‘Permitted Plundering’ boeiende opsomming van staatskapingsjare

Toe Jet Airways se huurvlug JAI 9900 op 30 April 2013 by die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria met ʼn groep bruilofgaste vir ʼn swierige Gupta-troue by Sun City geland het, het talle Suid-Afrikaners se monde oopgehang.

Die berugte landing was nie net hoogs onreëlmatig nie, maar ook die eerste keer dat die Gupta-familie se mag en invloed in Suid-Afrika so onbeskaamd ten toon gestel is, skryf Ilse Salzwedel in ʼn nuwe boek oor die omvang en uitwerking van staatskaping in Suid-Afrika.

Nog was het einde niet en Suid-Afrikaners moes hulle ook staal vir staatskaping by die SAUK en Denel, asook verdere staatskaping by Prasa, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) – die plundering van staatsbeheerde ondernemings in die Guptas se “inkopielys”, soos die boek, Permitted Plundering: How Parliament Failed South Africa, dit stel.

Permitted Plundering is ʼn boeiende opsomming van sommige van die opspraakwekkendste gebeurtenisse wat met staatskaping verband hou.

Dit is hoofsaaklik gegrond op die Organisation Undoing Tax Abuse (Outa) se 2017-verslag getiteld No room to hide: A President caught in the act, ʼn beëdigde verklaring wat verlede jaar by die Zondo-kommissie na staatskaping ingedien is, asook parlementêre notules wat bygehou word deur die Parliamentary Monitoring Group (PMG).

“My idee met die boek was eintlik om iets te skryf wat basies ʼn ‘State Capture Guide For Dummies’ is,” sê Salzwedel. “Mense wat die kwessies goed ken en verstaan, sal iets daaruit put, maar vir mense wat die klok gehoor lui het, maar nie heeltemal seker is waar die kerktoring is nie, is dit ʼn baie lekker oorsig oor staatskaping.”

Salzwedel, ʼn bekroonde skrywer wat die afgelope paar jaar by Outa betrokke is, sê sy hoop ook die boek kweek ʼn groter politieke bewustheid by mense om meer aktivisties oor kwessies soos staatskaping en korrupsie te raak.

Rudie Heyneke, Outa se staatskapingskenner, het ook belangrike insette gelewer. Heyneke was ook die man wat die sogenaamde #GuptaLeaks-e-posse vir die organisasie ontleed het. #GuptaLeaks verwys na ʼn menigte e-posse tussen die Guptas en hul meelopers wat in 2017 aan lede van die publiek uitgelek is. Hierin is hulle onder meer betrek by pogings om hul invloed te gebruik om ministers en die hoofde van staatsbeheerde ondernemings aan te stel.

Die uitlek van die e-posse was ʼn waterskeidingsoomblik en die begin van die ontknoping van ʼn ingewikkelde web van korrupsie.

Heyneke sê die e-posse was ʼn enorme databasis van inligting, maar dat die dieper waarde en werklike inligting geskuil het in die aangehegte dokumente. Hy bestempel die e-posse as ʼn “geskenk wat net aanhou gee”.

“Dit was ʼn kantelpunt en het vir ons enorm baie inligting gegee.”

Waarom presies staatskaping gewentel het, som Heyneke op in een woord: gierigheid.

“Dit was ʼn gehunker en ʼn gejaag na mag. En hoe meer geld ʼn mens het, hoe meer mag het jy. ʼn Mens kan dit duidelik sien aan die hoeveelheid geld wat die Guptas rondgestrooi het en wie hulle in hul web ingetrek het.”

Ilse Salzwedel is die skrywer. (Foto: Verskaf)

Die boek draai ook geen doekies om oor hoe die parlement jare lank weinig gedoen het om die plundering te keer nie.

LP’s wat aan die regerende party gehoorsaam gebly het, was volgens Salzwedel een van die grootste probleme. “Die ander probleem is dat die mense in die parlementêre komitees en sleutelposisies in die parlement dikwels oningelig is. Hulle ken nie die portefeulje nie, hulle berei nie voor vir vergaderings nie en is nie verskriklik betrokke nie.

“ʼn Mens kry dikwels die indruk, as jy na foto’s van parlementêre sittings kyk, dat hulle net daar is om die sitplek vol te maak en aanwesig gemerk te word, maar dat wat daar gesê word nie eintlik vreeslik belangrik is nie.”

Salzwedel sê opposisie-LP’s is boonop doodgeskreeu wanneer hulle vrae geopper het. En ondanks uitstekende wetgewing het die uitvoering daarvan agterweë gebly.

“Daar is sogenaamde oorsig, maar wat dan? Dit is asof dit ʼn hond is wat nie tande het nie; daar kan nie gebyt word nie, dis net ʼn geblaf,” sê Heyneke.

Uiteindelik is die boek ook ʼn oproep tot aksie. Salzwedel sê om in ʼn verkiesing te gaan stem is net die beginpunt, maar dat die verantwoordelikheid nie daar eindig nie. Sy moedig mense aan om meer aktivisties te raak oor kwessies wat hulle na aan die hart lê, by burgerregtegroepe aan te sluit en betrokke te raak.

“Ons moet een gesamentlike vyand hê en dit is korrupsie en die wanbestuur van ons land, want ons almal ly daaronder.”

Salzwedel en Heyneke glo geen kwessie is te groot of te klein om deur ʼn vasberade aktivis gepak te word nie en geen bydrae moet onderskat word nie.

“Die boek is om te wys dat daar baie mense is wat baie hard veg vir Suid-Afrika en dat die goeie mense in hierdie land nog steeds meer, slimmer en meer energiek is as die slegte mense.

“Die pendulum swaai altyd terug. Ek dink ons is nou by daardie punt. Vir jare was ons eintlik in vryval wat korrupsie betref en niemand het niks gedoen nie.

“Ons is nou omring van mense wat bereid is om op te staan en te sê ‘só kan dit nie aangaan nie’.”

Heyneke sê die algehele skade wat staatskaping aangerig het, sal waarskynlik nooit gekwantifiseer word nie, maar vir hom is die nalatenskap daarvan beter bewusmaking.

“Mense is baie meer bewus van wat om hulle aangaan – en hulle moet wees.”

  • Luister ook boaan hierdie berig na ʼn onderhoud met Ilse Salzwedel en Rudie Heyneke oor die boek Permitted Plundering.
  • Lees hier ʼn uittreksel uit Permitted Plundering: How Parliament Failed South Africa

“State capture takes flight: The Waterkloof landing”

Die blatante magsmisbruik rondom die Waterkloof-landing het soveel polemiek veroorsaak dat dit op 22 Mei 2013 gelei het tot ʼn parlementêre debat oor ʼn kwessie van openbare belang tydens ʼn sitting van die Nasionale Vergadering – die eerste so ʼn debat sedert die jaar 2000.

Selfs al was die verslag deur die sekuriteitsgroepering (onder leiding van die ministers van polisie, verdediging en staatsveiligheid) in daardie stadium al vrygestel, is dit nie in die parlement ter tafel gelê nie. Dus het al die lede van die parlement nog nie tydens die debat toegang tot die verslag gehad nie.

Die debat is aangevra deur die DA se destydse hoofsweep, Watty Watson. President Zuma was nie teenwoordig tydens die debat nie, iets waaroor Watson, aldus die Hansard, die volgende te sê gehad het: “Meneer die Speaker, die president se afwesigheid hier in die Huis [die parlement] is vandag ook baie opvallend. Dis baie soos die afwesigheid van sy leierskap – die soort leierskap wat daartoe gelei het dat amptenare geblameer word eerder as dat die Kabinet verantwoordelikheid aanvaar [vir die wederregtelike landing by Waterkloof].

“Die President is ons hoofbevelvoerder, maar hy vergeet dat die finale verantwoordelikheid by hom berus. Watter soort leier is dit? ʼn Leier wat moeilike vrae beantwoord deur te lag? ʼn Leier wat hooggeregshofbevele ignoreer dat hy die klankopnames openbaar moet maak wat geregtigheid in die wapenskandaal kan verseker? ʼn Leier wat meer as R200 miljoen op sy huis spandeer eerder as op die armes? ʼn Leier wie se naam lei tot bedenklike toegang tot ʼn lugmagbasis wat ʼn hele land in oneer gebring het?”

Tydens die debat het die DA se David Maynier, wat klagtes by die Openbare Beskermer [destyds nog Thuli Madonsela] ingedien het oor die Waterkloof-landing, daarop gewys: “Die president het nie gehuiwer om sy hegte verhouding met die Guptas ten toon te stel nie – hier reg onder ons neuse, in die parlement. Dit som wat die President graag sê – ‘where the problem comes’ – nogal netjies op. Want die kernoorsaak van die probleem, wat tot Guptagate [die landing] gelei het, is President Jacob Zuma. Hy is verantwoordelik vir die kultuur van onbehoorlike invloed waarna verwys word in die verslag oor die ondersoek. Dis hoekom die president vandag hier moes gewees het, om verslag te doen aan die Parlement eerder as om vir ons weg te kruip in die Uniegebou.”

Maynier se opmerking oor Zuma se ten toon stel van sy verhouding met die Guptas “reg onder ons neuse” verwys na Ajay Gupta se teenwoordigheid by die President se staatsrede op 14 Februarie 2013. Gupta was Zuma se persoonlike gas en het selfs daardie aand in die presidensiële “losie” gesit.

Die feit dat een van die Guptas juis daardie aand in die Parlement was, is nog meer ironies as mens in ag neem dat Zuma juis toe spesifiek in sy toespraak verwys het na sy administrasie se fokus op die geveg teen korrupsie: “Verlede jaar is R150 miljoen van die rekening vir strafregtelike bateherwinning goedgekeur vir die werk van die teen-korrupsie-taakspan wat bestaan uit die Valke, die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Hierdie hulpbronne is daarop gemik om die kapasiteit van hierdie wetstoepassingseenhede te versterk in ons strewe om korrupsie te beveg. Ons doen ʼn ernstige beroep op die private sektor om hierdie geveg teen korrupsie ernstig op te neem dat ons dit uit alle oorde kan takel.”

  • Permitted Plundering: How Parliament Failed South Africa deur Ilse Salzwedel, is moontlik gemaak danksy die Konrad Adenauer-stigting (KAS). Dis verkrygbaar by die meeste goeie boekwinkels, op www.outa.co.za en kan ook bestel word by www.graffitiboeke.co.za (aflewering wêreldwyd).

Wen

Een gelukkige leser kan ʼn eksemplaar van Permitted Plundering: How Parliament Failed South Africa wen. Om in aanmerking te kom, vul jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan die artikel in.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit 3 Januarie 2021 om 23:45.
  • Slegs lesers met ‘n Suid-Afrikaanse afleweringsadres mag deelneem.
  • Wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind waarna die wenners deur Maroela Media ingelig sal word.
  • Sodra die wenner gereageer het, sal die naam op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die prys kan nie vir kontant omgeruil word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Shakespeare ·

Geen nuus nie. RSA is in die hande van hordes ongeletterde, onbevoegde, korrupte amptenare van die “teaboy” tot Ministersvlak. Die gepeupel is in beheer soos die met die Franse Renaissance. The ship has sunk !!

anniekiewiet ·

Die gepeupel het nog nie teen hulle regering en selfsugtige, gierige heersers, wat die armes niks gun nie, in opstand gekom nie.

annie ·

Daar is nou so baie boeke om te lees… En binnekort is Zuma se tweede boek, Me, myself and I in jail, not if I can help it, op die winkelrakke. Of met die titel, Zuma’s loneliest Christmas in jail (1).

Katrynjie ·

Sal interessante leesstof wees – ons kan nóg n paar skokke kry – nie dat enigiets ons seker meer kán skok nie!! Sad but true.

Pietertjie ·

Staatskaping is nog steeds aan die gang, Guptas & all. Hulle opereer nou net vanuit die buiteland, deur agente. Dis hoekom daar so teenkanting is teen optrede binne Eskom, en hoekom verklikkers summier vermoor word. Gaan die boek gereeld opgedateer word?

Jacobus ·

Niks snaaks nie. As ‘n amptenaar vasgetrek word diefstal is sy hele kantoor die volgende dag in die hof.

Jack ·

As die regeringsowerhede regtig teen korrupsie sou optree, dan is daar eenvoudig nie genoeg plek in die tronke vir al die skuldiges nie. ramaposa is nie werklik lus om teen korrupsie op te tree nie. As hy dit sou doen sal die ANC skeur en hy sal self aan die pen ry op een of ander manier. Die beste wat hy kan doen is om die indruk te skep dat hy gaan optree, maar dan nie die mense en die hulpbronne beskikbaar stel om uitvoering daaraan te gee nie. Dis wat ons tans sien afspeel. Dink maar Hermione Cronje.

Jack ·

Natuurlik het die anc geweet hiervan want hulle het direk voordeel getrek uit die stropery. Ramkat het geweet maar was vasgevang in die tentakels van anc eerste dan die land.

Michael ·

Eendag sal mense,wel te laat, besef dat Zuma ‘n blote pion en sondebok was vir alles. Die eintlike persone agter alles is die magtige wit ryk sakemanne in SA en in die buiteland en dat Ramaphosa al vir jare voorberei word om SA die new dawn in te neem. Die proses verloop wonderlik want almal se aandag is op Zuma terwyl Ramaphosa gebruik word om SA te verslaaf. Mense moet wakker word

Jan ·

Ja, tegnies gesproke is dit die Parlement wat ons gefaal het, maar noem dit maar op sy naam, dit is die ANC Regering wat ons gefaal het. Wat het ons anders verwag. Kleptokrasie op sy beste. Dit sal nie weggaan nie totdat ons die “BEAST” vernietig het nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.