leër se steunbasis in Bloemfontein waar een van die gesellighede – daar was glo ook geleenthede op onder meer Oudtshoorn en Makhado – vir Shoke gehou is.

ʼn Vinnige internetsoektog na die pryse van sommige van die bottels op die video het die volgende opgelewer: Glenfiddich 15 YO Solera Reserve Single Malt: R829, Jameson 18 YO Limited Reserve Irish Whiskey in Gift Box: R1 749, Glenlivet 15 YO Single Malt: R899 en Johnnie Walker Green Label: R819.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê die VF Plus eis antwoorde oor wie vir die duur drank betaal het en sal parlementêre vrae hieroor aan Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die minister van verdediging, rig.

“Indien dit gedoen is met een of ander personeelfonds, sou dit daarop neerkom dat hoofsaaklik gewone soldate hierdie spandabelrigheid geborg het. Hulle sal dan kennis moet neem waarvoor hul geld aangewend word,” sê Groenewald.

“Dit is ironies dat hierdie vermorsing van geld plaasgevind het terwyl die weermag se begroting teruggesny is en Shoke self met sy uittrede gewaarsku het dat die weermag nie sy grondwetlike verpligtinge sal kan nakom met besnoeiings aan sy begroting nie.”

Groenewald sê Shoke se nalatenskap sal nou nie meer wees oor wat hy in sy termyn as hoof van die weermag gedoen het nie, maar oor die spandabelrige wyse hoe hy daar weg is.

Maroela Media het reeds Dinsdag ʼn navraag aan die weermag gerig en wag steeds op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
DIABLO

My goeiste! Dis die eerste keer wat ek n foto sien van wat met my belasting geld gebeur. Uitgesuip en opgevreet.

Jack

Ja so gaan dit.As die klomp hulle hande op geld kry mors hulle alles uit.Die drank is ‘n voorbeeld van die elite wat nie eers Jameson kan spel nie,maar sal sal suip as die geld daar is.

Ian

Hierdie gewoonte is gekoppel aan die meeste geleenthede van top politici. Kyk maar hoe gaan julius aan. Hierdie is n siekte dis n moet om geld te mors en dan is hierdie einste lede vinnig om vingers te wys.

Elize

Niks gewoond. Uitspattigheid wanneer iemand anders daarvoor betaal.

Marina

Een tafel se drank kan my voorsien van n maand se kruideniersware, dis skandalig. En dan gaan daar nog afskeide volg met nog drank, sal dit weer belastinggeld wees wat als betaal?