Perd val op meisie (16)

Kyla Rouvoet. Foto: Facebook

Kyla Rouvoet (16), ʼn kunsruiter wat Saterdag na die Mediclinic Sandton gehaas is nadat haar perd op haar geval het, kan nie die voorval onthou nie.

Steven Rouvoet, Kyla se pa, het Maandag gesê dit gaan vandag baie beter met sy dogter. “Hulle het haar van die ventilator afgehaal en sy haal nou self asem. Sy is ook nie meer onder verdowing nie.”

Rouvoet het gesê Kyla sal vandag ʼn CT-skandering ondergaan, maar dit lyk voorlopig of sy nie breinskade opgedoen het nie. Kyla sal heel waarskynlik vandag uit die hoësorgeenheid geskuif word.

Daar sal ná die CT-skandering vasgestel kan word of Kyla dalk swelling of bloeding op die brein het, maar volgens Rouvoet is dokters positief dat sy geen skade sal oorhou nie. Rouvoet sê Kyla is wakker en praat met haar geliefdes. “Sy kan egter niks van die voorval onthou nie.”

Kyla en Mighty Star. Foto: Verskaf

Kyla, ʼn kunsruiter, sou Saterdag aan die Suid-Afrikaanse vereniging vir ruiterkunsskole (Sanesa) se dresseer-kompetisie by Eaton Farm naby Kyalami deelgeneem het.

Sy het reeds op haar perd, Mighty Star (9), se rug gesit toe hy geskrik en agteruit beweeg het. Hy het in die proses sy balans verloor en bo-op Kyla geval. Die perd is nie beseer nie.

Kyla is per helikopter na die Mediclinic Sandton geneem waar sy aan die ventilator gekoppel en onder verdowing gehou is.

Volgens Rouvoet is dit die eerste keer dat die Sanesa-kompetisie vir die Tshwane-distrik by Eaton Farm plaasgevind het. “Dit het so vinnig gebeur. Ek dink iemand het dalk verbygeloop en die perd het toe geskrik. Dit is die eerste keer dat die perde en ruiters daar was, so dit was ʼn nuwe omgewing.”

Die helikopter met die aankoms by die hospitaal. Foto: Facebook

Rouvoet het gesê sy dogter, ʼn gr. 11-leerder aan die Hoërskool Garsfontein, ry al van gr. 5 af perd en neem sedert dié jong ouderdom ook reeds aan kompetisies deel. “Sy is ʼn redelik kompeterende ruiter. Sy sou ook Sondag deelgeneem het.”

Die gesin woon in Pretoria en besit die Rocky View Stables.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Buitestander ·

Ja met ‘n dier kan mens nooit 100% seker wees wat hy op ‘n gegewe oomblik gaan aanvang nie.

Anoniem ·

Dankie tog. Die Vader het Sy beskermde hand oor jou gehad.
Sterkte en word gou gesond.

Jacobus ·

Sjoe. Dankbaar die prognose lyk positief. Ons bid haar beterskap en spoedige herstel toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.