Perlemoensmokkelaars vas; miljoene se perlemoen op beslag gelê

Die smokkelaars is vanuit die lug, op water en op land geteiken (Foto: Verskaf)

Die Wes-Kaapse polisie het tydens ʼn gesamentlike operasie, waartydens hoofsaaklik op Dyer-eiland digby Gansbaai gefokus is, op perlemoen ter waarde van R5 miljoen beslag gelê.

Lede van die weermag, die departement van omgewingsake, bosbou en visserye, die Kaapse departement van natuurbewaring, verskeie polisie-eenhede en Bidvest Protea Coin  was deel van die multidissiplinêre operasie.

“Die smokkelaars is vanuit die lug, op water en op land geteiken,” sê kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie.

“Twee bote en twee voertuie, ʼn Mazda-dubbelkajuitbakkie en ’n sportnutsmotor, wat vooraf geïdentifiseer is as dié van die vermeende perlemoensmokkelaars, is op beslag gelê.”

Die polisie het op Eluzolweni en by Buffelsjagbaai naby Gansbaai op altesaam 5 122 stuks perlemoen en 576 ontskulpte perlemoen beslag gelê.

Tydens die gesamentlike operasie is daar op perlemoen ter waarde van R5 miljoen beslag gelê (Foto: Verskaf)

Drie verdagtes, onderskeidelik 23, 28 en 41 jaar oud, is in Eluzolweni in hegtenis geneem vir die onwettige besit van perlemoen en verbode toerusting, asook vir duik in ʼn beheerde gebied.

Nog ʼn 23-jarige verdagte is in Bloubaai vasgetrek omdat hy ook in ʼn beheerde gebied geduik het en vir die besit van verbode toerusting.

ʼn Vyfde verdagte (27) is in Buffelsjagbaai in hegtenis geneem vir die besit van 166 ontskulpte perlemoen en 18 heel perlemoen asook vir regsverydeling.

(Foto: Verskaf)

Die verdagtes sal na verwagting Donderdag in die landdroshof op Bredasdorp verskyn.

“Die verdagtes se betrokkenheid by georganiseerde misdaad sal deel uitmaak van ʼn groter ondersoek na perlemoensmokkelsindikate.”

Daar is ook oor die naweek verskeie vermeende perlemoensmokkelaars in die Overberg aangekeer. In Saldanhabaai is ’n verdagte deur die seegrenspatrollie-eenheid in hegtenis geneem nadat hy met ʼn boot probeer vlug het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sê maar net ·

Dis goed hulle is gevang….Ek sal graag wil weet wat die polisie nou met al daai perlemoen gaan doen?

Kokerboom ·

Hoop hul verkoop dit in die privaathandel en wend opbrengs aan vir polisiering en natuurbewaring

GP ·

Die gevangenisse in polsmoor eet die naweek lekker gebakte perlemoen

Snowball ·

Eloxulweni is die plakkerskamp by Pearly Beach vakansie oord, so 25km anderkant Gansbaai. Daar waar die stropers oop en bloot nie skroom om jou te verjaag as jy dit te naby aan hulle waag nie. Dit gaan al jare so, hoop hulle vang die hele netwerk wat daar stroop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.