Petisie opgestel oor SA paspoortkrisis oorsee

(Foto: Love South Africa/Facebook)

Die DA, in samewerking met SAPeople, het ʼn petisie van stapel gestuur om talle Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon en werk en wat sukkel om hul paspoorte te hernu, by te staan. Talle Suid-Afrikaners sukkel reeds maande lank om hul paspoorte te hernu om sodoende in die buiteland aan te bly.

Van hierdie Suid-Afrikaners sit met hul hande in die hare, want indien hul paspoorte nie betyds hernu word nie, sal hulle moontlik sak en pak moet terugkeer Suid-Afrika toe.

Die DA-LP Adrian Roos het aan die minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, geskryf om te vra dat sy departement ’n manier vind om die Suid-Afrikaners wat dringend hul paspoorte se tyd van hernuwing moet verleng, te help.

Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, werk en studeer, moet ses tot twaalf maande wag op hul paspoorthernuwings. Indië het onlangs ’n tydsduur van twee dae tot twee weke aangekondig vir hul burgers wat paspoorte in die buiteland moet hernu.

“Die Covid-19-pandemie het ’n reeds onaanvaarbare situasie vererger met die sluiting van Suid-Afrikaanse ambassades wat Suid-Afrikaanse burgers in die buiteland gestrand gelaat het,” het Roos gesê.

Talle ambassades wat nou reeds heropen het, het vier tot ses weke lange waglyste van mense wat wag om vir paspoorthernuwings aansoek te doen.

Die DA sê volgens die Grondwet het elke burger in die land die reg op ’n paspoort. Indien Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon se paspoorte verval, kan dit ernstige gevolge vir hul immigrasiestatus, werk en hul vermoë om toegang tot gesondheidsorg te kry, inhou.

Die DA sê uit die mediaverklarings wat deur die minister uitgereik is, is dit duidelik dat hy nie die probleme verstaan waarmee Suid-Afrikaners in die buiteland gekonfronteer word as hulle nie hul paspoorte betyds kan hernu nie.

“Die Suid-Afrikaners het hul paspoorte en ander dokumente nodig om wettig in hul woonlande te kan funksioneer; om te werk, om as wettige inwoners te bly en toegang tot belangrike dienste soos gesondheidsorg en onderwys te verkry.”

Die DA en SAPeople gaan die petisie aan die minister van binnelandse sake oorhandig. Met die petisie wil hulle verseker dat Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, werk en studeer en wat lank wag vir hul hernieude paspoorte, vir ’n noodpaspoort kan aansoek doen terwyl hulle wag om hul paspoorte te hernu. Met die petisie versoek die DA dat maatreëls ook ingestel word om die tyd vir paspoortaansoeke uit die buiteland te verminder, insluitend elektroniese aansoeke.

“Met die petisie wil ons ook met die departement van internasionale betrekkinge en samewerking konsolideer om te verseker dat alle fasiliteite waar in die buiteland aansoek vir ʼn paspoort gedoen word, ten volle oop is vir sake en dat dit aan die Covid-19-veiligheidsmaatreëls voldoen.”

ʼn Suid-Afrikaner, wat anoniem wil bly, wat al twee jaar in Thailand werk, is ook al moedeloos sedert hy al in September verlede jaar by die ambassade in Bangkok aansoek gedoen het vir ʼn nuwe paspoort. Die ambassade het gesê die aansoek word begin Oktober ingestuur en sal ses tot agt maande neem om uitgereik te word. Hy het steeds nie sy paspoort ontvang nie en het dit nodig om in September sy werksvisum te hernu.

“Ek het in Desember en Februarie navraag gedoen, maar daar was nog geen nuus nie. Teen Maart was daar nog geen terugvoer nie, en toe vererger Covid-19 die situasie verder,” vertel die Suid-Afrikaner.

Hy vertel dat hy sedert Maart elke maand vir die ambassade e-posse skryf om navraag te doen oor die status van die paspoort. “Die antwoord van die ambassade is elke keer dieselfde, dat hulle nog geen terugvoer van binnelandse sake ontvang het nie.”

Die Suid-Afrikaner sê daar is ’n moontlikheid dat immigrasie nie sy visum sal goedkeur sonder sy paspoort nie, en dan sal hy nie verder in Thailand kan werk nie.

“Dit gaan ʼn groot finansiële en emosionele impak op my hê. Ek gaan my hele lewe hier moet agterlaat.”

Teken die DA se petisie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

Die die vervlakse ANC regering se werk, maar nee die DA en privaat organisasies moet weer help. Ramaposa belowe die van Wyk gesin in die Kaap dat hulle behoorlike behuising sal kry, en wie begin gister met die werk? Die privaat sektor. Hoeveel keer moes die howe al is regering beveel om te doen wat hulle moet? Die ANC het die kuns vervolmaak om niks te doen en tog besig te lyk.

Anoniem ·

Korrek, hulle verstaan ook nie die verskil tussen ‘n besige persoon en ‘n “busy body” nie.

Anton ·

Behalwe dat werksvisum nie hernu kan word nie kan mense in bv Thailand nie terug kom nie want alle grense is toe. Die probleme kom al van lank terug, n paar jaar gelede hernu ek en my vrou op dieselfde tyd ons paspoorte by die Ambasade in Dubai, ek kry myne na 8 maande en sy na n jaar. Help nie om iets te probeer uitvind nie, niemand daar antwoord n foon of epos nie.

Adam Adriaan ·

Die ANC kan nie vertrou word nie. Hulle hou hulself besig met mat alles wat nie saak maak nie. Dit wat wel saak maak het hulle nie ‘n saak mee nie. Kyk net waar kan hulle hulself verryk deur deur onwettighede. As daar voordeel vir hulle is sal hulle die gene in die buiteland onmiddelik help. ‘n Paar stawe goud sal die saak beredder

John ·

……kyk as die ANC nie by nou al weet dat nie ‘n land kan regeer nie……hulle kry net mooi niks reg nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.