Peperduur resiesmotor met hulp van media opgepoor

Speursers. Timmy Rikhotso by die Sana wat opgespoor is. Foto: Parkview-polisie

Speursers. Timmy Rikhotso by die Sana wat opgespoor is. Foto: Parkview-polisie

Die peperduur resiesmotor wat Dinsdag waentjie en al by ʼn huis in Parkview, Johannesburg, gesteel is, is Donderdag opgespoor nadat daar wyd oor die diefstal in die media berig is.

Die Sana Formule 5000-motor, wat meer as R1 miljoen werd is, behoort aan dr. Greg Mills, hoof van die Brenthurst-stigting.

Anton Roux (52), ʼn inwoner van Sandton wat die motor in wedrenne bestuur, het Vrydag aan Maroela Media gesê ʼn motorhandelaar in Pretoria het die klassieke renmotor Dinsdagmiddag glo van ʼn onbekende persoon aangekoop, onwetend dat dit gesteel is.

“Die handelaar het in die media gesien die motor is gesteel, en het met ons in verbinding getree en gesê hy het die motor aangekoop. Ons het dadelik die Parkview-polisiestasie laat weet en die polisie en een van ons verteenwoordigers is Donderdagmiddag na die handelaar om die voertuig te gaan haal,” het Roux gesê.

Hulle het die motor daar op die waentjie waarop dit gesteel is, onbeskadig aangetref. “Daar is geen ooglopende skade nie, dit is net vol stof en sal skoongemaak moet word.”

Sers. Lloyd Ramovha, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat die motor twee dae nadat dit gesteel is, teruggevind en weer in die eienaar se besit is.

“Die handelaar wat die motor aangekoop het, is van Kameeldrift, noordoos van Pretoria. Hy koop, herstel en verkoop klassieke motors,” het Ramovha gesê. “Speursers. Timmy Rikhotso het dadelik reageer en saam met die verteenwoordiger gegaan om die motor te gaan haal en verdere ondersoek in te stel.”

Hy het gesê die handelaar gee sy volle samewerking met die ondersoek.

Die ondersoek duur voort. Niemand is nog in verband met die diefstal in hegtenis geneem nie.

Roux het gesê hulle is geweldig verlig dat die voertuig opgespoor en terug is by die eienaar.

Mills het Sana in 2008 in Brittanje gekoop. Daar is net twee van sy soort in die 1970’s vervaardig. Roux het gesê daar word nie beplan om binnekort met die renmotor deel te neem nie.

Maroela Media het Woensdag berig die motor was op ʼn sleepwa in die oprit na die huis agter ʼn geslote hek. “Die diewe het die hek oopgebreek en is met die motor en die sleepwa weg. Ek het geen idee wat hulle beplan het om met die motor te doen en of hulle eintlik net die sleepwa wou gehad het om as skrootmateriaal te verkoop nie,” het Mills vroeër aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

edmund ·

Ek is regtig bly en verlig saam met die eienaar dat hierdie renmotor teruggevind is. Ietwat jammer vir die handelaar wat gesteelde goedere aangekoop het en nou die verlies moet dra.

Hannelie ·

Edmund, hoe koop iemand sommer so vinnig so ‘n unieke motor van enigiemand? Al is jy iemand wat klassieke motors koop en herstel? Die koper moes mos dadelik rot geruik het! Tensy hy ‘n aandeel aan die diefstal gehad het?????

Paul ·

Sit daardie polisieman sommer so met sy volle gewig op die kar… Nie ‘n goeie manier om met ander mense se eiendom om te gaan nie. Swak!
Mens sit nie op ‘n kar se bakwerk nie – nog minder op ‘n liggewig sportmotor s’n!

Winston ·

Paul ek wou nou dieselfde vraag vra. Lyk of dit rommel is wat vir sitplek gebruik word asof dit die polisie is wat die voertuig opgespoor het. Swak gedrag.
Bly die motor is terug by sy eienaar en nie R100 se skroot geword nie!!

Elfie ·

Polisie kan maklik die uitsorteer – die ou moet kan wys in sy bankereking dat hy ‘n bedrag getrek het of EFT gedoen het om die motor by “iemand” te koop. As ‘n EFT gedoen is moet daar mos bewyse vand ie ander persoon se bank besonderhede wees en kan hulle die dief so opspoor. Indien nie ‘n EFT gedoen is en kontant betaal is – WIE gaan ‘n groot bedrag sommer aan “iemand” kontant betaal? Die skielike wye mediadekking het almal laat skrik en toe kom hierdie ou uit met die hele (of dalk HALWE) sak patats! So dis maklik om uit te vind of die ou ‘n aandeel in die hele storie het. Indien hy wel onskuldig is – hoe koop jy sommer so duur kar wat obviously skaars is somemr bhy eingiemand sonder om vrae te vra. Nee wat, hierdie rot wat ek ruik stink woes!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.