Petisie oor kontakklasse by universiteite

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

AfriForum Jeug het Woensdag ʼn formele aansoek aan al die openbare universiteite in die land gestuur om vas te stel wat hulle aangepaste beleid oor kampus-gebaseerde onderrig en aktiwiteite is.

Dit volg nadat dié organisasie talle klagtes van studente en ouers van verskeie universiteite ontvang het oor onder meer die gehalte van onderrig wat in die slag bly weens aanlyn onderrig en onderrigkoste wat skynbaar nie verminder nie, al loop studente nie fisiek klas nie.

Talle universiteite het tydens die Covid-19-pandemie kampus-gebaseerde onderrig met aanlyn onderrig vervang. “Ten spyte van die feit dat kontakklasse nie meer ʼn risiko vir studente inhou nie, gaan die meeste universiteite steeds voort met kontaklose, aanlyn klasse,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

“AfriForum Jeug gaan nie aanlyn onderrig as die nuwe normaal aanvaar nie en eis dat universiteite kontakklasse ten volle hervat.”

Die organisasie het ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) aan al 26 openbare universiteite gestuur in ʼn poging om ʼn beter prentjie van die stand van sake te probeer skets.

AfriForum Jeug het ook ʼn aanlyn petisie van stapel gestuur om verdere druk op universiteite te plaas om kontakklasse te hervat.

“Studente van reg oor die land betaal vir kontakklasse en gehalte‑onderrig wat ontwikkel en geakkrediteer is vir kampus-gebaseerde onderrig, maar hulle ontvang nou ʼn afgewaterde weergawe van hul kurrikulum.”

Ouers het reeds vroeër vanjaar hul ongelukkigheid met die voortgesette aanlyn klasse, en die koste daaraan verbonde, uitgespreek.

Die algemene gevoel is dat dit universiteite minder geld kos deur kampus-gebaseerde onderrig met aanlyn onderrig te vervang, maar daar word geen finansiële verligting vir studente en ouers gebied nie.

Studente is ook raadop, aangesien diegene wat vir hul derde jaar van studie aanmeld, reeds twee Covid-19-pandemiejare op universiteit agter die rug het. Dit beteken hulle het tot dusver weinig werklike kontakonderrig op universiteit – en al die ander aktiwiteite wat met kampuslewe verband hou – ondervind.

Musiekstudente by die Universiteit van Pretoria (UP) het ook reeds ʼn petisie van stapel gestuur waarin hulle hul kommer te kenne gee dat slegs praktiese modules op kampus aangebied word.

“Afstandsonderrig was ʼn goeie alternatief in ʼn tyd toe Covid-19 volop was, maar hierdie vorm van onderrig bied baie uitdagings vir studente en hul ouers,” sê Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Jeug.

“Dié uitdagings kan uit die weg geruim word met die terugkeer na kontakklasse.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Marius ·

Die covid regulasies en inperkings het die mense lui gemaak en nou wil hul tuis bly en steeds werk. Almal weet werk en plesier loop nie hand aan hand nie. Dit is ‘n kitsresep vir totale agteruitgang.

anniekiewiet ·

Hul wil tuis bly, om nie veel te werk nie, net die allernodigste.

Minion ·

Dit kos my as ouer duisende om my kind by UP te laat studeer, aangesien ons in Namibia woon – maar soos dit nou gaan kon sy net sowel by die huis gebly en alles aanlyn gedoen het! Die kwaliteit van aanlyn klas is nie dieselfde, dis afgewater. Stuur ons kinders terug klas toe!

VaalDonkie ·

Miskien sal daar nou minder dronkenskap en aborsies wees noudat die kindjies in die huis moet swot.

lodewyk ·

Ek stem dit is n probleem,my kind moes laas jaar BCOM rek met 1ste jaar alles aan lyn doen,sy het hard gewerk en dit was baie moeilik en daar was basies geen hulp as hulle gesukkel het nie,nou met die 2 de jaar kan hulle begin klas loop maar dit word aan n rooster gekopel,die studente sukkel nog steeds want daar is nie gehalte onderig nie want van die werk word nog steeds aanlyn vereis-Ons betaal deer ons nek vir gehalte onderig ,maar dit bly nog steeds n probleem,so baie studente het laas jaar nie hulle 1 ste,2de of 3de jaar gemaak nie

Llady ·

By ons universiteit het ons bestuur vir ons dosente spesiale opleiding gereël om aanlyn te kon klasgee. Dit het die universiteit derduisende rande gekos om dit te doen – ‘n uitgawe waarvoor daar aanvanklik nie begroot is nie (tesame met die uitgawes om studente toegerus te kry vir aanlyn klasse). Die lisensies vir die aanlyn platform wat ons gebruik is net so duur, asook die aantal ‘plekke’ om aanlyn te kan toets skryf (die universiteit moet ‘n aantal plekke aankoop – 100000 plekke was nie genoeg vir ons relatiewe klein universiteit nie). Dit is die rede hoekom klasgelde nie werklik verminder kon word nie.
Om aanlyn klas te gee, is glad nie maklik nie. Daar is sekere tegnieke wat mens moet gebruik, en jy moet jou kursusmateriaal aanpas sodat dit geskik is vir aanlyn klasgee. Maar, ek kon steeds my volle kursusmateriaal aanlyn aanbied – presies dit wat ek ook in die ‘face-to-face’ klas kon aanbied. Dit het vir my amper beter gewerk, want die studente het meer deelgeneem.

Moereloosverby ·

As dosent by ‘n tersiêre instansie wil ek ook net noem dat meeste van ons ook in die duister is…dis nie net die ouers en studente nie. Ons sit in sommige gevalle met ons laptops in ons kantore en gee ‘aanlyn’ klas vir studente wat saam buite in groepe by koffiehuise of op grasperke sit (op kampus). En die rasionaal agter wie nou mag, en wie nie, verskil oënskynlik van departement tot departement…sonder enige logiese verklaring of verduideliking van bestuur se kant af.

Pieter ·

Dis is belaglik – mens betaal baie duur vir klasonderrig en kry dit dan nie. In ‘n klas soos almal weet kan jy vrae vra, interaktief wees en baie meer leer as by die huis. Deesdaed se grade is baie moeilik – ek wonde rnou die dag hoe maklik grade in die 60’s en 70’s was teeenoor 2022 se grade. Dit is seker 200x moeiliker. Terug klas toe asb. is my versoek !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.