Petisie aan Sanral om studente vry te stel van e-tol

Foto: AfriForum Jeug

Foto: AfriForum Jeug

Verteenwoordigers van AfriForum Jeug se nasionale bestuur het Donderdag dokumentasie tesame met petisies wat deur meer as 2500 studente gedurende die afgelope 30 dae geteken is aan Sanral se woordvoerder, Vusi Mona, oorhandig.

Die oorhandiging kom nadat AfriForum Jeug ‘n veldtog van stapel gestuur het om studente vry te stel van e-tol.

“Ons is baie tevrede met die verloop van die veldtog,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê. “Mnr. Mona het onderneem om ons versoek aan die minister voor te lê en belowe dat ons binne die volgende maand terugvoer sal ontvang.”

AfriForum Jeug voer aan dat studente vrygestel moet word van e-tol vir die volgende redes:
• Studente verdien nie ‘n vaste inkomste nie;
• Indien studente wel deur middel van afloswerke ‘n inkomste verdien, is dit uiters wisselvallig;
• Die inkomste is so laag, dit is onder die belastingdrempel;
• Talle studente kan slegs studeer met studiebeurse wat hulle ten duurste moet afbetaal, hulle het geen geld vir ekstra uitgawes nie; en
• Talle studente maak gebruik van saamrygeleenthede, net soos taxi’s, om die koste van vervoer te bespaar.

AfriForum Jeug versoek dat alle geregistreerde voltydse studente wat ‘n motorvoertuig besit vrygestel moet word van e-tol en dat alle voertuie wat deur ouers aan ’n geregistreerde voltydse student verskaf is, en waarvoor die ouers kan bewys dat die student die voltydse bestuurder van die voertuig is, vrygestel moet word.

“Ons moedig steeds studente aan om aanlyn ons petisie te teken en sodoende die saak te versterk. Ons tree op namens alle studente in Gauteng, Noordwes en die Vrystaat wat deur e-tol geraak word,” het Maree gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.