Perd gered ná hy vir dood langs pad gelos word

Deur Megan Gittins

Zulu soos hy langs die pad gevind is. (Foto: Facebook via @WetnoseARC)

ʼn Perd wat vir die dood langs ʼn grondpad oos van Pretoria gelos is, het nou hoop op ʼn nuwe lewe nadat hy deur diereliefhebbers van ʼn gewisse dood gered is.

ʼn Plaaslike inwoner van Cullinan het die tien jaar oue perd, nou gedoop Zulu, in die gras Dinsdag langs ʼn grondpad in die gebied aangetref. Oomblikke vantevore het dié inwoner gesien hoe iemand vir Zulu van ʼn sleepwa af trek, hom langs die pad los en wegjaag. Daar was volgens die inwoner nog ʼn perd agter op die sleepwa.

“Toe ons daar aangekom het, het dit gelyk asof Zulu dood is,” sê Veronica van Greunen, ʼn inspekteur van die Wetnose-dierereddingskuiling. Sy verduidelik dat Zulu gely het aan dehidrasie en algemene verwaarlosing. “Hy’t vlak asemgehaal en nie regtig gereageer nie, maar toe ons vir hom water gegee het, is dit asof hy ʼn tweede lewe gekry het,” verduidelik sy.

Zulu is dadelik na Wetnose se skuiling in Bronkhorstspruit geneem waar ʼn veearts onmiddellik begin het om hom te behandel. Ná ʼn goeie nagrus op ʼn sagte bed het Zulu egter steeds nie opgestaan of geëet nie.

Van Greunen verduidelik werknemers van Wetnose het ʼn spanpoging aangewend om hom op sy voete te kry en hom gemasseer om sy bloedsirkulasie te verbeter. Sy spiere was styf, so hy’t aanvanklik eers rondgewankel voordat hy sy voete gevind het, sê Van Greunen. Zulu wou dadelik ʼn draai loop en het sy dors verder geles met ʼn bietjie water.

Zulu by die Wetnose-dierereddingskuiling. (Foto: Facebook via @WetnoseARC)

Van Greunen sê Zulu het nog ʼn lang pad van herstel wat voorlê en is nog nie buite gevaar nie.

“Ons begin nou om sy wonde te behandel. Hy het ʼn oorinfeksie wat ons moet behandel en sy hoewe lyk baie sleg,” verduidelik sy. Om Zulu se sensitiewe hoewe te genees moet ʼn hoefsmid, ʼn persoon wat professioneel vir perdehoewe sorg, elke ses weke sy hoewe behandel.

Hoewel Zulu vandag op sy voete is, is hy steeds baie swak. “Sodra hy behoorlik kos inneem en gewig aansit, sal hy van sy krag terugkry,” sê Van Greunen.

“Ons het hoop – ons baklei vir hom.”

Die mense wat Zulu langs die pad gelos het, is egter nog nie gevind nie. Van Greunen het ʼn beroep op die publiek gedoen om enige inligting oor dié mense by Wetnose aan te meld sodat geregtigheid geskied. “Ons wil weet waar kom Zulu vandaan en waar die ander perd ook is. Die saak kan nie net daar gelos word nie,” sê Van Greunen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Santie ·

My hart breek elke liewe keer as ek oor die perd lees , hoe doen iemand dit , hoekom nie net die perd self na wetnose gevat nie as hul hom nie wou he nie.Zulu ons bid vir jou dat jy weer gesond word en n baie beter lewe kan he vol liefde en bederf.

toy ·

Wat ‘n klomp fantastiese mense wat vir Zulu gehelp het, ag dit maak my hart baie bly.
Hoe doen mens dit aan ‘n dier, was goed genoeg vir ‘n paar jaar nou word hy weggegooi. Sies vir die persoon wat dit gedoen het.

DA BO ·

Suid Afrikaners gooi babas op ashope weg, hoekom sal hulle respek he vir n perd

Oud Rhodie ·

Daar is etlike organisasies wat net soos Wetnose ongelooflike werk doen met die minimum hulpbronne. Diesulkes gee my nog moed vir hierdie droewige land. Ek doen `n beroep op ons lesers om hierdie instellings te ondersteun – op welke manier ook al. Wanneer jy jou maandelikse kruideniersware gaan koop byvoorbeeld – laai `n pak hondekos of iets dergliks in en gaan gee dit af. Dit SAL `n verskil maak. Dankie mense.

Lizelda ·

Dankie Oud Rhodie. Hoekom maak ons wat so lief is vir diere nie presies wat jy se en met wanneer jy kruideniers gaan koop, gooi n paar blikkies ekstra dierekos in vir n goeie doel? Uitkyk Silverton het so DBV mandjie waar ek elke maand n paar goedjies ingooi, maar ek voel dis te min. Jy het my aandag gekry.

DeVill ·

Ek stuur vir ou Zulu sommer ‘n bos wortels dat hy vinniger kan gesond word!!
Dankie vir die mense wat nog omgee, julle is ‘n lig in hierdie donker wereld!

Foxi ·

Dat n mens nou so wreed kan wees. Ek KOOK van kwaadgeit…….siek man!

Hartseer ·

Dankie tog dat daar mense is soos die engele van Wetnose! Baie, baie dankie! Ek sal julle altyd ondersteun.

Chantel ·

So mooi liefie lyfie. Spoedige herstel Zulu. Hoop die mense wat jou net langs die pad gelos het word gevind en word swaar gestraf.

Hennie ·

Ek hoop die persoon wat vir Zulu so mishandel het net kry die wind van voor tot hy die dag doodgaan! My magtag mens, wat ‘n verdomde skande! Baie bly Zulu is in baie goeie hande!

Talita ·

My hart is in stukke. Dank die Here dat iemand dit gesien het. Dankie Wetnose. Ek sal sorg dat julle vergoed word van my kant af. Ek bid vir al die diere in hierdie land, elke dag, die mishandeling en lyding wat hulle moet verduur…ek kan dit nie hanteer nie.

Celia Tjaden K ·

Halo Talita!
Ja- God het diere vir ons gegee en gese, heers. Dis sorg en liefde. Diere is so getrou, maar die mens!
Die wat dit nie doen nie gaan verantwoordelikheid moet doen- payday kom.

yolandi ·

EK stem hartseer, Die wetnose is so wonderlik ek doen ook al my diere se behandeling daar , ek sal hulle ook ondersteun so lank ek kan , want hulle stap altyd die ekstra myl en daar is net liefde ………en baie lekker koffie !!!!

Boskind ·

Meneer / Mevrou wat Zulu langs die pad gelos het, jou dag sal kom. Dalk nie op aarde nie maar jy sal eendag verantwoording moet doen!
Baie dankie aan Wetnose en al die personeel wat so hard werk onder moeilike omstandighede.

Boskind ·

@Maroela Media @Wetnose – Wat van ‘n sms nommer om sodoende R20 of R30 te skenk vir Zulu se versorgingskoste?

Margaret Ellmann ·

Julle is SUPER STERRE om so mooi na Zulu om te sien. Mag hy krag en die wil hê om saam te veg.

Diereliefhebber ·

Onthou net een ding : “God slaap nie.” Zulu jy is in my gebede. Mag jou swaarkry nou verby wees. En mag jy net liefde en bederf kry. Ek is jammer dat mense wat veronderstel is om mooi na jou te kyk, jou so vieslik behandel het. Ek haal my hoed af vir julle by Wetnose. Dankie julle. Ek gaan ook nou ‘n punt daarvan maak om hulle te ondersteun. Ons moet na ons diere kyk.

Helene ·

Baie dankie aan almal wat Zulu gered het! Die monsters wat hierdie wreedheid teenoor die perd gedoen het, jou dag sal kom.

Anita ·

dankie vir julle persone wie hierdie dier behandel, iemand moet die skuldige vind en die moet tronkstraf kry. Mense kan praat as dit nie goed gaan nie, diere kan nie, ek sit hier en huil!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.