Personeel by parlement ‘getraumatiseer’ ná skietvoorval

Die toneel by die parlement in Kaapstad. Foto: ANA

Parlementêre werkers is erg getraumatiseer nadat een van hul kollegas homself Vrydag op die perseel van die parlement in Kaapstad doodgeskiet het.

Moloto Mathapo, woordvoerder van die nasionale wetgewer, het gesê “die hele instelling” is erg getraumatiseer. “Wat vanoggend hier gebeur het, is nie wenslik nie. Die nabye kollegas en die res van die personeel by die instansie word diep hierdeur geraak,” het Mathapo aan verslaggewers buite die gebou in Pleinstraat gesê.

Hy het gesê die voorsittende beamptes sal die saak met die SAPD opneem aangesien hulle moet verseker dat so iets nie weer gebeur nie.

“Hierdie ding het so pas gebeur. Ons is almal baie getraumatiseer deur wat nou net gebeur het. Dit is regtig iets wat nog nooit gebeur het nie en deeglik ondersoek sal moet word sodat die feite vasgestel en ʼn pad vorentoe bepaal kan word om te verhoed dat so iets weer plaasvind,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig dit is nie seker wanneer die oorledene die vuurwapen by die gebou ingesmokkel het nie. Die gebou is aan streng veiligheidsmaatreëls onderworpe, maar omdat die man baie senior veiligheidsklaring gehad het, is dit moontlik dat hy nie persoonlik ondersoek is nie.

Die oorledene se kollegas het gesê hy het die afgelope tyd gekla oor erge werksdruk.

Mathapo het gesê die parlement het traumaberading gereël vir al die personeellede wat geraak is. “Ons het die welstandsdepartement in die parlement gevra om onmiddellik hierdie saak te hanteer. Sielkundige en mediese ondersteuning word gewoonlik in sulke omstandighede beskikbaar gestel,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Moses ·

Hopenlik sal hulle nou meer aandag gee aan al die ander skietvoorvalle

IK ·

Ek het in vorige kommentaar oor dieselfde onderwerp ( selfmoord) daarop gewys dat ‘n (skynbaar) klein probleempie vir een persoon ‘n geweldige probleem vir ‘n ander kan wees. Gee aandag aan daardie persoon wat sy probleem met jou ophaal. Dit blyk dat volgens die berig dit ook hier so was. Maar ‘nee’, ons is mos altyd té besig met ons eie belangrike doen en late.

IK ·

‘Welstandsdepartement’? Ek neem aan dat hulle merendeels sielkundig betrokke is by werkers? Sowat 50 jaar gelede was daar O&M-beamptes in die staatsdiens. Die afkorting was die noemnaam en beteken ‘Organisasie en metode’. Die naam is ‘n duidelike aanduiding van hulle werk. Hulle het gesorg dat haakplekke uitgestryk word met werkprosedures asook personeel se werkslading. Dit gebeur maklik dat die metode van werk verbeter kan word. Bestaan O&M-beamptes nog of iets soortgelyks?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.