Peperduur motor vir LUR; tekort aan ambulanse

Argieffoto

Argieffoto

Die departement van gesondheid in Noordwes sê oorblywende fondse is gebruik om ‘n motor van R940 000 vir sy LUR Magome Masike te koop.

Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van die departement, sê ‘n misleidende berig in die Mail&Guardian beweer dat die motor gekoop is met fondse wat bedoel was vir die aankoop van ambulanse. Volgens die berig is R200 000 gevat uit fondse bedoel vir mobiele klinieke en R740 000 uit fondse wat bedoel was vir die verkryging van pasiëntevervoer.

“Ons het nie ‘n teiken gehad vir die hoeveelheid ambulanse wat ons in die finansiële jaar wou koop nie,” sê Lekgethwane. “Dit is gekoop en versprei. Die geld [wat gebruik is om die motor te koop] was surplusfondse wat steeds in die rekening was.”

Lekgethwane sê die begrotings vir ambulanse en poelmotors vir beamptes en pasiëntevervoer val in dieselfde kategorie. Hy het toegegee dat daar ‘n tekort aan ambulanse in die provinsie is. “Daar sal altyd ‘n tekort wees aan ambulanse. Jy sal nooit genoeg noodvoertuie kan hê nie.”

Dit is Masike se tweede motor in drie jaar. Lekgehwane sê die LUR se vorige voertuig was foutief. “Wanneer ‘n motor 120 000km bereik, val dit buite die diensplan en word dit duur om te onderhou. Sy vorige motor het 169 000km op gehad en het begin om hom probleme te gee…hy het baie langs die pad gaan staan.”

Volgens die Mail&Guardian se berig het die departement nie ‘n tenderproses gevolg vir die aankoop van die motor nie. Dit ondanks die feit dat Pravin Gordhan, minister van finansies, verlede jaar gesê het dit moet gedoen word vir aankope van meer as R500 000.

Lekgethwane het die departement van openbare werke hiervoor blameer. “Die departement van gesondheid koop nie motors nie. Daar is tans ‘n kontrak met Mercedes en ons kan dit nie ignoreer en vir die LUR motors aan die kant koop nie.”

Op ‘n vraag aan Lekgethwane oor wat met die LUR se vorige motor gaan gebeur het hy gesê dit is nie vir die departement om te besluit nie. Hy sê die departement van openbare werke kan die motor dalk elders gebruik. Hulle kan dit selfs opveil,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

riaan ·

n Voertuig wat deeglik onderhou word laat jou nie langs die pad in die sleek nie, ry self motors en bakkie tot 350000 km en verder sonder noemenswaardige probleme

Erich Goosen ·

Wat het van Ryk Tulbach (Pravin Gordhan) se prag en praal wette geword wat die aankooppryse van voertuie vir politici beperk? Tokenism?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.