Permanente lyding ná maasinplanting

(Argieffoto: hconc.org.au)

Die beoogde groepsgeding in Suid-Afrika teen verskeie farmaseutiese reuse oor die maasinplantings wat hier gedoen is, gaan oor meer as ʼn eis om skadevergoeding; dit is bevestiging vir tientalle vroue dat hulle nie alleen ly nie en dat die simptome wat hulle ondervind, ʼn werklikheid is.

In Suid-Afrika word die hofsaak deur RH Lawyers en Richard Spoor Ing. hanteer. Die vroue wil die groepsgeding voer teen die Deense mediese vervaardiger Colplast, die vervaardiger Nuangle, en Ethicon, ʼn filiaal van die Amerikaanse farmaseutiese reus Johnson & Johnson (J&J).

“Ek is verskriklik bly om te hoor van die groepsgeding, om te weet daar word iets daaraan gedoen,” sê *Sandra, ʼn 73-jarige vrou van Pretoria met wie Maroela Media gesels het. Sy het reeds die regsfirma genader om deel van die geding te wees.

Sandra het al drie operasies ondergaan in ʼn poging om die maas – of gedeeltes daarvan – te laat probeer verwyder, maar sonder sukses. “Die dokter sê dit is soos om kougom uit hare te probeer haal.”

Sy het in 2008 ʼn maasinplanting ondergaan nadat haar ginekoloog dit as ʼn oplossing vir inkontinensie aanbeveel het. Dinge het goed gegaan tot in 2012, toe sy skielik bloeding soortgelyk aan menstruasie begin ondervind het. Sy het gehoor die maas het geskeur en moes verwyder word en die eerste operasie het gevolg.

Ná ʼn paar jaar het die bloeding egter opnuut begin. Talle besoeke aan haar huisdokter, uroloog en ginekoloog het gevolg. Die uroloog het aangedui dat hy niks kon doen tot die bloeding nie stop nie en Sandra het weer twee operasies ondergaan om die ingegroeide maas te laat verwyder.

“Ek is 73 jaar oud. Ek koop doekies soos ʼn jong vrou. Ek het chroniese anemie. Ek gebruik ysterpille,” sê Sandra. “Ek bloei al jare lank van hierdie maas. Daar is pyn, ongemak.”

Die polipropileentoestel, bekend as ʼn transvaginale maas (TVM), is ontwerp om interne steun te bied om blaasinkontinensie en die verplasing van bekkenorgane – genaamd uitsakking – te behandel. Die pelviese maas is ʼn vel geweefde of netagtige materiaal wat ontwerp is sodat dit, nadat dit ingeplant is, die pasiënt se weefsel deur die poreuse maas groei en met die liggaam saamsmelt. Die inplanting is veronderstel om permanent te wees sodat dit voortgesette steun aan die verswakte of beskadigde weefsel kan gee.

Die polipropileen reageer egter op oksidatiewe degradasie wat veroorsaak dat die maas verhard en bros word en dan kraak.

Komplikasies hiervan vir duisende vroue wêreldwyd sluit in chroniese pyn, pynlike seksuele omgang en inkontinensie. Die maas kan in sommige gevalle ook deur die vaginale wand of interne weefsel steek en pyn in die bekken, rug en bene veroorsaak. Sommige van die nagevolge kan eers jare later na vore kom en dan dit is gewoonlik moeilik om te behandel.

Permanente pyn deel van hul lewe

Karla* het in 2007 ʼn maasinplanting ondergaan en nie lank daarna nie begin sukkel met permanente en erge blaasinfeksie. Sy moes herhaaldelik antibiotika gebruik, tot só ʼn mate dat dit deesdae weinig meer help.

Sowat drie jaar gelede is ʼn modulator ingeplant in ʼn poging om haar blaas beter te ledig sodat die infeksie kan verminder, maar dit was ook onsuksesvol.

“Ek het permanente infeksie en die dokters sê daar is eintlik niks wat hulle kan doen nie. Ek gaan van dokter tot dokter en niemand het antwoorde nie … dit is nou maar deel van my lewe.”

Dit het ook ʼn uitwerking op haar intieme huwelikslewe.

“Ek is kwaad en gefrustreerd en moedeloos,” sê die 55-jarige onderwyseres, wat ook hoop om deel van die groepsgeding te word.

Sy het gehoop om deel van die groepsgeding te wees, maar die dokter wat haar inplanting gedoen het, het sedertdien afgetree en sy kon tot dusver nie die rekords van die prosedure opspoor nie.

Emma* voel dieselfde en sê as meer inligting bekend gemaak word, kan ander mense dalk van ʼn soortgelyke ondervinding gespaar word.

Sy het sowat tien jaar gelede ʼn inplanting gekry wat daarna geweldige pyn en ongemak veroorsaak het. Sy het ʼn operasie ondergaan om die maas te verwyder nadat sy ook die een infeksie op die volgende gekry het.

“Ek destyds baie opgelees en besef dat heelwat mense met dieselfde probleem sit.”

Nog hofsake

In Suid-Afrika is die groepsgeding daarop gemik om vergoeding te eis vir vroue by wie toestelle ingeplant is en wat skade gely het omdat dit defektief was en daar is nou begin met ʼn aansoek vir die sertifisering van ʼn groepsgeding, die eerste stap in die proses.

In Australië het J&J in September ʼn skikking in twee Australiese groepsgedinge bereik nadat duisende vroue wêreldwyd ook komplikasies weens die gebruik van die maasprodukte aangemeld het. In dié saak is aangevoer J&J het versuim om die toestelle behoorlik te toets en dat hy die risiko’s daaraan verbonde aan dokters en pasiënte onderspeel het.

Soortgelyke groepsgedinge is ook in die VSA en Verenigde Koninkryk aanhangig gemaak.

Die Amerikaanse kos-en-medisyne-owerheid (FDA) het in April 2019 beveel dat die verkoop en verspreiding van alle vervaardigers van chirurgiese maas vir transvaginale herstel of uitsakking in die VSA opgeskort moet word.

Die FDA het bevind dat die vervaardigers, Boston Scientific en Coloplast, nie genoeg versekering van die veiligheid en doeltreffendheid van die toestelle kon gee nie. Dit is ʼn standaard waaraan voldoen moet word sedert die gebruik van transvaginale maas vir uitsakking tot ʼn hoërisiko-kategorie aangepas is.

Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte is gevra vir kommentaar oor die gebruik van maasprodukte in Suid-Afrika en dit sal bygewerk word wanneer dit ontvang word.

*Name is verander om die vroue se identiteit te beskerm.

Vir meer inligting oor die beoogde groepsgeding, besoek www.meshclassaction.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Adriaan ·

Johnson & Johnson (J&J), dieselfde maatskappy wat beweer het hulle inspuiting is “veilig en effektief”?

Spookasem ·

Anyone remember the cancer class action suit against J&J re their ‘baby powder’?

Miskruier ·

Bly maar eerder soos ons geskep is, ek is egter glad nie ongelukkig met die ablasie tegniek van J &J.

Susanna ·

Karla* moet dalk haar rekords probeer opspoor by die hospitaal waar prosedure gedoen is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.