Petisie oor waterkrisis by parlement ingedien

Bernard Pieters, AfriForum se omgewingsakekoördineerder vir Kaapstad-Noord, voor die parlement met 'n afskrif van die petisie. Foto: Verskaf

Bernard Pieters, AfriForum se omgewingsakekoördineerder vir Kaapstad-Noord, voor die parlement met ‘n afskrif van die petisie. Foto: Verskaf

AfriForum het Woensdag ’n petisie by die parlement in Kaapstad ingedien as ’n desperate oproep tot aksie om die waterkrisis in Suid-Afrika op te los.

“Ons het ’n petisie by die parlement ingedien waarin ons Baleka Mbete, die Speaker van die Nasionale Vergadering, versoek om ’n ad hoc- parlementêre komitee aan te stel om die waterkrisis te ondersoek,” het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, gesê.

“Die komitee moet ook die prestasie beoordeel van die departement van water en sanitasie (DWS) en die bevoegdheid van die minister van water en sanitasie om as minister te dien van ’n departement wat die bewaarder is van dié kritieke hulpbron.”

AfriForum het ’n kritiese feiteblad voorsien wat die organisasie se kommer beklemtoon oor die hantering van die waterkrisis deur die DWS, sy minister en haar departement. Dit eis ook drastiese verandering en aksie.

“Ons is diep bekommerd oor die swak bestuur en handhawing deur die waterreguleerder, wat nou die hele land weens ’n tekort aan voorsiening en gehalte van waterhulpbronne aan risiko blootstel,” het Kleynhans bygevoeg.

Die hoofpunte wat in die temas van die feiteblad beklemtoon word, is soos volg:

  1. Suid-Afrika het nie die Millennium Ontwikkelingsdoelwitte se teikens vir watersanitasie bereik nie;
  2. Suid-Afrika is onvoorbereid op die nuwe Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte;
  3. Die DWS het enorme onderbesteding op sy begroting gemeld;
  4. Die kommerwekkende verslag van die ouditeur-generaal;
  5. Bekommernisse oor die gehalte van drinkwater en die DWS se ondoeltreffendheid as die reguleerder van waterdienste;
  6. Groeiende onbetroubaarheid van watervoorsiening;
  7. Wydverspreide openbare ontevredenheid met waterdienste;
  8. Ontoereikende beplanning en droogte-aanpassingsplanne;
  9. Nasionale waterhulpbron-infrastruktuur benodig dringend ’n Nasionale Infrastruktuuragentskap;
  10. Beskerming van waterhulpbronne teen besoedeling en ooronttrekking;
  11. Munisipale Afvalwaterbehandelingswerke in krisis;
  12. Ontoereikende vordering om watervraag te beperk en waterverlies te verminder;
  13. Ernstige ekonomiese, gesondheids- en maatskaplike gevolge indien die waterkrisis nie erken word nie.

AfriForum het gemeld dat ’n onafhanklike waterreguleerder steeds ’n belangrike rol in Suid-Afrika kan speel of selfs moontlik die huidige donker prentjie van watergehalte en -voorsiening, asook die bestuur daarvan in die land kan verander. “As ons ’n onafhanklike gesag gehad het wat nie deur politiek gemotiveer word nie, maar deur die handhawing van ons water- en dienstewetgewing, sou ons minder lekkasies, minder openbare klagtes en protes, skoner riviere en damme, gesonder gemeenskappe, ’n groeiende ekonomie en meer water gehad het,” het Kleynhans gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

BullsEye ·

Hulle gee nie om nie..sal dalk wakker skrik as dit te laat is..dankie Afriforum vir jul toewyding aan so belangrike saak.

Theresa B ·

Julle petisies so veel as wat julle wil. Hulle weet nie wat om te doen nie. Die petisies sal ook nog gebruik word vir afveepapier……………………………….

Piet Springbok ·

As dit nie reen nie en dis droogte kan Afiforum nie die regering daarvoor blammeer nie Die ANC kan nie besliut waanneer dit moet reen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.