Peperduur klassieke Alfa bly in SA

Die wenbod vir die Alfa Romeo GTV6 3 liter is eindelik op R1,1 miljoen toegeslaan. (Foto: Verskaf)

ʼn Klassieke Alfa Romeo is die afgelope naweek op ʼn veiling vir klassieke en ou motors vir ʼn allemintige R1,1 miljoen opgeveil en was een van verskeie goue oues wat rekordpryse op die internasionale veiling behaal het. Die meeste van die motors bly boonop op Suid-Afrikaanse bodem, nadat ongeveer 80% van die suksesvolle botte aan Suid-Afrikaners toegestaan is.

Die stryd om eienaarskap van die 1985 Alfa GTV 6 3L het op R200 000 begin, terwyl die wenbod uiteindelik op meer as ʼn miljoen rand te staan gekom het.

Joff van Reenen, direkteur van High Street Auctions en die hoofafslaer, het die afgelope naweek die Legends & Classics-veiling by Creative Rides se vertoonlokaal in Bryanston gelei. Die veiling is boonop regstreeks uitgesaai en het motorentoesiaste van regoor die wêreld gelok.

Altesame 106 motors en motorfietse is opgeveil en het boonop die rekords wat verlede jaar tydens die Louis Coetzer-versamelvoertuigveiling opgestel is, laat spat.

Die bod op die klassieke Alfa word Saterdag toegeslaan. (Foto: Verskaf)

“Die ster van die dag was ongetwyfeld die Alfa GTV 6. Dit was die laaste item in ʼn volgepakte katalogus met sommige van die skaarste versamelaarsmotors wat ek nog ooit gesien het,” sê Van Reenen.

“Item 106 was ʼn Transatlantiese bodoorlog tussen versamelaars in Australië en Suid-Afrika en die aanbiedinge het vinnig geklim van R200 000 tot waar die bod eindelik op R1,1 miljoen toegeslaan is.”

Van Reenen sê die goeie nuus is dat die spogmotor in Suid-Afrika gaan bly.

Benewens die groot klomp geld wat vir die spoggerige Alfa opgedok is, het ʼn 1960 Chevrolet El Camino R915 000 op veiling behaal, ʼn 1970 Mercedes Benz 300 SEL is vir R800 000 verkoop, terwyl R780 000 opgedok is vir ʼn 1971 Ford Capri Perana.

ʼn 1958 Chevrolet Apache en ʼn 1953 Mercedes Benz W186 Model 300 Adenauer is vir R600 000 elk opgeveil.

Die 1960 Chevrolet El Camino is vir R915 000 opgeveil. (Foto: Verskaf)

Kevin Derrick, eienaar en hoof van Creative Rides, sê altesame 80% van die kopers was Suid-Afrikaners.

“Die res van die klassieke motors is gekoop deur versamelaars in Engeland, Australië, Nieu-Seeland, Zambië en Botswana en ons sal die voertuie binne die volgende paar weke na hul nuwe eienaars verskeep.”

Volgens Derrick is die meeste plaaslike kopers van Gauteng, gevolg deur sterk verteenwoordiging van die Wes-Kaap.

Die veiling is regstreeks aanlyn uitgesaai en het kopers en motorentoesiaste van oor die wêreld gelok. (Foto: Verskaf)

“Verskeie bieërs het ook meer as een aankoop by die veiling gedoen, met een baie ywerige plaaslike versamelaar wat agt voertuie vir sy private versameling opgeraap het,” sê hy.

Verskeie van die kopers het aangedui dat die voertuie na private motormuseums landwyd geneem gaan word.

Sowat 15 000 mense het regstreeks aanlyn na die veiling gekyk, tientalle het aanlyn gebie en sowat 150 het die veiling self bygewoon. Teen Saterdagoggend het meer as 3,5 miljoen mense ook reeds na die fotogalery van die voertuie op veiling gekyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

pieter ·

sou as jongman my voortande vir daai Alfa gegee het. Pragtige kar

Belinda ·

jis dis lekker om so baie geld te he…. as iemand n vrou soek, hier is ek. Sal nog met daai mooi karre nog gaan rondry ook net om af te show.

SjN ·

Vraag en aanbod bepaal die prys, daar is nog mense met baie geld.

Michelle ·

Transatlanties… tussen Suid-Afrika en Australie? Kan ons ‘n atlas borg?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.