Persraad ontvang soveel klagtes in eerste kwartaal

Die Suid-Afrikaanse Persraad het Donderdag gesê dat hy in die eerste kwartaal van 2018 reeds 175 klagtes ontvang het.

Latiefa Mobara, uitvoerende direkteur, het gesê meeste van die klagtes is deur middel van mediasie opgelos deur samewerking van redakteurs wat spoedige en vriendskaplike oplossings tot gevolg gehad het.

“Net 23 klagtes is na Johan Retief, die persombudsman, verwys gedurende dié tydperk en daar was vyf appèlle teen ombudsman-bevindings wat na regter Bernard Ngoepe verwys is. Ons is tevrede dat ons mediasie en arbitrasiestelsel goed werk,” het Mobara gesê.

Retief het gesê uit die 23 klagtes het hy tien van die hand gewys, tien deels of ten volle bevestig, ʼn oplossing vir een bemiddel en twee van die hand gewys omdat dit nie betyds was nie.

Ngoepe het gesê hy het drie van die vyf appèlle van die hand gewys, een opgelos en een toegestaan.

Retief het gesê publikasies moet versigtig wees om bewerings as feite te berig en dan dit te probeer regverdig deur te sê die bewering was reeds in die openbaar bekend. Die media voer glo dikwels aan hy herhaal net wat elders gerapporteer is – of dit nou op sosiale media of in hoofstroommedia was.

“Die deurlopende herhaling van ʼn bewering lei mense daartoe om dit te glo, of dit nou waar is of nie. Dit word vererger as die media self begin om die bewerings as waar te beskou, of dit nou geverifieer is of nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.