Persombudsman verwerp klag teen Beeld

Beeld se voorblad op 24 Junie. Foto: Beeld/Facebook

Beeld se voorblad op 24 Junie. Foto: Beeld/Facebook

Die persombudsman het ‘n klag teen Beeld oor die gebruik van die woord “monster”, om ‘n man van Springs te beskryf wat daarvan beskuldig word dat hy sy kinders aangehou en mishandel het, verwerp.

“Ek neem met waardering kennis dat die verslaggewer deurlopend verwys het na die ‘sogenaamde monster’ (in die berig),” het Johan Retief in sy bevinding gesê.

“Dit, tesame met die feit dat koerant nie die man geïdentifiseer het nie, het my oortuig om Beeld die voordeel van die twyfel te gee rakende die stories.”

Beeld het op 24 en 25 Junie in artikels na die beskuldigde verwys as die “sogenaamde monter”, terwyl die opskrif na hom verwys het as ‘n “monster”.

Die beskuldigde staan in die Springs-landdroshof tereg op aanklagte van kindermolestering, poging tot moord en aanranding met die doel om sy kinders ernstig te beseer.

Die klaer het aangevoer dat die woord “monster” beledigend en minagtend is en dat die koerant die man reeds skuldig bevind het aan die misdade deur dié woord te gebruik. Die klaer het verder aangevoer dat die woord onvanpas is hetsy die man skuldig bevind word of nie.

Retief het egter nie hiermee saamgestem nie. “…Ek stem nie saam met die klaer dat mens nie ‘n ander mens ‘n monster mag noem ongeag van dit wat hy gedoen het nie. Indien daar bevind word dat die bewerings waar is, sal die beskrywing geregverdig wees.”

Retief meen egter dat die koerant nie die reg gehad het om “monster” in die opskrif te gebruik nie. “Nie net is die man nog nie skuldig bevind nie, maar die opskrif het ook nie die inhoud van die artikels korrek weergegee nie (soos vereis deur die perskode). Die eenvoudige gebruik van aanhalingstekens, soos wat in een geval gedoen is, sou die probleem oplos,” het Retief gesê.

Die koerant is berispe oor hy die man in die opskrif ‘n “monster” genoem het, en is aangewys om die persombudsman se bevinding in die koerant te publiseer met die woorde: “besoek www.presscouncil.org.za vir die volledige bevinding”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AmY ·

Werklik? Nou wat is hy dan anders?

Verkragter? Molesteerder? Aanrander? Aanranding met die doel om sy eie bloedkinders ernstig te beseer? Poging tot moord?

Is daar ‘n beter naam as Monster om hom te beskryf?

Belinda ·

Regtig wat wil die mense he ons moet hom dan so graag by die naam noem want ek weet wat is sy naam en sy van en sy vieslike vrou sin ook………………………..Dit is n MONSTER hierdie en klaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.