Perde oor oorstroomde Oranjerivier gehelp

Van die perde is net betyds van oorstroomde eilande gered. (Foto: NSRI)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die afgelope week hul hande vol gehad nadat hulle in twee afsonderlike voorvalle gestrande perde oor ʼn oorstroomde Oranjerivier moes help.

In een van die gevalle moes die gestrande perde 600 m ver swem voordat hulle droë grond bereik het.

Hugo Foot, stasiebevelvoerder van die NSRI in Port Nolloth, sê sy span is Woensdag om 05:00 na die Oranjerivier naby Alexanderbaai ontbied om die Have a Heart-dierereddingskuiling en die Network for Animals-liefdadigheidsorganisasie by te staan om ʼn aantal wilde perde van ʼn waterdood te red.

Die NSRI het ʼn vaartuig ontbied, terwyl vier lede van die publiek vanaf Namibië se kant twee private bote gebruik het om die NSRI by te staan.

“Die perde was in groepe oor ʼn aantal kleiner eilande versprei nadat hulle aanvanklik skuiling van die water gesoek het,” sê Foot.

“Soos wat die eilande een vir een oorstroom het, was die perde genoop om na ander eilande te swem, wat veroorsaak het dat die perde oor ʼn groot gebied versprei was.”

Foot sê van die perde het reeds op eilande gestaan wat onder water was, terwyl een perd na bewering vasgemaak was sonder die moontlikheid om te ontsnap.

“Ons het daarin geslaag om die perde bymekaar te kry sodat hulle deur die water kon loop, wat reeds borshoogte was. By sommige dele moes die perde swem om die groter eilande te bereik,” sê hy.

“Ons het van eiland tot eiland gegaan en aangehou tot al die perde veilig was.”

Die NSRI en die span vrywilligers het altesaam 35 perde, waaronder drie vulletjies, na veiligheid toe gehelp.

Die reddingspoging het sowat ses uur geneem.

In ʼn afsonderlike voorval verlede week moes die einste span ook perde in die gebied gered het.

Foot sê die eienaar van ʼn paar perde het om 12:30 hulp ontbied nadat hy gesien het sy perde is op ʼn eiland op die Oranjerivier vasgekeer.

“NSRI-swemmers, die eienaar en bystanders het gehelp om die perde deur die sterk stroom te lei en daarin geslaag om al die perde na veiligheid te bring.”

Die afstand tussen een van die klein eilande waar die perde vasgekeer was en hoër grond was sowat 600 m.

Ander vee, beeste en perde was reeds op die groter eiland en buite gevaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

Baie bly dat hierdie perde nou veilig is. Goeie werk van mense wat nog omgee

Plaaskind ·

Baie bly die perde is nou veilig, die reddingsmanne se gesigte wys ook die vreugde in hulle harte oor die weldaad. Doen so voort!

Skappie ·

Baie dankie aan die wat die perde na ‘n veilige plek gehelp het. Een goeie storie om bietjie van te lees.

Sê maar net ·

Julle het goeie werk gedoen. Baie dankie aan al die betrokkenes. God seën julle xxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.