‘Perlemoen-meesterbrein’ glo te onkundig oor belastingverklaring

Julian Brown (links), Eugene Victor en Brandon Turner. Foto: Raahil Sain/ANA

ʼn Man wat daarvan verdink word dat hy die meesterbrein is agter ʼn multimiljoen rand se perlemoen-sindikaat het Woensdag aan die hooggeregshof in Port Elizabeth gesê hy is nie goed genoeg opgevoed om te weet dat hy belasting moet verklaar aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens nie.

Julian Brown (32), wat hoërskool vroeg verlaat het, getuig tans in die saak waar hy vervolg word op verskeie aanklagte insluitend swendelary tussen Januarie 2015 en April 2016.

Brown word daarvan beskuldig dat hy aan die hoof van die sindikaat gestaan het saam met Eugene “Boesman” Victor en Brandon Turner, na bewering sy “regterhandmanne”.

Brown het aan die hof gesê tydens sy inhegtenisneming in Junie 2016 het hy van luukse voertuie gebruik gemaak, insluitend ʼn Golf 7, twee Ford Rangers en ʼn motorfiets, maar nie een van die voertuie was in sy naam geregistreer nie.

Hy het in daardie stadium ook ʼn eiendom in South End teen R12 000 per maand uitverhuur. Hy het gesê hy het tot R500 000 per maand verdien uit sy konstruksiemaatskappy J&B Construction. “Ek het nie belasting verklaar nie. Toe ek die skool verlaat het, het ek nie enige opvoeding oor belasting gehad nie,” het hy gesê.

Brown beweer hy het Shaun Schoeman as ʼn vennoot betrek wat veronderstel was om die BTW-registrasie moes hanteer. Brown het gesê Schoeman moes hom gelei het.

Staatsaanklaer Martin le Roux het egter daarop gewys dat die SAID met hofverrigtinge teen hom begin het om hom te dwing om ʼn leefstyloudit te doen. “Die feit is dat jy nie as ʼn belastingbetaler geregistreer was nie en jy moes ʼn prokureur gaan sien het om ʼn verduideliking te gee waar al dié welvaart vandaan kom,” het hy gesê.

Brown, wat uitgerekte verduidelikings gegee het in reaksie op eenvoudige vrae, is deur regter Mandela Makaula aangeraai om nie van die punt af te wyk nie.

Hy het ook beweer ʼn polisiespeurder, kapt. Nikki Erasmus, het ʼn vendetta teen hom en het ten doel gehad “om sy lewe hel te maak”. Hy voer aan die polisie het die verkeerde persoon in hegtenis geneem en die ware meesterbrein in die perlemoenonderneming is ene mnr. De Villiers wat “nooit sy hande vuilgemaak het nie”.

Hy het ook ontken dat enige van die artikel 204-getuies sy vriende was en het gesê talle persone het na hom toe gekom vir ʼn werk en hy was altyd bereid om mense te help. “Ek ken baie mense. Ek het meer as 5 000 vriende op Facebook.”

Hy het ook aan die hof gesê wanneer hy geld vir mense geleen het, het hy 30% rente gevra op die terugbetaling van die lenings.

Hy ontken ten sterkste dat hy enige kennis dra van perlemoenhandel en het gereeld daarna verwys as “snaakse besigheid” waarin meeste van sy personeellede betrokke geraak het.

ʼn Reeks vennote wat Brown na bewering gehelp het om die perlemoensindikaat op te bou, en self daardeur verryk is, het intussen in die hooggeregshof getuig. Artikel 204-getuie Edgar Clulow (26) het vroeër getuig hoe Brown hom by die bedrywighede betrek het. Clulow, wat meganiese en konstruksiewerk gedoen het, het aan die hof gesê hy het sy pa met opknappingswerk gehelp by Brown se ouma se huis en Brown het hom kort daarna gekontak. “Julian het my op my selfoon gekontak en ek het gedink hy gaan my vra om iets by sy ouma se huis te doen, maar hy het gevra dat ek hom by die Sasol-vulstasie in Sidwell moet ontmoet. Toe ek daar aankom het [Julian] gesê hy sal my bakkie vol petrol maak en het my gevra om perlemoen vir hom te gaan weeg in Schauderville.”

Clulow, ʼn pa van drie jong kinders, het gesê Brown het vir hom blou tjokkasakke en ʼn skaal gegee en hom aangesê om hom na ʼn huis te agtervolg in die noordelike dele van die stad. “Brown het op en af in ʼn straat gery om seker te maak dat die polisie nie daar naby was nie,” het Clulow verduidelik. Hy het gesê Brown het hom daarna opdrag gegee om die perlemoen na ʼn nabygeleë KFC te neem waar ʼn wit Golf die pakkie by hom sou oorneem.

Hy het ook getuig oor ander soortgelyke bedrywighede in Westering, Bluewater Bay en Forest Hill. Hy het gesê Turner was die bestuurder van die wit bakkie wat tydens die bedrywighede gebruik is.

Toe die staat Clulow se getuienis Woensdag aan Brown voorlê, het hy dit egter verwerp en beweer Clulow het vir hom gewerk op verskeie konstruksiepersele. “Meeste van die ouens wat werk kom vra het, was betrokke by hierdie snaakse besigheid. Ek het probeer om vir [Clulow] werk te gee om seker te maak hy kom weg van hierdie goed, maar dit was duidelik dat hy dit in sy privaat tyd doen,” het Brown gesê.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Wolkie ·

Ek moet saam stem, ek het skool klaar gemaak in n tegniese skool met oordentlike vakke, insluitende gewone wiskunde, en nerens was daar ooit vir ons verduidelik wat presies belasting is en hoe dit werk nie, moes maar self dit uitfigure..

Santjie ·

Flou verskoning…. jou “boekhouer” sou jou seker al van dag een af ingelig het

Adam ·

Die skool het jou ook nie geleer hoe om gras te sny of hartomleidings te doen nie en ek is redelik seker jy sal weet waarvoor ‘n grassnyer nodig is en waar jy dit kan kry en so ook ‘n hartchirurg. Die onsinnige gebrabbel is die snert waarna prokureurs elke dag van hulle lewe moet luister.

Elsa ·

Nie te onkundig om hulp te vra by n prokureur. Wie was die ouditeure vir die maatskappy? As jy n maatskappy stig, moet jy op die dokumente aandui wie die finansiele state gaan behartig. So moet nie jou vennoot die skuld gee nie

Santjie ·

Ook snaaks dat jy hom “weg van hierdie goed” wou kry en nou sit JY in die pekel oor “hierdie goed”

Rêrif ·

Do the crime, be prepared to do the time.
Hy was slim genoeg om duur karre te besit en ‘n R500,000.00 se besig te hê.
Oor die radio en tv, in die koerante en op sosiale media word daar heeltyd van sars gepraat, selfs by ‘n braai gaan iemand een of ander tyd kla oor inkomste belasting.
Dit beteken net vir my sy werknemers is almal saam skuldig in belasting ontduiking.
Sluit hulle toe vir belasting ontduiking en smokkel.

marous ·

Maar hy kon darem geld tel , en bakstene bestel , en koste berekening doen , en lyk my das knope maak.

IK ·

Tog het hy iewers geleer om rente te vra op uitgeleende geld (woekerrente?). Mens moet dit wat tussen die ore is ook korrek gebruik,

Naas Vermaak ·

Nee,, ek hou van hierdie ou…ons moet hom ondesteun. Hy het ‘n geldige punt. Hier’s baie meer mense in hierdie land wat onkundig is oor aanrandings, verkragtings en moord en korrupsie op hoogste vlakke….en omdat ons beskaafde mense is sal ons wag vir uitslae van die rye en rye van sake voor syne….gee hom R500 borgtog en laat hy aangaan met sy lewe….the Africa way!

Showahed ·

Ha ha… kry vir jou! Wat se konstruksie besigheid? Dom met taks maar slim met duik. Dis net perlemoen van dag een of tot nou…. Vir die mense wat hierdie ouens se bedrywigheid ken, sal weet waarvan ek praat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.