Peperduur fasiliteit dalk binnekort ‘spookhospitaal’

Die AngloGold Ashanti-hospitaal in Mei 2021 (Foto: GautengProvince/Twitter)

Die peperduur opknappingswerk wat aan die AngloGold Ashanti-hospitaal aan die verre Wes-Rand gedoen is, sal moontlik pure verniet wees wanneer al die personeel aan die einde van die maand die fasiliteit verlaat en dit in ʼn “spookhospitaal” verander.

Die departement van gesondheid in Gauteng het glo nog nie ʼn besluit geneem oor die toekomstige gebruik van die hospitaal nie en gevolglik moet personeel teen die einde van Maart, wanneer hulle kontrakte verstryk, die perseel verlaat.

Die LUR vir gesondheid in Gauteng, dr. Nomathemba Mokgethi, het hierdie inligting in antwoord op ʼn vraag van die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, Jack Bloom, bekend gemaak.

Die hospitaal naby Carletonville is aanvanklik vir Covid-19-doeleindes opgeknap, maar het net ʼn skrale getal pasiënte behandel – dít terwyl meer as R700 miljoen daarop uitgegee is.

Sowat R6 miljoen is ook reeds aan personeel vir die hospitaal bestee.

Volgens Mokgethi werk die departement aan ʼn strategie om die personeel te behou.

Slegs 34 Covid-19-pasiënte is vanjaar by die fasiliteit behandel, terwyl altesame 147 pasiënte in die geheel behandel is sedert die hospitaal in Mei verlede jaar gedeeltelik oopgestel is.

Die hospitaal was veronderstel om ruimte vir tussen 175 en 181 beddens in die intensiewesorgeenheid te hê om Covid-19-pasiënte te behandel, maar slegs 56 gewone beddens is vir pasiënte beskikbaar.

Die kontrakteurs se werk is steeds nie afgehandel nie, dus is nie ʼn enkele bed beskikbaar in die hoësorg- of intensiewesorgeenhede nie.

Die algehele koste aan die Ashanti-hospitaal beloop nou al R733 miljoen, wat insluit die boukoste van R588,5 miljoen en mediese toerusting wat vir R144,4 miljoen aangekoop is.

“Dit help nie om meer geld aan hierdie wit olifant te bestee wat waarskynlik in ʼn spookhospitaal sal verander sonder enige personeel of voldoende mediese toerusting nie,” sê Bloom.

“Die provinsiale regering besit nie eens die gebou nie, aangesien die skenking wat deur die Anglo Ashanti-mynmaatskappy gedoen is, nog nie gefinaliseer is nie.”

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het reeds in Januarie ʼn verslag oor die regering se Covid-19-besteding vrygestel, waarin bevind is dat ses van die kontrakteurs onreëlmatig deur die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling aangestel is.

Boonop het werk aan die hospitaal begin nog voordat die koste en pryse daaraan verbonde goedgekeur is. Hoewel die opknappingsbegroting R50 miljoen was, het dit raaiselagtig verhoog tot meer as R500 miljoen.

“Dit is ʼn skande dat soveel geld op ʼn hospitaal vermors is – wat boonop ver van groot bevolkingsentrums is – wanneer bestaande hospitale desperaat is vir opknappings, meer personeel en nuwe toerusting.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Owlie ·

En die publiek was onder die indruk gebring dat daar NÊRENS plek in ENIGE hospitaal was tydens die covid rush nie, mediese personeel was en is steeds sonder werk terwyl hier n Wêreldklas hospitaal staan Wie gaan hier n verduideliking uit dink R733 miljoen rand GEMORS WOW waarvoor

Mercia ·

My gits…..Kan jy dít nou glo? Wonder dan nou ook oor al die nuus van hospitale wat hoek tot kant vol covid gevalle gelê het…..en nou hierdie “wit olifant?”

Anel ·

En so gaan die ANC mors voort!! Geen idee hoe om met geld te werk nie. Bou ‘n ding in die boendoes. En dan wil hulle nog steeds die Nasionale gesindheids sorg op ons afdwing!! Hoekom gebruik hulle nie plek vir verswakte mense nie, of vir mense met spesiale behoeftes, of geestesversteurings. Daar moet iets wees waarvoor die plek gebruik kan word! Mens kan nie net geld so mors nie!!!

Marius ·

Weereens ‘n bewys dat die regering te veel op covid konsentreer en te min op die algehele verval van die departement van gesondheid. Dit is weereens die belastingbetaler wat die gelag betaal.

Kokerboom ·

Die Valke moet AL die kader besluitnemers wat sulke onverantwoordelike roekelose besluite neem net aankla en SKULDIG bevind. Dwing Premier om aanspreeklikheid te aanvaar!Die ANC vermetelheid moet nou gestop word!!

Oom Kobus ·

Die Charlotte Maxeke hospitaal is steeds gesluit na die brand.
Hou dit gesluit en plaas alle personeel oor na Anglo Gold hospitaal. Dit sal goeie ekonomiese inspuiting vir Carltonville omgewing wees.
Oom Kobus

Jacobus ·

‘n Aanduiding van die erns waarmee die ANC die hele bedrogspul aangespreek het. Die miljarde was welkom – geen geld geen pret!

Souterig ·

Geld is seker na die ANC toe gesuipel, hoe het hulle onlangs die Luthuli mense se salarisse betaal, follow the money.

Pietertjie ·

Nie eens ‘n vyfde vlaag van een of ander virus gaan hiérdie gemors laat beter lyk nie.

Manda ·

Twee woorde sinoniem met die mense un beheer – verondersrel en raaiselagtig – van kwalifikasies regdeur tot korrupsie…

Miskruier ·

Maak dit reg vir geestesversteurdes, veilig en mens het nie hoë sorg beddens nodig nie.

Nie Verbaas ·

Nog n ANC “sukses storie”. Weereens besluite geneem sonder om aan die toekoms te dink. Briljant Ramaphosa en kie, briljant.

Jr ·

That’s exactly hoekom Anglogold besighede oorsee gaan soek het. Hulle het na baie paai en g*t lek by unies besef dit is alles verniet. Ek kan jou waarborg die punt van hulle tonge is bitter suur.

Jasper ·

Nog ‘n melkkoei is geskep en gemelk deur die Association of National Corruption

Erika ·

Nog n “legacy” van die ANC se vooruitstrewendheid & wanbestuur

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.