Pepper toe die sondaar ná verloofring verdwyn

Liz en Pepper (Foto: Verskaf)

Sy het nié gejok toe sy vir haar verloofde gesê het die hond het haar verloofring “geëet” nie.

Liz Vendel van Pretoria was in trane toe sy haar verloofde, Grant Wood, sowat tien dae gelede moes bel om die nuus mee te deel dat haar verloofring skoonveld verdwyn het. Néé, sy het nie die ring verlê nie. Die paartjie se vier maande oue pointer het haar ring ingesluk.

Vendel vertel aan Maroela Media dat sy die betrokke Vrydagoggend oudergewoonte haar ring afgehaal het om te gaan stort. Soos die noodlot dit wou hê, het sy dié oggend nie haar ring, soos sy gewoonlik doen, terug in sy boksie gesit nie, maar op die bedkassie.

“Ons het net ʼn paar dae vantevore vir mekaar gesê ons moet eerder nie goed in Pepper se bereik sit nie omdat sy ál groter begin word en dit later sal kan bykom,” vertel sy nou.

Vendel vertel dat sy uit die stort geklim en Pepper in die kamer hoor skarrel het. Sy het om die hoek geloer en Pepper bo-op die bedkassie sien staan. Pepper het afgespring en dit is tóé dat sy nie meer die diamantring op die bedkassie kon sien lê nie.

Pepper in die dierehospitaal. (Foto: Facebook)

Sy het aanvanklik gedink dat Pepper miskien net die ring van die bedkassie afgestamp het. Eers nadat sy die bedkassie weggeskuif en onder die bed geloer het, het sy besef dat Pepper moontlik die ring ingesluk het.

“Ek het paniekerig geraak. Ek het gedink as ek dié ring verloor, gaan ek in groot moeilikheid wees.”

Vendel het Wood in trane gebel. Hy was in dié stadium by die werk en het eers gedink Pepper het iets oorgekom. Tot Vendel se verbasing was haar verloofde baie kalm toe hy van die ring in Pepper se maag hoor. “Hy het gesê dis oukei, die ring sal wel uitkom,” lag sy nou.

Wood het voorgestel dat sy die veearts bel wanneer sy by die werk kom. Die veearts het Vendel gemaan om Pepper eerder na sy spreekkamer te bring aangesien sy ʼn jong hondjie is en die ring ʼn obstruksie in haar derms kan veroorsaak.

Só is Vendel en Pepper (én die ring) veearts toe – tot groot vermaak van die personeel by die dierekliniek.

Die ring wat Pepper ingesluk het. (Foto: Facebook)

“ʼn Verpleegster het Pepper agtertoe gevat vir X-strale en ek het voor in die spreekkamer gewag. Ek het net begin bekommerd raak, toe stap die verpleegster sowat ʼn halfuur later met my ring in!”

Vendel verduidelik dat die ring nog in Pepper se magie was aangesien sy dit net sowat ʼn uur vantevore ingesluk het. Sy kon dit dus vinnig opbring nadat die veearts haar medikasie ingegee het wat haar sou naar maak.

Die personeel was gaaf genoeg om die ring skoon te maak waarna ʼn lomerige Pepper en Vendel, ring aan die vinger, kort daarna huiswaarts kon keer.

“Ek was glad nie kwaad vir Pepper nie. Ek is net bly sy is orraait.” Vendel en Wood beplan om later vanjaar af te haak.

Dierehospitaal

Die ring kan op die X-strale duidelik in Pepper se magie gesien word. (Foto: Facebook)

Sosiale media is gaande oor Pepper se storie nadat die Valley Farm Animal Hospital in Faerie Glen foto’s van arme Pepper se noue ontkoming op Facebook gedeel het.

“My naam is Pepper. Lyk ek bietjie naar? Dis omdat die veearts so pas vir my iets ingegee het om op te bring! Nie omdat die veearts ʼn slegte mens is nie, maar omdat ek my ma se verloofring ingesluk het!” het die dierehospitaal grappenderwys by ’n foto van haar X-strale geskryf.

“Moenie vrae vra nie. Dit het in daardie stadium soos ʼn goeie idee geklink!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sandra ·

Ja toemaar ek weet van honde (my Olive) wat niks kan uitlos nie. As ons soggens vertrek vir werk, moet ek seker maak dat daar absoluut niks is wat sy in die hand kan kry nie. Glo my ek het al seker 10 paar skoene verloor. Party goedkoop ander duurder.

Tokkel ·

Wat ‘n oulike storie! En Pepper sit asof hy NIKS verkeerd gedoen het nie…Bly julle het die ring gekry!

Maritha ·

Oulike storie, alhoewel benoud, maar toe met n baie gelukkige einde. Bly vir julle. Mooi wense vir julle troue later.

Leon ·

Meisie, Pepper probeer vir jou iets sê. Ek dink nie hy dink julle moet afhaak nie.

Boertjie ·

Klink soos ‘n brakkie wat ek as kind gehad het. Sussies se skoolkouse was nooit veilig nie. Hy het hulle ge”recycle”.

TRP ·

Hoe flippen oulik, MAL oor die “naar” foto.

Wat ‘n storie om eendag vir die kleinkinders te vertel.

antieke antie ·

my verloofring het jare terug ook so onder verdagte omstandighede verdwyn maar is nooit opgespoor nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.