‘Perfekte storm’ het groot impak op motorbedryf

Argieffoto (Foto: Admiral_Lebioda/Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is verlede maand deur ’n “perfekte storm” getref en dit het ’n enorme impak op die motorbedryf gehad.

Dit sluit in die wêreldwye tekort aan halfgeleier-mikroskyfies, die kuberaanval op Transnet se hawens, die onluste in KwaZulu-Natal en dele van Gauteng én die herinstelling van die vlak 4‑inperking.

“Die uitwerking is nie tot Julie beperk nie en sal na alle waarskynlikheid vir ’n paar maande ’n deurlopende negatiewe uitwerking hê,” sê Mark Dommisse, voorsitter van die Nasionale Motorhandelaarsvereniging (Nada).

Ten spyte van die enorme uitdagings wat plaaslike vervaardigers en invoerders in die gesig staar, is daar steeds uitblinkers. Toyota is die sterkste handelsmerk met 8 320 plaaslike verkope en 3 775 uitvoere. Volkswagen is volgende aan die beurt met 5 078 plaaslike verkope en 3 269 uitvoere.

Hyundai neem die derde plek in vir plaaslike verkope met 2 698 eenhede, dan Ford met 2 360 plaaslike verkope en 4 308 uitvoere. Nissan sluit die top-5 af met 2 354 plaaslike verkope en 107 uitvoere. Die top-10 vir plaaslike verkope word afgerond deur: Suzuki (1 532), Haval (1 525), Renault (1 522), Kia (1 501) en uiteindelik Isuzu met 1 193 eenhede.

In die ligtehandelsvoertuigsegment, dit is bakkies minder as 3,5 ton, staan Toyota se Hilux kop en skouers bo die res uit met 2 836 verkope, dan die Ford Ranger (1 620) en Isuzu se D-Max in derde plek (932), net-net voor Nissan se splinternuwe Navara met 701 eenhede.

Passasiervoertuie is 16,01% af teenoor verlede maand, ligtehandelsvoertuie (<3 500 kg) is 8,4% af met 10 266 eenhede, mediumhandelsvoertuie (<16 000 kg) 14,7% minder met 587 eenhede en swaardiensvoertuie (>16 000 kg) 12,6% af met 1 521 eenhede.

Die druk waaronder die motorbedryf is, gaan ook geensins verlig word deur die rekordbrandstofpryse wat tans in plek is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Mieke ·

Haarfyn van vooraf beplan… Hierdie is maar net die begin….

Elize ·

So wanneer kom hulle vorendag met die skuldiges? Of weet hulle nie waar en hoe nie?

Pieter ·

Motor pryse is ook vir my buitenspoorig duur. Ek weet nie waar mense die geld kry vir nuwe motors nie. Ek het nog altyd net nuwe motors gekoop, maar soos dit nou aangaan, sal ek definitief nooit weer n nuwe motor kan bekostig nie.

Belinda ·

Sjoe so Hyundai is darm derde. Hul sou seker meer verkope gehad het as die nuwe Creta en Venue nie so lelik was nie! Daardie voorliggies lyk afgeskeep. Ek is n groot aanhanger van Hyundai maar sal graag nie daardie karre eers verniet wil he nie, maar smaak verskil… Ek is mal oor Kia en is nogals verbaas dat hulle so ver onder aan die lys le. Volkswagen & Toyota is net vir status. Maar ja daar is n hele paar mooi voertuie wat daardie mpye bekend gestel het. Wat het Ford met die Fiesta aangevang? dis glad nie meer n mooi voertuig nie.. Ek sal natuurlik daarvan hou om op te gradeer na die Suzuki Swift sport, die gele, dis darm maar n ou mooi windg*t karretjie…. Net n jammete in vandag se lewe is voertuie bietjie pricey.

andre ·

Kia en Suzuki het n groot probleem met handelsvoorraad.So ook Toyota met die Urban Cruiser.

Kathleen ·

Enige van Swifties is oulike windg@t karretjies , ek ry 1 en as ek sê Suzie kom ons vat die pad dan gesels sy saam ! praat van nippy !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.