Personeellid by Charlotte Maxeke-hospitaal met hamer aangerand

Die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg. (Foto: Facebook)

Die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg veroordeel die onlangse aanval op sy gesondheidsorgwerkers.

Volgens Tabudi Madisha, woordvoerder van die hospitaal, is een van die personeellede van die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens Woensdag omstreeks 12:50 in ’n hysbak in die hospitaal met ’n hamer aangerand.

“Die personeellid (57) is met die hamer oor die kop geslaan en haar selfoon is gesteel,” bevestig Madisha. “Sy het terugbaklei en het daarin geslaag om uit die aanrander se kloue te ontsnap. Sy het ernstige beserings aan haar kop opgedoen.”

Een van die hospitaalbeamptes het die vrou gehoor skree en haar te hulp gesnel.

“Die aanrander het weggekom.”

Die personeellid is na die ongevalle-eenheid geneem vir mediese sorg. Sy is gestabiliseer en is later na ’n ander gesondheidsfasiliteit oorgeplaas vir behandeling.

“Die hospitaal se sekuriteit kon deur middel van die kringtelevisiekamera se beeldmateriaal die verdagte identifiseer. Die beeldmateriaal is aan die polisie oorhandig.”

Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê die verdagte was ’n man wat voorgegee het asof hy met ‘n kruk loop.

“Die slagoffer is van ‘n selfoon en sonbril beroof,” bevestig Nevhuhulwi.

Die Hillbrow-polisie was gister op die terrein om bewyse in te samel. Hulle het ook die slagoffer ondervra om haar te help om ’n saak aanhangig te maak.

“Die hospitaal se bestuur wil graag werknemers, pasiënte en die algemene publiek verseker dat hul veiligheid altyd ’n prioriteit sal wees. Dit is hoekom ons heeldag sekuriteit op die perseel het. Daar is ook kameras in hoërisikogebiede. Ons sekuriteitspersoneel sal altyd beskikbaar wees om enigiemand te vergesel wanneer hulle onveilig voel om na enige gedeelte van die hospitaal of selfs buite die hospitaal te beweeg.”

Enigiemand met meer inligting wat tot die verdagte se inhegtenisneming kan lei, kan die hospitaal se sekuriteit by 011 488 3071 kontak of ’n e-pos aan [email protected] stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Catherina ·

Veroordeel ten sterktse, veroordeel ten sterkste…… same old…same old

Charles ·

Veral daardie “ten sterkste”. Aangeplak in oormaat. Veroordeel die storie of nie!

Jacobus ·

Die norm in huidige Suid Afrika: “die aanrander het weggekom”,

Watsenaam ·

As ons al die wegkommers by mekaar kan kry sal ons n nogal formedabele Olimpiese atletiek span saam kan sit.

Fontein Tannie ·

Die verklaring van sekuriteits maatreels is sekerlik heel oordrewe. Kyk, as iemand met n hammer verby hulle gekom het met hierdie wonderlike maatreels, deur die hospitaal kon hunke punk en op die kooptoe van die hysbak kon ontsnap en daar is nou nog geen identifisering op enige kamera nie?? Genade, dan is sekuriteit mos nie heel so wonderlik as wat hulle die versekering wil voorgee nie….

Koos 100 ·

Is die werknemer na ‘n ander hospitaal oorgeplaas? Is die hospitaal waar sy werk nie goed genoeg nie?

Delia ·

Koos. Sy het seker n mediese fonds. Maw sy is gestabiliseer in die hospitaal waar sy werk en daarna oorgeplaas vir waarneming.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.