Petisie oor Oscar-weddenskappe

Die Paddy Power-advertensie

Die Paddy Power-advertensie

Nagenoeg 100 000 mense het Dinsdag ʼn petisie onderteken teen ʼn “aanstootlike” advertensie deur die Ierse dobbelwebwerf, Paddy Power, wat weddenskappe oor ʼn skuldigbevinding sal terugbetaal indien Oscar Pistorius vrygespreek word.

Die advertensie het ʼn Oscar-beeldjie met die gesig van die bekende Paralimpiese atleet en die woorde: “Dis Oscar-tyd. Geld terug as hy vrygespreek word. Ons sal alle verloorder-weddenskappe terugbetaal as hy onskuldig verklaar word”.

Paddy Power se advertensie is boonop ʼn woordspeling op die Oscar-toekennings wat Sondagaand uitgeloof is en die Oscar Pistorius-hofsaak wat Maandag in Pretoria begin het. Pistorius word daarvan beskuldig dat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie agter ʼn geslote toiletdeur doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien.

Persone wat hulself beywer in die stryd teen huishoudelike geweld het die advertensie sterk veroordeel. Die advertensie is in die Ierse en Britse pers gepubliseer en meer as 97 000 mense het die aanlynpetisie onderteken wat eis dat die beroepswedder nie enige verdere weddenskappe sal aanvaar nie.

“Die wrede dood van ʼn vrou wat deur haar maat veroorsaak is, is nie ʼn “sport” of “vermaak” nie en dit is veragtelik en aanstootlik om die geleentheid om geld te maak, te bevorder,” lui die petisieblad op change.org. “Enigiemand met ʼn gevoel vir menswaardigheid en respek vir menslike lewe moet dit verwerp.”

ʼn Woordvoerder vir die reklamestandaardeagentskap in Engeland het aan AFP gesê hy het ongeveer 46 klagtes oor die advertensie ontvang. “Ons bepaal tans of daar enige gronde vir ondersoek bestaan,” het hy gesê.

Paddy Power het nie dadelik reageer op ʼn versoek om kommentaar te lewer oor die omstredenheid nie.

“Indien jy bie dat Pistorius tronkstraf gaan kry en hy word skuldig bevind, dan het jy geregtigheid sien geskied,” het die maatskappy in ʼn blog gesê waar die advertensie gepubliseer is. “Maar as jy bie dat hy skuldig bevind gaan word en hy word vrygespreek, dan kry jy jou geld terug te midde van ʼn internasionale protes oor ‘ongeregtigheid’.”

Volgens die webwerf sal daar nie weddenskappe van Suid-Afrikaners af aanvaar word nie. -SAPA

Lees ook:
Weddenskappe oor of Oscar skuldig is of nie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.