Petisie om “rassistiese” SA-uitstalling in Londen te keer

'n Skermskoot van 'n petisie op die webtuiste www.change.org

‘n Skermskoot van ‘n petisie op die webtuiste www.change.org

ʼn Petisie is begin in ʼn poging om te verhoed dat ʼn Suid-Afrikaanse dramaturg se uitstalling oor koloniale onderdrukking in Londen uitgestal word, het Beeld Saterdag berig.

Volgens artnet.com het nagenoeg 7 000 mense reeds die petisie onderteken in ʼn poging om te verhoed dat die uitstalling by Londen se Barbican Centre op 23 September, voortgaan. Brett Bailey se uitstalling is reeds in Edinburg, Berlyn en Wene ten toon gestel.

Die uitstalling, getiteld “Exhibit B”, bevat lewende mense. Daar is onder meer ʼn man in ʼn hok en ʼn vrou wat met ʼn ketting om haar nek aan ʼn bed vasgemaak is.

Dit herinner aan die 19de-eeuse sirkusse waar swart mense ten toon gestel is vir die vermaak van Europeërs en Amerikaners, het Beeld berig.

Brent Meersman, ʼn kunskritikus, sê die veldtog het soos ʼn veldbrand versprei deur middel van sosiale media. “Om eerlik te wees, die reaksie was taamlik rassisties,” het Meersman aan die koerant gesê.

“Die blote feit dat dit ʼn wit Suid-Afrikaner is, laat mense onmiddellik dink daar moet iets fout wees met die uitstalling. Dit hou ’n spieël op voor ’n koloniale gemeenskap en die voortslepende erfenis van daardie verdrukking.”

“Asielsoekers is ingesluit by die uitstalling en mense word baie ongemaklik wanneer hulle daarmee gekonfronteer word.”

Die “akteurs” in die uitstalling word gewerf in die area waar die uitstalling ten toon gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.