Persombud bevind téén publikasie ná OB kla

(Skermgreep: Daily Maverick)

Die persombudsman het beslis Daily Maverick moet die kantoor van die Openbare Beskermer (OB) die reg op kommentaar gee ná ʼn suksesvolle klagte oor die publikasie van ʼn snydende meningstuk oor adv. Busisiwe Mkhwebane.

Oupa Segalwe, OB-woordvoerder, het die klagte by die Persraad ingedien oor die verslaggewer Stephen Grootes se meningstuk getiteld “Busisiwe Mkhwebane: How to ruin a Chapter 9 institution in 28 months”. Die artikel is in Maart verlede jaar gepubliseer.

Segalwe het aangevoer hy is die reg ontneem om kommentaar te lewer toe die publikasie sy versoek daarvoor van die hand gewys het. Kommentaarstukke word in die Perskode beskerm, maar daar is duidelike bepalings daaraan verbonde.

Segalwe het dít aanvaar, maar het aangevoer dat Daily Maverick die “onderwerp van kritiese verslaggewing” – in dié geval Mkhwebane – die reg op kommentaar of reaksie moet toelaat. In sy klagte sê Segalwe dit is boonop nie die eerste keer dat Daily Maverick sy versoek om kommentaar van die hand wys nie.

Volgens persombudsman Pippa Green is Grootes ʼn ervare aanbieder en kommentator en het hy uit die aard van sy werk beduidende invloed. Sou hy dus ʼn artikel skryf wat ʼn ampsdraer kritiseer, is dit billik dat daardie party sou vra vir die reg om op die bewerings te antwoord.

Green het gesê kommentaar word beskerm solank daar billike inagneming van die wesenlike feite was, of dit nou waar of billikerwys waar is”.

“Ek bevind Daily Maverick het dié artikel oortree.”

Sy het beveel dat Segalwe die geleentheid moet kry om feite aan lesers te stel wat hy meen oor die hoof gesien, of wanvoorgestel is. Sy kommentaar moet egter eers deur die ombudsman goedgekeur word om te verseker dit voldoen aan die etiese standaard van die Persraad.

Mkhwebane het die uitspraak verwelkom.

Sy het gesê die media is een van haar kantoor se sleutelvennote en help die OB om alle Suid-Afrikaners te bereik. Volgens haar word die grooste getal klagtes boonop aanhangig gemaak ná mediaberigte oor onregte in staatsdepartemente.

“Ons behoort saam te werk in ʼn vennootskap wat goeie regering verseker. Dit beteken nie ek of my kantoor moet beskerm word teen noukeurige ondersoek deur die media nie, maar enige só ʼn ondersoek van myself of die kantoor van die OB moet onafhanklik, waar en billik wees en moenie enige onnodige skade aanrig nie,” het Mkhwebane gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nel ·

Ja -nee ek slaan ook my oge op na die berge en wonder wanneer die Busisiwe-saga tog nou einde gaan kry. Sy klou soos ‘n neut aan ‘n wolkombers.

JP ·

My tante het ook haar oë so na bowe geslaan wanneer sy heerlik staan en lieg

skurweberg ·

Gesigsuitdrukkings verteenwoordig ‘n bepaalde emosie. As jy hartseer of verbaas of geskok is oor iets, kan jy sonder woorde dit aan die buite wereld kommunikeer. Die kenners moet maar help om hierdie gesigsuitdrukking te ontleed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.