Pepuda-wetgewing kan gelowiges vervolg

(Foto: pixabay)

Begrond, die Instituut vir Christelike Grondslagstudies MSW, doen ʼn beroep op Christen-gelowiges om die voorgestelde wysiging van die Gelykheidswet teen te staan.

Hierdie wet, soos dit tans lui, word reeds as ʼn gevaar vir geloofsvryheid beskou. Die nuwe wysigings van die Gelykheidswet bedreig egter die reg op vryheid van spraak en het radikale implikasies vir vryheid van geloof vir individue sowel as geloofsinstansies.

“Die nuwe voorgestelde Pepuda-wetswysiging wil ten diepste vir Christene voorskryf om dit wat hulle nog altyd as die waarheid gesien en gesê het, te verander,” verduidelik dr. Wikus Buys, uitvoerende direkteur van Begrond. “’n Nuwe onderstebo-tipe waarheid word nou voorgehou. Christus word nie meer as die enigste waarheid gestel nie, maar die mensdom se eie sienings mag nou alleen die waarheid genoem word. Ons kan dit nie toelaat nie.”

Dit is moontlik om tot 30 Junie openbare kommentaar te lewer op die Wysigingswetsontwerp op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, oftewel Pepuda (“Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Amendment Bill”).

Die drukgroep wat die geloofsvryheid beskerm en uitbou, For SA (Freedom of Religion South Africa), het ʼn webblad gestig waar die publiek maklik hul stem kan laat hoor saam met duisende gelowige Suid-Afrikaners. Begrond ondersteun dié inisiatief en moedig gelowiges en geloofsinstansies aan om voorleggings oor die wetsontwerp te maak op die “dearSA”-platform: https://dearsouthafrica.co.za/equality/

Volgens die Grondwet (waarop die huidige Gelykheidswet gebaseer is) het elke individu tans die reg tot vryheid van geloof.

“As Christene het ons die voorreg om altyd te bly glo wat reg is, dit uit te leef soos ons wil en in ons sosiale kringe, werk, skool of kerk uitsprake daarvolgens te maak. Maar, indien die beoogde wetsontwerp goedgekeur sou word, sal dit onwettig wees om jou gedagtes oor godsdiens só te deel,” voeg Buys by. “Want indien enigiemand aanstoot sou neem deur ʼn uitspraak wat gemaak word, kan hulle ʼn klag van haatspraak of diskriminasie lê teen die persoon sowel as die instansie waaraan die persoon verbonde is, en selfs teen die persoon wat die uitspraak gemaak het se werkgewer.”

Die wetsontwerp bepaal dat die aangeklaagde reeds skuldig bevind gaan word, en dit gaan vir die aangeklaagde bykans onmoontlik wees om hom- of haarself op grond van geloofsoortuiging te kan verdedig.

“By implikasie sal ons sal dus nie meer saam met ander gelowiges ons geloof openlik kan uitleef of selfs preek of evangeliseer sonder die moontlikheid van vervolging nie. Dit sal geloofsmonde toemaak uit vrees en geloofsvryheid aan bande lê.”

Begrond het hoofsaaklik drie besware oor die voorgestelde wysigingswetsontwerp:

  1. Die nuwe Pepuda-wetgewing is weereens ’n bewys van die huidige ANC-regering se oormoedige arrogansie om die hele burgerlike samelewing te wil beheer en reguleer. As Christene maak ons sterk beswaar teen hierdie grensoorskreiding. Volgens die Bybel het die Here vir die owerheid ’n bepaalde doel en opdrag gegee. Hulle staan in God se diens daarmee en moet hulle daarmee besig hou. Die owerheid moet sy plek ken en ophou om vryheid van aanbidding en vryheid van spraak te probeer nasionaliseer.
  2. Die nuwe Pepuda-wetgewing sal ’n klein groepie radikale ateïstiese aktiviste van ’n magsinstument voorsien om die samelewing na hulle eie beeld te probeer skep. As Christene sal ons dit teenstaan, want in die vryheid van Christus het ons die plig om die waarheid te praat. Ons glo dat die waarheid in liefde gepraat moet word. As Christene vir die wêreld sê wat God sê is die waarheid, dan is dit juis liefde.
  3. Die nuwe Pepuda-wetgewing is ’n poging om die hele samelewing op ’n sekulêre en onchristelike beskouing te wil vestig. As Christene het ons die roeping om ons stem hieroor te laat hoor. Slegs deur die Evangelie van Christus kan ʼn mens waarlik vry wees – ook in die samelewing.

Buys pleit: “Elke individu en geloofsinstelling moet optree en hulle stem hierby voeg. Dit het die potensiaal om ʼn groot gesamentlike verskil te maak vir ons kinders en kleinkinders.

  • Begrond wil as ʼn Christelike Navorsingsinstituut daarop fokus om deur die ontginning van Bybelse denke riglyne te bied om die samelewing op ʼn Christelike fondament uit te bou en te versterk, en wil die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Frank ·

Sjoe, dit wat die Here in Sy Woord belowe wat in die eindtye sal gebeur, gebeur so die een na die ander!
Ons moet sterk staan, my broers en susters in Christus!!! Oë na bo!!!

Werner ·

Jy sal net vervolg word as jy toelaat dat jy vervolg word.

Grens ·

Jy is reg Werner, as jy nie ‘n Christen is, kan jy dalk kies om nie vervolg te word nie, maar selfs Jesus het gese dat ons as Christene vervolg sal word.

Objektief ·

Beskoudit saam met die Grondonteienings wet en die vuurwapen wet en wat se dit vir jou?

Snowball ·

Totalitêre beleid – noem dit kommunisme of fasisme. Tipies van ‘n een-party onderdrukkende regering wat alles – oorheersend en voorskriftelik wil wees. Diktatorskap onder die dekmantel van demokrasie.

Friedrich ·

Vraag is ook, hoeveel van die mense wat kommentaar lewer het in die laaste verkiesing gestem, dat die ANC aan bewind bly?

Elize ·

Beslis nie ek nie al is dit die laaste party wat ooit bestaan!

Persheks Adri ·

Hulle probeer nou wragtag alles! Ek sê nogals lank terug vir my man en kind: Hulle kan alles probeer vat behalwe ons geloof en kyk nou… Het ons nie regte nie?

Pieter ·

Wat reg is sal verkeerd wees. Wat verkeerd is sal Reg wees.

Gert ·

Reguit op pad na die Russiese kommunistiese beskouing dat daar geen God is nie en dat dit dus onwettig is en jy tronk toe kan gaan vir jou geloofs oortuiging

annie ·

Die pandemie word aangegryp vir die bevordering van misdrywe vanaf die regering tot op grondvlak. Dis was reeds duidelik dat die ANC geen respek vir die Christelike geloof het met grootse begrafnisse en mensbewondering op Sondae nie. Voorvaders en misdrywe word nou tot helde/-dade verdraai en verkondig. Die Bybel is bloot bysaak en rol van bygeloof sterker. Die Bybel is vol waarskuwings oor die vervolging van Christene, maar ons bly glo dit gebeur net elders of was gewees… En nou? Die koring en die kaf gaan binnekort geskei word.

Tiptol ·

Ons geslag word weggeneem. Mag nie meer dames en here of seuns en dogters sê nie. Kleedkamers vir geslagte gaan weggeneem word. Die minderheid kry al die mag en die meerderheid moet net inval. Wat van die meerderheid se regte? Nou ons geloof ook?

KlipRSA ·

Ek wonder nogal of ander persone wat aan ander gelowe deelneem/glo ook vervolg gaan word. Ondere andere Moslems, Budhiste, Sangomas, die lys gaan aan……

Connie ·

Wow, government keeps trying to run every part of our lives. I believe in Gods law not governments. Government has proven itself to have no morals and now they want to impose their immoral beliefs on us.

ES ·

Hierdie gaan dan teen die vryheid van geloof soos in die Grondwet voorgestel. Hoekom word net die Christen-geloof geteiken?

Danie ·

Wat anders kan ons verwag. Ons Suid Afrikaners het ons rug op ons Lewendige God gedraai deur afgode dienaars as heersers bo ons aan te stel. Mense wat voorvader geeste aanroep en alles wat teen die woord van God is, die is die mense wat nou regeer en hierdie wette inbring. Ons kan nou maar bid soveel ons wil want dit gaan nie help nie tot ons die knie gaan buig en met opregte harte gaan vergifnis vra en belydenis doen. Dit gaan nie sommer gebeur nie want die meerderheid van ons se harte is verhard en dink ons is self n god om op ons eie staande te bly. Eers wanneer die dood ons vierkantig in die oe staar dan sal ons vinnig die Here se naam wil aanroep wat dan ook te laat gaan wees. Ons moet ons huise in orde kry met die Lewende God. Die God van Abraham, Isak en Jakob.

Eduan ·

Haha, ek merk vanoggend teenoor my ma op hoe naïef die liggelowige Suid-Afrikaanse massas in 1995 was toe die Springbokke – vandag presies 26 jaar gelede – die rugbywêreldbeker gewen het. Wel, Suid-Afrika, daar staan jou wêreldbeker, maar een van die dae het jy nóg grond nóg stem nóg die middele om jouself te beskerm. Lank lewe demokrasie! Nè?

Misky ·

Ek bid in Jesus se naam dat dit nie sal gebeur en ons godsdiens afgeneem word nie. Amen

Samuel ·

Wat hom tans uitspeel met die beoogde wysiging aan die PEPUDA wet, word tog reeds in die heilige Skrif vertel. Een wêreldgodsdiens-Chrislam- en ons kommunistiese regering speel in die hande van die Antichris. MM, hoeveel mense het al kommentaar gelewer oor ons kommunistiese regering?

Ek het my besware geopper op die webblad en is dankbaar vir daardie geleentheid.

Die Goodwoodianer ·

Ek glo vryheid van spraak en oortuiging is van kardinale belang, mits dit met respek gedoen word.

Ek is ñ Christen. Ek sal nie vir ander voorskryf wat hulle mag en nie mag doen nie. Ek sal wél my eie kinders die riglyne bied en leer tot die beste van my vermoë om sodoende toe te sien dat Christelike-waardes oor te oorgedra word aan die volgende geslag.

Maar moenie vir my sê ek mag nie in die openbaar praat oor my geloof nie. Daar trek ek die streep, ou pel. Want dán sal ek éérs my stem gebruik. In die winkel en in die straat. Ek sál dit doen.

So terloops, as hierdie sogenaamde wet in werking sou tree, is ek van sterk mening dat ek as Christen dan elke keer wanneer iemand die Here se Naam ydellik gebruik (in die publiek of op TV) ñ klag kan lê en dit móét dan aangespreek word. Ek háát dit wanneer mense dit sê. Ek gril in my binneste. Dit is vreeslik aanstootlik.

So kom. Bring jou belaglike wette. Ons sal dit teenwerk. Ek doen beroep op mede-inwoners van my dorp om saam te staan.

Neestemmer ·

Net wat mens van die kommunistiese ANC “regeringkie” kan verwag. Ek is glad die verbaas nie, dis net lankal tyd dat ons wakker word en die vuilgoed baie hewiger teenstaan en besef dat die vergryp van psigopate vir meer mag nooit ophou solank daar nie ordentlik weerstand is nie.

Anoniem ·

Genade maar die Kommuniste probeer nou regtig alles oorneem in ‘n oogwink. Dit is absoluut absurb!
Hul kan mos nie vryspraak hê en hul geloofsoortuigings uitleef en ons as Christene verbied nie.
Siek wêreld

Blikkies ·

Ek is ‘n Christen en Trots daarop, ek sal Sy naam Jesus Christus uitskree vir die wereld om te hoor. Ek geen nie om wat hierdie mal regering nog wil doen nie, maar my geloof is my geloof en ek sal hom uitleef soos ek wil. Klaar gepraat.

Riaan ·

Ons sal eers aan God en sy Woord gehoorsaam wees. Die Woord van God het die hoogste gesag en heers selfs oor heidene en kommuniste, of hulle dit erken, of nie. “Bring it on!”

Rian ·

Niemand kan aan jou voorskryf wat jy moet glo of dink nie. Niemand nie!

Nico ·

Dit is alreeds weg gevat by Blanke skole.
Hier volg wat Beria die Kommunis in 1953 gesê het:
“Degradation and conquest are companions. To be conquered, a nation must be degraded…degradation can be accomplished insidiously…. and effectively by consistent and continual defamation…. continued and constant degradation of national leaders, national institutions, national practices and national heroes must be systematically carried out.
“To create the necessary attitude of chaos, idleness and worthlessness and effectively kill the national pride and patriotism of just one generation…. we will have won that country…. therefore there must be continual propaganda…. to undermine the loyalty of citizens… by perverting the institution of a nation and bringing about a general degradation… a population can be brought psychologically to heel” Dit is waarmee hulle besig is.

Edwin ·

Mense, ja waar gaan dit eindig???? MAAR….. moet ons nie begin om ondersoek in te stel van hoekom kom die tipe dinge oor ons Christen volk nie??? Moet ons nie begin vra hoekom word ons gestraf nie? Wat doen ons verkeerd? Ja ons begin om polities na die probleem te kyk, maar is ons op die regte pad? Wat het ons as volk verkeerd gedoen? Vergeet ons nie om in eie besoem te kyk nie? Wat word in die Bybel geskryf oor ‘n Gelofte aan God??? Moet ons nie stil raak en daaroor nadink nie? Hoeveel petisies was opgetrek toe Geloftedag hernoem was? Niemand verhoed ons volk om nog dit te herdenk nie…… Maar doen ons dit? Hou ons as Christen volk ons by ons Gelofte aan God???

Herman ·

Eers grond/eiendom, aftree geld , dan ontwapening en nou jou reg om jou Godsdiens uit te leef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.