Petisie eis standpunt oor Rusland

Mense skuil in Oekraïne. (Foto: Aris_Messinis/AFP)

Die DA het ʼn petisie van stapel gestuur wat die Suid-Afrikaanse regering versoek om ʼn beslissende standpunt oor die Russiese inval in Oekraïne in te neem. Meer as 2 900 mense het die petisie tot dusver onderteken.

Sedert Rusland sy buurland tien dae gelede ingeval het, het die regering grotendeels oor die gebeure geswyg of ʼn neutrale standpunt gehandhaaf. Dít ná verskeie oproepe aan die regering om standpunt in te neem, asook dat die ANC sy Brics-lidmaatskap moet gebruik om Rusland se onmiddellike onttrekking uit Oekraïne te bepleit.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het boonop vroeër die week aangedui dat die regering ook buite stemming oor die Verenigde Nasies (VN) se resolusie oor die Rusland-Oekraïne-konflik sal bly. Die resolusie veroordeel Rusland vir sy inval in Oekraïne en eis dat hy sy magte onttrek.

“Die regering wou nie standpunt inneem nie. Toe het die departement vir internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) tereg die inval veroordeel, waarna pres. Cyril Ramaphosa egter Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge, se onmeetbare standpunt verwerp het,” sê Darren Bergman, DA-skaduminister vir internasionale betrekkinge,

Thandi Modise, minister van verdediging, het ook enkele ure nadat Rusland Oekraïne ingeval het ʼn geselligheid van die Russiese ambassadeur saam met lede van haar departement in Suid-Afrika bygewoon.

Bergman sê die regering kan nie in die aangesig “van so ʼn oorweldigende gruweldaad” hande gevou staan en toekyk hoe “sy kameraad” ʼn buurland vernietig nie.

“Historiese lojaliteit troef nie oorlogsverklarings nie.”

Die petisie versoek onder meer dat die regering sy Brics-lidmaatskap gebruik om te verseker dat

Rusland aanspreeklik gehou word teenoor die Geneefse konvensie en internasionale reg, asook om te verseker dat Rusland geen wapen gebruik wat die Lieber-kode oortree nie. Die regering word verder versoek om nie te help om enige geld, transaksies of saketransaksies te fasiliteer of aan te bied wat die sanksies kan teëwerk wat deur die internasionale gemeenskap ingestel is as maatreëls om ʼn onmiddellike onttrekking te bewerkstellig nie.

“Tensy Suid-Afrika alles in sy vermoë doen om die inval te veroordeel en Rusland aan te spoor om sy magte te onttrek, sal die regering aandadig aan hierdie onnodige oorlog wees en menige mense se bloed op sy hande hê.”

Die party meen Suid-Afrika sal deur die geskiedenis veroordeel word dat die land aan die verkeerde kant van vrede gestaan het.

“Ons wil dit onomwonde stel dat die Russiese inval in Oekraïne nie onbetwis kan bly nie. Die ANC-regering kan ook nie ʼn neutrale posisie probeer handhaaf nie. Daar sal geen neutraliteit in dié oorlog wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Dries ·

Ramaphosa het reeds sy ondersteuning aan Rusland gegee. Modise het ook al haar glasie geklink saam met die Russe. Hulle is lankal in die bed met die Russe. Almal weet mos waar staan die gemors wat SA sonder n enkele bom in n puinhoop verander het.

SlinkseKoljander ·

Die standpunt sal wees “Ons die ANC is chomas met Rusland en skuld hulle baie geld”

Wat Wou ·

Hoekom dan R50 miljoen aan Kuba skenk en nie Rusland nie.

Jack ·

Alle moeilike besluite wat die regering moet neem word voorafgegaan deur n zuma stilte. Hulle het net nie die vermoe om besluite van die aard te neem nie.

johan ·

Die DA se totale gebrek aan enige insig in die agtergrond en jarelange aanloop tot die stryd is skrikwekkend!

SlinkseKoljander ·

Die DA eis altyd van ander, maar doen net mooi niks hulle self.

piet ·

Hulle doen meer as enige ander opposisieparty. DA en die EFF is die enigste partye wat werklik iets doen en probeer doen (ongeag reg of verkeerd). Die ander sit net daar met ‘n bek vol tande en groot salarisse verdien.

Jr ·

Dit hang af wie jou finansier het en getrain het. Israel skend Palestinia se regte maar ons sal sommer dit die selfde dag veroordeel. Ons ( nee die anc) sal blm ook support. Libya, Cuba, Venezuala, China, en Rusland. Mense regte is net belangrik as dit die anc rassistiese agenda pas

Mercia ·

Ek dink wat JR probeer sê is dat die ANC bitter min na feite kyk……hulle ondersteun wie ook al vir hulle die meeste geld in die hand stop. Hulle lojaliteit is gekoppel aan die geld wat hulle agendas dryf …..defnitief nie deur morele of etiese beginsels nie.

Nico ·

Dit sal baie onwys wees om ‘n kant te kies, polities en ekonomies. Gebruik eerder dié energie om ons eie sake in orde te kry.

piet ·

Nie een van die BRICS lande het standpunt teen Rusland ingeneem so ver ek weet nie. Hulle bly almal neutraal. Sover ek weet het ook nie een van hulle Rusland openlik ondersteun nie. Dis ook nie net die BRICS lande nie, daar is ander lande wat ook neutraal bly.

Deon ·

Magsbeheptheid van politici dwarsoor die wereld oorskadu en vernietig elke vorm van nugtere denke en welstand van gewone mense.

JM ·

Poetin steur hom aan niemand nie, hy het net een doel voor oë: om die “nazi”-Ukraïene te verower. Deur Hitler geïnspireer en net so siek.

Marthinus W ·

Doen bietjie internet soek vir die volgende: Azov Batalion, Right Sector, Svoboda (dis die Engels, om makliker te soek). Azof se embleem is die nazi wolfsangel in swart op geel agtergrond; Swoboda is deur die EU onwettig verklaar, maar sedert Febr 2014 hou hulle hul blind, embleem is drie vingers van regterhand met duim en pinkie gebuig. Gaan kyk bietjie op hoeveel foto’s verskyn hulle.

Marthinus W ·

Vergeet om te vra: het die DA al ‘n petisie opgestel oor die plaasmoorde?
Het hulle ‘n petisie opgestel vir die ongeveer 14 000 mense in die Donbas wat vermoor is?
Het hulle ‘n petisie opgestel vir Joegoeslawie wat vernietig is deur NAvo, en vir 78 aaneenlopende dae gebombardeer is?
Het hulle ‘n petisie opgestel toe die Afrika-land met die hoogste lewensstandaard; ‘n land waar die mense nie belasting betaal het nie, waar onderwys en mediese hulp gratis was, deur Navo gebombardeer is, en vernietig is? (Libie, ongeag hoe ons oor Gadaffi gevoel het)

piet ·

Het enige ander politieke party? Mens sou dink dat ‘n party soos die Vryheidsfront al honderde optogte gereel het teen hierdie tyd en elke oomblik daaraan sal wy om die kwessie op te haal, maar nee. Laasgenoemde opper die aangeleentheid seker so 2-maal in die parlement in die loop van ‘n jaar. DA is meer uitgesproke as VF oor plaasmoorde en oor die taalkwessie.

Andre ·

Mens moet versigtig wees om Rusland te kritiseer. As daar byvoorbeeld talle “Bio labs” by hulle grens gebou word en gefinansier word deur buitelandse regerings, of NATO teenstrydig met hulle belofte al hoe nader aan Rusland uitbrei, sal Rusland sekerlik bedreig voel. “Bio labs” wat blykbaar ook in Suid Afrika en selfs ook Australië gebou word, moet ook rooi ligte laat flikker. Maar soos die gesegde lui, Follow the money. Maar dis alles seker net “conspiricy theories”.

Swerwer ·

Natuurlik sal die Regering neutraal staan want dit is nou “pay back time” dit is mos waar hul hul opleiding ontvang het, dus kan en mag hul nie standpunt inneem nie.

Akhenatha ·

Suid Afrika kan geen versil maak deur kant te kies nie. Nie een van die Brics lande het nog teen Rusland kant ingeneem nie. China en Indië trek voordeel uit die besigheid wat ander lande wegwys. Rusland het nuwe wette gemaak om besighede te help om gou bankrotskap te verklaar en die land te verlaat – sodat dit onmidellik oorgeneem kan word deur Russe self of China/Indië. Suid Afrika kan niks doen om hierdie oorlog te verander nie. Rusland het baie jare voorberei om te kan aangaan te midde van sanksies. Hulle langtermyn doelwit is om die Amerikaanse oorheersing te stop en die dollar te laat val. Die Amerikaners is van die luiste mense in die wêreld, maar hulle leef hoog want hulle dwing almal om hulle geld te gebruik en hou sodoende die waarde van die dollar hoog.

Ek sal bly wees as ons regering goedkoop olie by Rusland wil aankoop sodat ons petrolprys kan val. Ek stem saam met die persoon hieronder wat sê dat die DA geen insig het in die groter prentjie nie.

Human ·

Gepraat van lui, moet nie vergeet van sommige Trotse Afrikaners, wat bederf, lui, agterbaks en heeldag op sosiale media hul bekke uitspoel oor hoe gegrief en kwaad hulle is, omdat hulle nie hul sin kry en die middelpunt van die heelal is. Die EIE EK is hul motto.

Faraway ·

Putin dreig met kern . . . Almal skree vrede. . .en skielik gaan ons oorval word

VaalDonkie ·

Ek hoop nie die DA verwag dat ek en my familie moet gaan loop sterf daar in die koue nie. Hulle kan maar self die geweer gaan optel.

Samuel ·

Dit is duidelik dat die ANC hulle kommunistiese makkers ondersteun. Mense lewens het ook vir hulle geen waarde nie.

Thom ·

Ek moet die Russe dalk ‘n tweede geleentheid gee om my aan flarde te bombardeer op ‘ n plek waar hulle Niks te soeke het nie . Poetin is kranksinnig ___ wie is volgende ?

Wat Wou ·

Hoekom moet alles altyd tot die uiterste gaan voordat ons regering op iets reageer?

madels ·

Mense julle het sommer aangeneem dat Oekraine onskuldig is. Daar is definitiewe dinge waarteen Putin opstaan wat reg is. Natuurlik stem ek nie saam met hoe hy dit doen nie maar elke mens wat nou hier n eier te lê het oor Rusland moet bietjie eers goed gaan navorsing doen.

Karina ·

In plass van R50mil (later gehoor 85mil) aan Kuba skenk, help die Suid Afrikaners wat vlug om veiligheid te bereik. As hulle wil terugkom SA, help hulle, alhoewel ek twyfel of enige Suid Afrikaner sal wil terug kom na die land van geboorte wat in ‘n gemors hoop verander het.

Anna-marie ·

Amerika en Navo sit agter die gemors in Oekraiene. Die bloed is aan hulle hande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.