Perd se manewales het gemeenskap op hol

Die foto van Pronk wat vroeg op sosiale media gedeel is. Foto: Verskaf

Die foto van Pronk wat vroeg op sosiale media gedeel is. Foto: Verskaf

Pronk, ʼn vierjarige hings, se liefde vir water het Donderdagoggend die Centurion-gemeenskap op hol gehad toe dit voorgekom het asof hy deur vloedwater vasgekeer word.

DA-raadslid Ina Strijdom het aan Maroela Media gesê sy is omstreeks 07:00 in kennis gestel dat ʼn perd by die Eldo Lakes Estate in Glen Lauriston, Centurion, penshoogte in vloedwater van die Hennopsrivier staan.

“Bekommerde motoriste wat van Wierdaweg gebruik gemaak het, het foto’s van die perd geneem en op sosiale media gelaai, en daar is vinnig hulp uit talle oorde ontbied,” het Strijdom gesê.

Pronk stap uit die vloedwater. Foto: Verskaf

Pronk stap uit die vloedwater. Foto: Verskaf

Strijdom kon nie self na die toneel gaan nie, maar het die landgoed se bestuurder, Adriaan Janse van Rensburg, en die stad se nooddienste in kennis gestel.

pronk 3

Pronk saam met ‘n nooddienswerker. Foto: Verskaf

Janse van Rensburg het aan Maroela Media gesê verskeie bekommerde mense het vir hom boodskappe gestuur dat die perd in die vloedwater staan. “Dit is egter geen vreemde ding vir Pronk om te doen nie,” het Van Rensburg gesê. “Pronk het in die afgekampte gebied van die landgoed grootgeword, so hy is baie vertroud met die omgewing.”

Van Rensburg skerts dat die perde wat daar aangehou word laf raak as dit reën. “Hulle rol in die waterplasse en speel en bokspring daarin. Hy was darem nie regtig in gevaar nie. Toe ons weer sien, was die polisie, brandweer, paramedici en die DBV daar om die perd te kom help red.”

Van Rensburg het gesê ʼn vrou wat daar naby woon, het die mak perd van die oewer af probeer roep, maar Pronk het hom eers nie aan haar gesteur nie. Van Rensburg het die perd se eienaar gebel en toe dié by die oewer kom en Pronk roep, het hy omstreeks 08:30 doodluiters uitgestap.

“Hy was nooit regtig in onmiddellike gevaar nie, maar hy is egter na die stalle geneem sodat hy nie weer in die vloedwater gaan speel nie, sou dit erger raak. Sodra die rivier weer gesak het, sal hy uitgelaat word,” het Van Rensburg gesê.

Strijdom het gesê Pronk is ʼn baie oulike perd en verskaf vir vele motoriste daagliks vermaak in die oggende as hy so heen en weer hardloop en pronk.

Van Rensburg het inwoners gerusgestel dat al die perde veilig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Theresa B ·

Alhoewel dit nie regtig ‘n noodsituasie was nie wil ek net darem dankie sê vir almal wat iets gedoen het om die perd te “red” van verdrinking. Awesome om te weet daar is darem nog baie mense wat omgee vir diere.

Hannelie ·

Ag dis so oulik. Bly om te sien daar is nog mense wat lief is vir diere.

Eric ·

Ek het so 35 Perce gehad end elkeen her sy die karakter gehad.Hulls gaan partymaal so diep in die water dat net hul koppe uitsteek.

Eric ·

Ek het so 35 Perde gehad end elkeen her sy die karakter gehad.Hulls gaan partymaal so diep in die water dat net hul koppe uitsteek.

Melt Olckers ·

Na hierdie bloedige hitte van die laaste tyd neem ek glad nie die perd kwalik nie.

Amanda Van Vuuren ·

11 Maart

Totally Priceless!!

Dankie elke persoon en instansie, julle rock!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.