Perfekte resep vir renosterwesies se formulemelk

‘n Renosterkalfie word as deel van die navorsingsprojek geweeg. (Foto: Universiteit Stellenbosch)

’n Nagraadse student in Veekundige Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) is besig om ʼn plaasvervanger vir regte renostermelk te ontwikkel wat so na as moontlik aan die oorspronklike is.

Die formulemelk sal dan gebruik word om renosterwesies of kalfies wat deur hul ma’s verwerp is, te voed. Dit word reeds by verskillende renosterskuilings getoets.

Dakota Guy se soektog na die perfekte formule vorm deel van haar MSc-studie in die Departement Veekundige Wetenskappe in die US se Fakulteit AgriWetenskappe.

Renosterwesies word gewoonlik gevoer met ʼn kommersiële perdemelkformule, of soms selfs met ʼn beesmelkvervanging.

“Dit is moeilik om te glo, maar perde en renosters is verwant, aangesien hulle in die verre verlede ʼn gedeelde familielid gehad het en daarom soortgelyke verteringstelsels het,” sê Guy, ʼn Kapenaar wat aan Rustenburg Hoër Meisieskool in Kaapstad gematrikuleer het.

Daar is reeds verskillende soorte perdemelkvervangings op die mark. Die fyn wit poeier word met water gemeng voor elke voeding. Maar dit kan ʼn duur storie raak om ʼn honger renosterkalfie se maag vol te hou.

Guy en die navorsers wat haar help het daarom begin werk aan die ontwikkeling van ’n plaasvervangerrenostermelk wat so na as moontlik aan die samestelling van die werklike melk van ʼn suidelike witrenoster is.

Die resep bevat bestanddele soos weipoeier, plantaardige vet, dekstrose, natriumkaseïnaat en Biosin. Die eindresultaat is ook ’n fyn wit poeier wat met water gemeng word – maar dit lyk reeds of dit meer kostedoeltreffend as die perdemelkvervanger is.

Guy vergelyk tans die gebruik daarvan met die perdemelkvervanger in terme van hoe goed die kalwers groei en hoe maklik dit vir hulle is om die melk te verteer. Die kalwers in haar proef word elke week geweeg.

“Dis beslis nie die maklikste ding om diere op een of ander manier te leer om op ’n skaal te klim en lank genoeg stil te staan sodat mens die geskikte mates en gewigte kan neem nie,” erken Guy.

“Dit kan baie moeilik en stresvol wees, veral met ouer of temperamentele kalwers.”

Renostermelkery nie so maklik

Die renosterkalfies tree by Dakota Guy, wat die navorsing doen, aan vir hulle melk. (Foto: Universiteit Stellenbosch)

’n Groot probleem was aanvanklik om genoeg renosterkoeimelk vir ontleding te verkry en dit het eindelik twee jaar geduur voor Guy genoeg monsters versamel het sodat dit goed genoeg gedoen kon word.

“Ek moes eers weet wat die presiese samestelling daarvan is, voordat ons kon begin werk aan ’n vervangingsresep,” sê sy.

Vir haar is dit ’n droomgeleentheid om elke dag met ’n bedreigde spesie te mag werk.

En hoewel dit een ding is om ʼn rustige koei te melk, is ʼn renostermelkery ʼn heel ander storie.

Guy sê daar is altyd ʼn bykomende vrees dat die melk van ʼn renosterkoei soveel stres kan veroorsaak dat sy haar kalf verwerp.

Guy en haar medewerkers het daarom alle moontlike geleenthede vir dié melkery aangegryp wanneer ’n renosterkoei met ’n kalfie verdoof is vir byvoorbeeld die afsny van die horing.

“Sulke tye moet die kalfie van die ma geskei word sodat jy met haar kan werk. Hierdie situasies kan gevaarlik wees, byvoorbeeld as die kalfie besluit om terug te keer terwyl die gekwalifiseerde personeel nog aan die werk is.”

Met die hulp van ander renosterskuilings in Suid-Afrika hoop Guy om nog meer kalwers betrokke te kry by haar navorsing.

“Die ideaal is dat ons 12 kalwers moet hê waarvan die helfte ʼn perdemelkvervanger ontvang, en die res die renostermelkvervanger.

“Te veel renosterkoeie met kalwers aan hul sy is in onlangse jare gestroop, terwyl ander koeie vrek aan natuurlike oorsake. Skuilings ontvang dikwels ook beseerde, siek of swak kalwers, of dié wat deur hul ma’s verwerp is of van hulle geskei is op een of ander tyd en nie weer herenig kan word nie,” sê Guy.

Vanaf Januarie tot die einde van Junie vanjaar is altesame 249 renosters reeds in Suid-Afrika gestroop. Talle van dié gestroopte koeie laat kalfies agter.

Die werk op die ontwikkeling van melkvervangers vir renosters pas in by soortgelyke projekte by die US wat fokus op makgemaakte spesies, soos koeikalwers en skaaplammers. Voedingsnavorsing oor wildspesies soos swartwitpense word ook gedoen.

“Daar lê nog ’n lang pad voor om die sukses van hierdie renoster-elkvervanger te bepaal. Ons weet dat die voordeel van hierdie navorsing vir die bewaring van dié bedreigde spesie kosbaar is,” sê Guy se studieleier, dr. Brink van Zyl van die US se Departement Veekundige Wetenskappe.

Pasgebore kalfies – wat tussen 60 en 80 kg weeg – drink agt tot 12 bottels melk per dag, aanvanklik elke twee tot drie uur. Hulle kan tussen 6 en 6,5 ℓ op ’n keer drink, terwyl die ouer kalfies meer as 20 ℓ per dag kan drink.

Die meeste begin teen hul derde maand vaste voer inneem, afhangend van wanneer hul tande uitkom. Hulle is egter teen naastenby 16 maande oud ten volle gespeen.

“Renosterkalwers huil soos babas wanneer hulle honger is,” verklap Guy.

En sonder hul ma’s is hul kans op oorlewing maar skraal. Guy sê renosterweeshuise oor Suid-Afrika heen speel dus ’n belangrike rol in die versorging van renosterkalfies.

Vir die afgelope twee jaar het sy by twee sulke renosterskuilings gewerk – eers by Little Rhino Orphanage in Noordwes en sedert laat verlede jaar by Rockwood Conservation naby Kimberley in die Noord-Kaap. Guy sê sy waardeer die ondersteuning wat sy ontvang van Rockwood se eienaar, Wicus Diedericks, en sy personeel.

Sy is ook dankbaar vir die ondersteuning wat sy ontvang van die US, Nandrea Health Products wat die formule vervaardig, Wildlife Nutrition Services, Little Rhino Orphanage, Rockwood Conservation, en die Care for Wild Rhino Sanctuary.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pablo

Vol punte en sterkte aan die jong wetenskaplike.

Chef

Goeie nuus :-)

Eiervrug

Ja, baie goeie nuus, want ongelukkig dink ek daar gaan meer benodig word vir kalfies wat wees gelaat word agv verdomde stropers as vir die wie se Ma’s hulle verwerp….

Barney

Hulle sal seker die navorsing in Zulu moet publisher omdat Afrikaans verban is en Engels koloniaal slawe taal is. Dis nou as hulle nie verban word van die gronde omdat hulle nie mediese Apartheid wil aanvaar met geforseerde inentings nie.

Samuel

Wonderlike navorsing. Hoop jy gaan suksesvol wees.