Persombudsman sê oor HuffPost-blog

HuffPost SA

Huffington Post SA (Foto: Facebook/HuffPost SA)

Die persombudsman het Saterdag uitspraak gelewer nadat The Huffington Post SA by die organisasie verkla is oor die publikasie en verdediging van ’n artikel genaamd “Could it be time to deny white men the franchise?”

Die redakteur Verashni Pillay is ook aangekla in dieselfde klag wat deur AfriForum aanhangig gemaak is.

In die artikel word aangevoer dat wit mans hul stemreg vir 20 tot 30 jaar ontneem word ten einde wanbalanse reg te stel. Die artikel is wêreldwyd gekritiseer, waarna Pillay nie net The Huffington Post se besluit om die artikel te publiseer nie, maar ook die inhoud daarvan verdedig het.

AfriForum het ’n beroep op die persombudsman gedoen om te verklaar dat die artikel, die publikasie daarvan en spesifiek ook die verdediging daarvan deur The Huffington Post SA as ’n oortreding van The Huffington Post se eie regulasies, die perskode en die Grondwet verklaar word.

Die persombudsman het bevind dat die inhoud van die blog op diskriminasie en haatspraak neerkom. “Die teks wat op The Huffington Post gepubliseer is, was diskriminerend en afbrekend en kom neer op haatspraak. Dit is ʼn oortreding van die etiekkode van Suid-Afrika,” het die persombudsman in sy uitspraak gesê.

Die persombudsman het bevind dat dit nie in openbare belang was om die inligting te publiseer nie en dat die media diskriminerende en afbrekende verwysings na onder andere mense se ras, geslag, etniese of sosiale oorsprong, kleur, seksuele oriëntasie of ouderdom moet vermy. Die blog oortree ook die regulasie dat die media nie enige materiaal mag publiseer wat as propaganda vir oorlog of aanhitsing van dreigende geweld beskou kan word nie.

Die persombudsman het ook bevind dat The Huffington Post SA ook nie voldoen het aan die gedragskode “om geloofwaardigheid en die vertroue van die publiek te behou” nie, deur nie die identiteit van die outeur, te identifiseer nie, en omdat sommige inligting in die blog onwaar was.

Artikel 8 van die klagteprosedures onderskei tussen geringe oortredings (vlak 1), ernstige oortredings (vlak 2) en ernstige wangedrag (vlak 3). Volgens die persombudsman is al die oortredings, soos genoem, vlak 3-oortredings.

Die Huffington Post moet gevolglik onvoorwaardelik aan die publiek om verskoning vra dat teks gepubliseer is wat diskriminerend en afbrekend was, neerkom op haatspraak, kwaadwillig was, teen openbare belang was, feitefoute gehad het, die waardigheid en reputasie van talle persone aangetas het en dat die stelsel blameer is, eerder as dat die publikasie ondersoek ingestel het oor die rassistiese en seksistiese aard van die blog.

Die persombudsman het verder beslis dat die verskoning op dieselfde bladsy en net so prominent vertoon moet word soos die oorspronklike artikel, dat dit met die verskoning moet begin, dat The Huffington Post moet verwys na die klag wat by die persombudsman ingedien is en dat dit na die volle uitspraak moet verwys.

Volgens die klagteprosedure mag enigeen van die partye binne sewe werksdae appèl aanteken teen die uitspraak.

Lees alle vorige berigte oor die Huffington Post op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

AL ·

Mooi so, daar is te veel waarde geheg aan artikels wat haatspraak en rassediskrimanasie bevorder. News 24 het daardie lyn gevaarlik betree, ek is bly hul trap die afgelope tyd in hul spoor.
Ek het geen respek vir joernalistiek wie die rasdeuntjie sing nie.
Ons is in ñ veelrassige brose demokrasie, en joernalistiek het ñ verantwoordelikheid om nie rassisme en verdeeldheid aan te blaas nie.
Artikels wat rasgebaseerd is, help poltieke leiers om verdere verdeeldheid te saai en om ñ spesifieke ras die blaam vir alles te gee.

Ramkat ·

Goeie dag AL?
Ag dat daar meer mense sou wees wat soos jy kan skryf met oortuiging.

Sal die.land nie n beter plek wees daaroor nie

Finansieel ·

Geen finansiële boete soos met Penny Sparrow? Net ‘n skriftelike bla-bla?

Dafer ·

AfriForum – Mooi! Julle is die beste gebeurtenis na Jan by die Kaap aangekom het. Ondersoek sommer – ek weet julle is nie ‘n politiese organisasie nie – die moontlikheid dat julle die presidensie , en die regering, kan vervang!

Leendert ·

Ek het ‘n paar jaar gelede persoonlik met die persombudsman oor die telefoon gesels omdat ‘n redigeerder van die spesefieke koerant hier en daar skrywes/bydraes van my aangepas het en ‘n ander betekenis aan die inhoud gegee het, dus om ‘n sekere beleid en boodskap uit te dra. Die kort van die saak is, hy het nie fout daarmee gevind nie, en dit het my met ander oë en met baie meer as net skeptisisme na die mense laat kyk.

Tammy ·

As daar verkoning gevra word is dit nog ERGER. Dit bewys dat hulle skuldig is en dit
is n skulderkenning,. Enige lewende wese, diere ingesluit, kan maak of hulle jammer is deur verskoning te vra vir wat hulle gedoen het. Ag nee, moenie dom wees en dit glo nie , dis twak daardie. Die daad is gedoen met n DOEL. Niks anders nie. die partye betrokke moet baie sterk vervolg word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.