Petisie by die parlement oor brandstofpryse

Argieffoto (Foto: Activ-Michoko, Pixabay)

Solidariteit het Dinsdag bekendgemaak dat hy ʼn parlementêre petisie opgestel het en ʼn reuseveldtog van stapel stuur om druk op die regering te plaas om die petrolprys te dereguleer en brandstofpryse te verlaag.
Volgens Solidariteit het die regering ʼn wurggreep op brandstofpryse en dit moet verbreek word.

Solidariteit vra in sy petisie dat die bepaling van brandstofpryse in die geheel aan die mark oorgelaat word sodat gesonde mededinging tot voordeel van verbruikers kan seëvier.

“Terwyl die res van die wêreld die vrye mark omhels, klou die Suid-Afrikaanse regering vas aan Sowjet-denke wat die ekonomie knou. Die vasstel van brandstofpryse is ʼn voorbeeld daarvan,” verduidelik Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI). “Dit is onsinnig om elke vulstasie in elke streek oor dieselfde kam te skeer, terwyl elkeen se onmiddellike markomgewing, sowel as die proses om brandstof tot daar te kry, verskil. Op die ou end strek dit tot nadeel van die verbruiker.”

Solidariteit voer aan dat die meeste ander lande die bepaling van brandstofpryse in die geheel aan die mark oorlaat en dat waar pryse wel gereguleer word, dit is om pryse laag te hou.

“Ons navorsing toon aan dat prysregulering in Suid-Afrika brandstofpryse eerder kunsmatig hoog hou. Dit kom op misleiding neer omdat die staat, wat deur ons aangestel is om na ons belange om te sien, daardeur strydig met ons belange optree,” sê Du Buisson.

Volgens Solidariteit is dit ondenkbaar dat die regering tydens een van die onsekerste en uitdagendste tydperke in die wêreld se ekonomiese geskiedenis steeds voortgaan om brandstofpryse onbehoorlik op te stoot.

“Met hemelhoë werkloosheid en inflasie wat besig is om buite beheer te raak, kan ons nie meer ʼn onverskillige en ongevoelige regering bekostig nie. Ons moet nou tot stappe oorgaan en die regering dwing om na Suid-Afrikaners se belange om te sien en nie na hul eie nie. Wanneer die brandstofprys styg, word feitlik alle ander produkte en dienste ook duurder en gewone Suid-Afrikaners sukkel om aan die lewe te bly,” stel Du Buisson.

Solidariteit stel dat hoewel daar inderdaad internasionale faktore ook is wat brandstofpryse beïnvloed, die regering steeds nie sy eie onverantwoordelike optrede daardeur kan regverdig nie.

“Buiten die wisselkoers en die internasionale olieprys, wat tans net minder as die helfte van die uiteindelike petrolprys uitmaak, word alle fasette van die petrolprys deur die staat bepaal. Eerstens, sit ons steeds met buitensporige belasting in die vorm van die brandstofheffing en die Padongeluksfondsheffing. Boonop word die wins van elke ander rolspeler, van die invoerder, groothandelaar, vervoerkontrakteur, sekondêre stoorkontrakteur tot uiteindelik die vulstasie-eienaar deur die staat voorgeskryf.”

Solidariteit is van mening dat dit magsvergryp is. “Die regering het dit effektief onwettig gemaak vir enigiemand om mee te ding deur laer pryse as hul mededingers aan te bied. Feitlik almal in die brandstofwaardeketting word volgens wet gedwing om verbruikers te na te kom. Dit kan nie meer so aangaan nie,” argumenteer Du Buisson.

Solidariteit verduidelik dat hy dus geen ander keuse het as om ʼn breedvoerige veldtog te voer nie en vra steun vir hierdie veldtog teen die regering.

“Ons vra dat almal ons petisie wat aan die parlement voorgelê sal word, sal onderteken. As genoeg mense hul stem dik maak kan die regering ons nie ignoreer nie. Werkers en belastingbetalers moenie meer hul bedingingsmag geringskat nie. Die geweldige koste van ʼn magsbehepte regering raak nou – dalk meer as ooit tevore – tasbaar en gewoon finansieel onvolhoubaar,” sluit Du Buisson af.

Om die volledige petisie te lees, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Die link is in onderaan die artikel, gaan lees net mooi.

DieKriek ·

Jy kan die petisie lees of aflaai maar ek sien geen manier om dit te onderteken nie. As Solidariteit dit so moeilik wil maak vir ons, dan sal dit nie slaag nie.

Jack ·

Petisie.Die kommunis lag enige briefies en petisies af.Die regering het dit al oor en oor gedoen.As jy hulle aandag wil hê moet jy oorgaan tot aksie.Hulle verstaan geen ander taal.Protes en kry solank die belasting revolusie aan die gang.Dit is al taal wat die nuttelose regering sal verstaan.

Alfred E Neuman ·

Hoe lank wag ons nie al vir die balsting revolusie nie Jack? Ek dink nie dit gaan ooit plaasvind nie. Individue kan dit nie dryf nie. Dit moet deur groot maatskappye en opposisie politieke partye gedryf word.

DieKriek ·

Laat dié wat die petrolprys so beheer betaal vir hulle eie brandstof. Dit affekteer hulle nie want ons betaal vir hulle rondritsery en kos.

Papsak ·

Mense staan op baklei laat julle stemme hoor petisies werk nie vir hulle nie maak julle stemme duk hulle maak ons dood met petrol pryse asb

SlinkseKoljander ·

Wat anders verwag jy van die ANC? Vat die petrol verguning weg van taxi bestuurders, dan sal jy n gemors sien.

Wondermaarnet ·

Die hele land sal brand, want as hulle nie hul sin kry nie word als afgebreek en afgebrand.

Hendrik ·

Vonoggend op Pretoria FM gehoor dat Sasol produseer brandstof teen R6.50 en word gedwing om te verkoop teen R10.00 om nie kompetisie vir die ingevoerde brandstof se pryse te wees nie. Die brandstof in die binneland behoort baie goedkoper te wees agv die nabyheid van Sasol tot die binnelandse mark.

JohanR ·

Solidariteit, met hierdie ANC regering is dit soos om wind af te blaas teen ‘n storm wind!

Boer ·

Ek wil ook die petisie teken en ek glo 99% van SA burgers wil dit ook teken.

Dirk Mostert ·

S.A. het die potensiaal om onafhanklik van olie-invoere te word. Langs die Namibiese kus is pas ‘n reuse olieveld deur Shell ontdek. Moenie huil oor duur petrol as ons ons deur groenes laat voorskryf nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.