Perderuiter in geïnduseerde koma ná perd haar skop

Penelope Borelli (Foto: Facebook)

Die vrou (40) wat vandeesweek in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal gehaas is nadat ʼn perd haar in die gesig geskop het, is intussen in ʼn geïnduseerde koma geplaas.

Penelope Borelli, ʼn ervare perderuiter, het bloeding op die brein en verskeie frakture om haar wangbeen in die voorval opgedoen, het Ingrid Breugem, ʼn vriendin en Borelli se afrigter, Vrydag aan Maroela Media gesê.

Volgens Breugem wag dokters in hierdie stadium vir die swelling en bloeding op die brein om op te klaar voordat daar aan haar wang geopereer kan word.

Maroela Media het vroeër berig paramedici is Donderdag omstreeks 16:55 na ’n perdesentrum in Midrand ontbied waar hulle Borelli op die grond omring deur familielede aangetref het.

Breugem vertel dat Borelli reeds van die perd afgeklim het toe die voorval plaasgevind het.

“Sy was klaar geoefen en het reeds van die perd afgeklim en die perd gelei toe die perd skielik losgebreek het. Die perd het begin bokspring en uitgeskop. Perde doen dit as hulle agterkom hulle is vry, veral as dit etenstyd is vir hulle. Die perd het met die uitskop Penny getref. Dit was ʼn fratsongeluk,” het Breugem verduidelik.

Paramedici het Borelli op die toneel gestabiliseer voordat sy per lugambulans na ’n hospitaal gevlieg is vir verdere mediese behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rodger17 ·

Baie tragiese ongeluk!Hoop en bid sy sal ten volle herstel en sterkte vir die familie

Cherokee ·

Die perd het losgeruk en was jolig. Besef nie watter skade is gedoen. Miskien is daar mense wat net sê bid vir haar sonder om dit self te doen. Vra aan die Groot Geneesheer om haar weer heel te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.