Peperduur resiesmotor uit Jhb-erf gesteel

Die resiesmotor wat gesteel is. Foto: Verskaf

Die resiesmotor wat gesteel is. Foto: Verskaf

ʼn Resiesmotor wat glo sowat R1 miljoen werd is, is in die oprit van ʼn huis in Parkview, Johannesburg, gesteel.

Volgens dr. Greg Mills, die eienaar, is die Formule 5000-motor die enigste van sy soort in die wêreld en duidelik herkenbaar. Dit skep die vermoede dat die motor moontlik gesteel is om as skrootmetaal verkoop te word.

Mills het Woensdag aan Maroela Media gesê die motor was op ʼn sleepwa in die oprit van die huis agter ʼn geslote hek. Die diewe het die hek oopgebreek en is met die motor en die sleepwa weg. “Ek het geen idee wat hulle beplan om met die motor te doen en of hulle eintlik die sleepwa wou gehad het nie. Ek weet nie,” het Mills gesê.

Op ʼn vraag wat die motor werd is, het Mills gesê daar kan nie eintlik ʼn prys op die voertuig gesit word nie, aangesien dit die enigste van sy soort is. “Beslis honderde duisende rande,” het hy gesê. Volgens ander mediaberigte is die motor tot sowat R1 miljoen werd.

Hy het gesê polisiebeamptes was reeds op die toneel toe hy gistermiddag tuis gekom het.

Die motor is donker blou en oranje. ʼn Saak van motordiefstal word deur die polisie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.