Personeel van Haaieraad verdrink ná boot omslaan

Foto: NSRI

Twee personeellede van die KwaZulu-Natalse Haaieraad het verdrink en nog ʼn personeellid word vermis nadat hul boot Woensdagoggend in die see by Newark-strand in Richardsbaai omgeslaan het.

Hillegard Holtzhausen van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Richardsbaai het gesê die organisasie is omstreeks 07:00 ontbied ná berigte van lewensredders en die Haaieraad dat ʼn boot van die Haaieraad met vyf mense aan boord omgeslaan het.

Die vyf werknemers is glo vroeër die oggend op die see uit om die haainette te inspekteer.

Holtzhausen het gesê talle reddingsvaartuie, ʼn helikopter, reddingswemmers, die polisie en personeel van die Haaieraad was op die toneel.

“Met ons aankoms op die toneel is drie van die mense wat aan boord was, op die strand gevind. Die boot het ook reeds uitgespoel. Een persoon is na die lewensreddingstasie geneem vir onmiddellike behandeling maar is kort daarna deur paramedici dood verklaar.”

Die ander twee persone wat op die strand gevind is, is in ʼn stabiele toestand na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas.

Intussen het soek- en reddingswerkers onmiddellik na die ander twee mense begin soek wat ook aan boord was en verdwyn het nadat die boot omgeslaan het. “Die liggaam van een van die vermiste mans is kort daarna gevind toe dit vanuit die helikopter gesien is.”

Die soektog duur voort na die ander vermiste man. Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sandy ·

Nou wonder ek of hulle reddingsbaadjies aangehad het? Baie tragies

IK ·

Ook ek, Sandy en Belinda. Dis jammer dat belangrike inligting nie oor berig word. Dieselfde geld vir motorongelukke waar daar nie berig word oor veiligheidsgordels. Sou hulle dalk ook onder die boot vasgekeer gewees het met die omslaanslag?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.