Petisie begin oor motor-, bestuurslisensies

Die Automobiel-Assosiasie (AA) het ʼn aanlyn petisie van stapel gestuur rakende die geldigheidsperiode van motor- en bestuurslisensies.

Die petisie het ten doel om Fikile Mbalula, minister van vervoer, te oortuig om die geldigheidsperiode van dié lisensies te verleng.

Volgens die Padverkeerbestuurskorporasie is alle leerling‑, bestuur‑ en voertuiglisensies, tydelike permitte, padvaardigheidsertifikate en professionele bestuurspermitte wat in die tydperk van 26 Maart tot 31 Mei verval het, steeds geldig en word die geldigheidstydperk met 90 dae verleng tot 31 Augustus.

Die AA is egter van mening dat lisensies wat na 31 Mei verval het en die verminderde kapasiteit van lisensiesentrums en die poskantoor nie in ag geneem word nie.

In ʼn brief aan minister Mbalula op 29 Junie het Willem Groenewald, uitvoerende hoof van die AA, te kenne gegee dat die nasionale verkeersinligtingstelsel (NaTIS) waar mense afsprake moet maak steeds problematies is en dat lisensiesentrums kort-kort weens Covid-19 moet sluit en ontsmet moet word voor dit weer kan heropen.

“Ons ervaring is dat die meerderheid motoriste in Suid-Afrika verkies om aan die regulasies te voldoen en wettig op die pad te wees. Alhoewel die stelsel problematies is, doen bestuurders die nodige stappe om te verseker dat hulle binne die wet bly. Gegewe die huidige beperkinge op die stelsel, word baie mense egter gekonfronteer met die werklike moontlikheid dat hulle dit nie kan doen nie,” het Groenewald gesê.

ʼn Bykomende kwessie is dat bestuurders wat nie motor‑ of bestuurslisensies kan hernu nie, probleme kan ondervind as hulle in ʼn ongeluk betrokke is, aangesien versekeraars eise kan verwerp op grond van die feit dat die bestuurders nie wettig op die pad is nie.

Minister Fikile Mbalula. (Foto: Twitter)

Die AA versoek dat die geldigheidsperiode van lisensies tot einde Januarie 2021 verleng word. Volgens Groenewald is dit ’n meer uitvoerbare opsie as die huidige datum van 31 Augustus.

“Ons voorgestelde verlengingsdatum maak ook voorsiening vir die sluiting van lisensiesentrums tydens die feestyd, en vir verdere moontlike sluitings as gevolg van Covid-19,” het Groenewald opgemerk.

Die AA het ook aangebied dat sy nasionale netwerk van agente bestuurders help om hul lisensies te hernu. Die minister moet dit oorweeg om agente van derde partye, soos die AA, toe te laat om voertuiglisensie- en bestuurslisensiehernuwingsdienste uit te voer, wat tans slegs deur lisensiesentrums en die poskantoor aangebied word.

Die AA het nog geen antwoord van die minister of sy kantoor ontvang op sy skrywe nie. “Die AA sal egter voortgaan om hierdie kwessie te opper in ’n poging om die geldigheid van motor‑, bestuur‑ en ander lisensies te verleng sodat bestuurders met gemoedsrus op die pad kan wees.”

Die AA se aanlyn versoekskrif kan hier besigtig word. Volgens die AA wil hy die petisie gebruik om vir die minister te wys dat sy voorstel die steun van die publiek geniet.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mallie ·

Dis wonderlik. Ek het meer ad n jaar gelede aansoek gedoen vir my lisensie. Elke keer as ek by die lisensiekantoor kom word daar vir my gese, come next week.

Yvonne ·

Dis in elkgeval net n geldmaak storie…..as jy n lisensie het en geldig die toetse gedoen het en geslaag het is dit voldoende…..kyk na die pad gebruikers se gedrag….dit word net erger ….en die hernuwing elke 5 jaar….watter verskil maak dit regtig…my beskeie mening

Johan ·

Die lisensie verval ding dien GEEN positiewe doel nie. Mense ry soos mal goed en val maar in by die gaos in ons land. Ek moet eerlik sê, ek ry n motorfiets en op die stadium ry die Taxis beter en kyk beter uit. Vir voetgangers is dit eenvoudig nag. Ek stap gereeld en selfs in ons woonbuurt (Lyttelton) ry mense vieslik, stop op sypaadjie, jaag in die buurt, gee geen kaans by die kruisings nie, ens… Vreemd dat mense wil moeite doen om hul lisensies te hernu maar niks voel vir die ander reëls nie.

Pappa Beer ·

Die woordjies “we are offline” word mos maklik gegooi dan sit die een agter die toonbank knus saam met vier of vyf makkers en koeldrank drink en kfc eet. As die sisteem mos af is dan is dit rustyd vir almal. Sou die sisteem weer “online” kom word karsleutels gegryp en gese “sorry, we are going on lunch”. Dit het al male sonder tal met my en baie ander mense wat ek ken gebeur. Dit wys die absolute luigat mentaliteit van die oorgrote meerderheid van munisipale en regerings werkers in hierdie land.

Piet ·

Ek probeer al vir 4 weke n afspraak vir hernuwing van lisensie op NATIS maak.
Die stelsel vir Tshwane word elke Maandagoggend 7H45 oopgemaak vir besprekings.
Jy kan net eenvoudig net nie n bespreking maak nie want die stelsel bly jou uitgooi.
Hoe nou gemaak?

JohnnyS ·

Hoe is dit moontlik dat die AA nie die Padverkeerswet ordentlik ken ? ‘n Bestuurderslisensie en die kaart waarop die bewys dat ‘n persoon wel wetiglik ‘n lisensie besit, is twee afsonderlike dinge met afsondelike definisies in die padverkeerswet. Die kaart het ‘n verval datum, maar ‘n bestuurderslisensie verval NIE. Daar is GEEN klagte in die padverskeerswet vir ‘n vervalde bestuurders lisensie kaart. Die wet bepaal ook dat jy KAN aansoek doen vir ‘n ander lisensie kaart, daar is geen wettige verpligting dat jy MOET aansoek doen vir ‘n nuwe bestuurderslisensie kaart. Ons speel in die geldgierige owerhede se hande om sommer nou net te aanvaar dat jou bestuurderslisensie verval wanneer dit egter net die kaart is wat verval. Een van die dae gaan hulle ons dwing om gereeld vir “her-toetse” te gaan, en almal weet hoe korrup die stelsel is.

Eclectus ·

Die derde laaste paragraaf is nie heeltemal waar nie. Ek weet van ten minste vier besighede in Pretoria wat voertuiglisensies en registrasies hanteer, waarvan een selfs die lisensieskyfie by jou huis aflewer. Jy kan ook jou vooertuiglisensie deur FNB met hulle toep hernu en dit word ook afgelewer. Bestuurslisensies is egter ‘n perd van ‘n ander kleur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.