Peperduur motor gesteel ná begrafnis

Die verdagtes het ná die voorval in die Porsche gevlug (Foto: Rusa)

Ses verdagtes word gesoek nadat hulle Donderdagaand glo by ’n huis in Abbey-straat in Reservoir Hills, KwaZulu-Natal, ingebreek en ’n peperduur Porsche gesteel het.

Volgens Prem Balram, woordvoerder van Reaction Unit South Africa (Rusa), het die verdagtes na bewering omstreeks 20:30 die huis se erf betree en 13 familielede in die huis aangehou. Die roubeklaers het glo ná ’n begrafnis by die huis byeengekom.

“Die rowers het altesaam 13 selfone, bottels alkohol, juwele, bankkaarte, identiteitsdokumente en ʼn Porsche Panamera gebuit,” sê Balram.

“Die verdagtes het tydens die voorval gevra wie die eienaar van die Porsche is. Toe een van die gaste aandui dat hy die eienaar is, het die rowers hom gevra of hulle op sy foon kan kyk of daar enige motoropsporing-toepassing daarop is. Die eienaar, ’n inwoner van Boksburg, Gauteng, het gedoen wat die verdagtes gevra het en hulle verseker dat daar nie enige opsporingstoestel in die motor is nie.”

Die verdagtes het ná die voorval in die Porsche gevlug. ’n Wit Hyundai i20 is ook as wegkommotor gebruik.

“Geen beserings is tydens die voorval aangemeld nie.”

Enigiemand met meer inligting oor waar die Porsche kan wees, kan Rusa by 086 123 4333 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

Hoe groter stuk skedonk jy ry, hoe veilger is jy in hierdie land! Kan nie glo dat hierdie duur voertuig nie ‘n opsporingstelsel in het nie.

Blomme ·

Wettelose, Misdaadparadys! Welgedaan korrupte ANC regering!

Dries ·

Duur motor maklik bekom (korrupsie). Koop môre n nuwe een.

Jr ·

Hierdie kar sal seker uitsteek soos n seer duim. Nie so moeilik om op te tel iewerste

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.