Petisie na Ramaphosa oor geblikte leeujag

(Foto: George Logan/Born Free, Twitter)

Die diereregteorganisasie Born Free het ʼn petisie met nagenoeg ʼn kwartmiljoen handtekeninge aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig waarin hulle ʼn beroep op hom doen om in te gryp by voortgesette geblikte leeujag.

In die petisie vra Born Free die regering om die bedryf heeltemal te sluit.

“Ons boodskap is duidelik: die doodmaak van leeus wat in aanhouding geteel is, asook enige ander spesie vir die pret daarvan – sonder dat die diere enige kans het om te ontsnap – is verkeerd en moet stopgesit word,” het Will Travers, president van Born Free, gesê.

Travers sê Ramaphosa het die mag om dadelik stappe te laat doen om die gebruik om roofdiere in aanhouding te teel – asook enige verwante bedrywe – op ʼn menslike manier te stuit. Dit sluit in die trofeejag van leeus wat in aanhouding geteel is en die uitvoer van leeubene vir kommersiële doeleindes.

Born Free voer aan Suid-Afrika het tot 300 fasiliteite waar tussen 8 000 en 12 000 groot katte aangehou word en die bedryf kom reeds jare lank internasionaal onder skoot daaroor. Born Free sê in 2016 het die International Union for the Conservation of Nature ʼn beroep op Suid-Afrika gedoen om die teel van leeus in aanhouding – met die doel om die diere te jag – te staak. Hy het ook gevra dat die teel van leeus in aanhouding beperk word tot geregistreerde fasiliteite wat erkende bewaringswerk doen.

Die organisasie sê Suid-Afrika het sedert 2008 meer as 6 000 leeuskelette van minstens 70 ton uitgevoer, hoofsaaklik na Laos en Viëtnam. Die meeste hiervan was volgens Born Free afkomstig van leeus wat in aanhouding geteel is.

Volgens Born Free het die leeubeenbedryf noue bande met internasionale wildlewesmokkelgroepe.

Born Free sê daar is toenemend internasionale kommer oor toerismebedrywighede wat deur geblikte leeus aan die gang gehou word. Dit sluit in wisselwerking en kontaksessies waar mense toegelaat word om welpies te streel, staptogte met leeus en die uitbuiting van vrywilligers wat leeus in aanhouding help grootmaak terwyl hulle onder die indruk is dat dit weesdiere is wat weer in die natuur vrygelaat gaan word.

Die organisasie sê Suid-Afrika se biodiversiteitsbestuurspan vir leeus erken die omstredenheid oor die teel van leeus in aanhouding en dat dit gedoen word om ʼn inkomste te genereer en nie omdat dit bydra tot die bewaring van die spesie nie.

“Suid-Afrika se leeuteelbedryf is ʼn siniese en wrede onderneming wat tienduisende diere vir wins uitbuit, maar niks tot bewaring bydra nie,” sê dr. Mark Jones, ʼn veearts en hoof van beleid by Born Free.

Hy sê die bedryf se “skaamtelose uitbuiting van leeus as goedkoop toeristeaantreklikhede berokken die land se beeld as verantwoordelike wildlewetoerismebestemming groot skade”.

“Ons petisie, wat byna ʼn kwartmiljoen handtekeninge het, benadruk die internasionale gevoel. Ons doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse owerhede om die roofdierteelbedryf te beëindig met die grootste oorweging van die welstand van die betrokke diere.”

Jones sê as Suid-Afrika as ʼn verantwoordelike en etiese voog van sy wildlewe bestempel wil word, asook beskou wil word as ʼn land wat ʼn voorbeeld oor die bewaring van wildlewe stel, is dringende stappe noodsaaklik om die bedryf op ʼn menslike manier te beëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Patch ·

Ja nee, Mnr die President het nie eers ‘n oplossing om plaasmoorde te stop nie, wat nog te sê geblikte leeus. Ek steun 100% wat Born Free probeer keer maar ek wonder of die petisie ooit onder oë geneem gaan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.