Petisie teen Trump se besluit oor staal

Argieffoto (Foto: MEIBC, Facebook)

Die VSA se besluit op 8 Maart 2018 dat daar invoertariewe op staal en aluminium ingestel gaan word, het wêreldwyd ʼn handelskrisis in die staalbedryf veroorsaak.

Dié tariewe van 25% op staal en 10% op aluminium gaan baie nadelige gevolge inhou vir die Suid-Afrikaanse staal- en aluminiumbedryf, sê die vakbond Solidariteit. Nagenoeg 7 500 poste in Suid-Afrika kan deur die VSA se besluit geraak word. Plaaslike vervaardigers wat direk deur die nuwe tariewe geraak word, sluit in ArcelorMittal, South 32, Hulamin, Duferco, Cisco en Columbus Stainless.

“By Solidariteit sien ons ons lede as deel van ʼn groot familie. As lid van Solidariteit moet u besef dat daar tienduisende van ons Solidariteit-lede, in jou omgewing ook, is wat in die metaal- en ingenieursbedryf werk,” sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Dié krisis is baie naby aan elkeen van ons. Ons glo in #HelpMekaar. Ons verstaan die kommer en spanning en is besig om alles wat ons kan te doen om ons lede wat moontlik direk of indirek geraak kan word, te beskerm en te ondersteun.”

Wat is die plan?

Solidariteit het vandag ʼn omvattende veldtog teen die VSA se tariewe op staal van stapel gestuur. Een van die stappe wat Solidariteit gaan doen, is om staalwerkers en die publiek se stem na die VSA te neem deur ʼn petisie op die Withuis se webwerf in te dien. Die petisie is reeds op die Withuis se webwerf in die VSA geregistreer. Dié petisieplatform is ʼn instrument wat die VSA gebruik om belangrike sake van gemeenskaplike belang te identifiseer en op die agenda te plaas.

Solidariteit wil alle Suid-Afrikaanse werkers mobiliseer om hul landgenote in die staalbedryf te ondersteun deur die petisie te gaan onderteken. Die petisie is aan president Trump gerig en hy word versoek om die invoertariewe op Suid-Afrikaanse staal te heroorweeg. Die petisie kan tot 27 Junie 2018 onderteken word.

ʼn Vierledige strategie

Solidariteit se veldtog behels ʼn omvattende vierledige strategie om die impak van die wêreldwye staalkrisis weens die VSA se handelstariefveranderinge op Suid-Afrikaanse werknemers die hoof te bied. Lees meer.

Die Highveld Steel-krisis het tot die verlies van 1 800 permanente werksgeleenthede gelei. Solidariteit moes hier ingryp en het deur Solidariteit Helpende Hand tweeweekliks kospakkies met basiese produkte en sanitêreware aan Highveld Steel se werknemers verskaf. “Daar bestaan ʼn groot moontlikheid dat die werkverliese in hierdie geval minstens vier keer meer gaan wees. Ons moet sorg dat ons gereed is om gemeenskappe wat geraak word, te ondersteun. Om dieselfde basiese kospakkies tweeweekliks aan 7 500 mense te lewer, sal ongeveer R3,75 miljoen per maand kos en dit sluit verblyf- en munisipale koste uit.

“Ons kan nie bekostig om net te wag en kyk wat gebeur nie,” voeg Hermann by. “Ons versoek elke lid van Solidariteit om die petisie te voltooi. So wys ons dat ons werklik saam kan staan vir ons Solidariteit-broers en -susters in die staalbedryf. Ons het egter ook steeds hoop. Ons glo ons moet reeds begin dink aan herstelplanne vir die langtermyn. Highveld Steel is weereens ʼn groot suksesstorie wat as voorbeeld kan dien van hoe ʼn mens weer kan begin bou ná so ʼn krisis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

lienkie ·

rog doen solidariteit niks, absoluit niks om te keer dat blankes oor 55 hulle werke verloor nie. mense op hierdie ouiderdom kry nou eers geleentheid om ye spaar vir hulle afttede en dan sit hulle sondder werk. afgedank oor die een of ander nietigheid. yerwyl vigsgevalle wat te swak is om hulle armsnop te lig aangehou word.

Bok ·

Is die mense wat afgelê word lede???
As hulle afgelê word hardloop hul na Solidariteit vir hulp.

Carel ·

Lienkie jy moet net onthou dat Solidariteit nie towenaars is nie. Almal verwag dat hulle nou alles moet regkry en dat hulle duisende individuele gevalle met hand en tand moet veg, en as die uitslag nie positief is nie word hulle sleg gese, en word aan hulle toegedig dat hulle “absuluut niks” doen nie. Solidariteit bring tog ‘n beweging weg van korrupsie en diskriminasie, en het menige gevalle aangepak met groot vrug resultate gehad. Hulle is een beweging wat staan teen ‘n oormag en verg hulle goed van hulle taak.

Piet Wepener ·

Verbaas oor reaksie van staal invoere na VSA
Hoekom word daar nie iets gedoen om die INVOER van lae kwaliteit staal van China te belas nie,,dit het ook bygedra tot werks verliese ens
Ons as vevaardigers moet probeer om kwaliteit produkte lokaal te vervaardig met swak materiaal. Maak nie sin nie.

Wolf ·

Lees ek dit reg?
Solidariteit Helpende Hand verskaf twee weeklikse kospakkies? Waar is die ander vakbonde se hulp?

Napoleon ·

Dit is reg dat hierdie dinge gebeur. Die vorige regering het oorgegee agv buitelandse druk, dit is die enigste manier hoe die huidige regering tot n val gebring sal word. Eers wanneer die Afrikaner niks meer het nie, sal hy besef dat die enigste opsie vir voortbestaan by selfbeskikking le, waar ons vir onsself sorg en nie ander hoef te subsidieer nie.

Yankee ·

Die reus het genies. Die Wereld binnekort n magtige longontsteking.

Eugene ·

Wel kom ons kyk of Mnr Trump ons genadig sal wees in ons moeilike tyd
Wie weet ,dalk het hy n sagte plekkie vir ons

gatiep ·

Klagte oor staalprys klaar voor Trump se lessenaar maar nog niks van die erge moorde wat hier plaasvind nie.
Is ons lewe regtig nou so min werd.

Amelita ·

Ons soek Amerika se hulp met plaasmoorde en grondonteiening, maar nou wil ons hul voorskryf wat om tedoen in hulle eie land. Ek dink dit is arrogant van ons. Besluit wat wil julle he , kan regtig nie ons brood aan albei kante gebotter kry

christa ·

dis reg so. Laat Trump SA terugkry vir sy misdaad van boere.

christa ·

Dink mooi jy slaan die spiker op sy kop. Ek hou baie van Trump. Hy kyk na sy land se mense

Grassie ·

Die regering kritiseer en opponeer die VSA gedurig in die VVO en spoel ook dikwels mond uit teen die Yanks in die media. Daar was by voorbeeld gisteraand op Kyknet (ook maar ‘n regeringsvriendelike instansie) ‘n ellelange smeerberig teen Trump oor hoe ‘n groot leuenaar hy is wat konsuis die hele wêreld aanmekaar belieg. Dink hulle ou Trompie word nie ingelig oor hierdie dinge nie? Nou word daar lang trane gehuil as Trump die pasellakraantjie begin toedraai. Dink hulle werklik jy kan ‘n man met jou voet onder sy alie skop en tersefdertyd bakhandjies voor hom hou vir ‘n aalmoesie?

Donald ·

In tyd van oorlog is staal een van die belanrikste komoditeite. Dus as jy Trump is wil jy nie he brics lande soos China, Rusland en Suid Afrika moet n se he nie. Die tariewe verhoog Amerkaanse produksie omdat dit dan goedkoper raak en verlaag invoere en produksie van potensiele vyande. Trump het onlangs die grootste weermags begroting tot op hede verkondig. Net nog n gedagte…. As daar n wereld oorlog uibreek in die toekoms tussen lande soos Amerika, Rusland en China wie dink julle gaan ons voor moet gaan baklei as ons betrek word. Onder die huidige regering kan ek sterk sien dat hulle eerder saam met komunistiese groepe sal handjies vas hou… net n gedagte

Net so ·

Ek stem saam met Grassie. Die mentaliteit van die regering is dat ons kan doen wat ons wil, ons is in beheer. Ongelukkig werk dit net in SA, die grootheidswaan in die globale wêreld maak nie ‘n blip teen groot moondhede soos die USA nie . Trump het klaar krane toegedraai tov donasies aan Afrika. Die USA se beleid was altyd, kom ons help Afrika, want anders word dit later ons probleem as hulle hierheen vlug. Ons praat van Biljoene $ aan “US Aid”. Trump het besef die meeste geld gaan aan die korrupte leiers en kom nie uit waar dit moet nie. Afrika sal ongelukkig moet begin leer om op sy eie voete te staan. Een so “US Aid” organisasie het medikasie verskaf in SA en Afrika lande. Dit kom vroeg vlg jaar tot einde. Wanneer die mense in die Parlement skree “White Monopoly Capital” vergeet hulle dat regerings leiers in ander lande ook “wit” is en dit sien as ‘n persoonlik aanval teen hulle ook. Derhalwe kan SA nou maar bakhand staan oral, vlg Trump sal hy nie meer duld dat mense die USA beledig en verkleineer en dan te reg, soos Grassie sê, bakhand staan nie. Trump sorg vir sy eie mense, die verdeling van USA belastingbetalers se belasting aan Afrika is besig om te stop, te reg ook. Hoekom moet hulle beledig word en steeds bly sorg vir Afrika? Kaptalisme en ekonomie het ‘n tendens om alles reg te trek.

Gerhard ·

Ek wonder net hoe Solidariteit se aksie plan om oorsee te gaan hulp kan werk as hulle nie bereid is om die pyn te vat wat kom met enige “druk” van oorsee nie. As ek C.R. was het ek vir julle gelag. Hy moet weet hy het klaar gewen.

Waarheid ·

Elke brand vererger ons saak, werêld wyd ook
VSA kan sien en hoor en ek glo, sal dié help wat hulself en al hul burgers se regte respekteer.
VRA is vry en weier daarby ook.

t ·

Wat is fout met die hele opset? Amerika het besluit om meer werksgeleenthede te skep deur die Sjinese storting te probeer beperk. Dit werk vir hulle. Hoekom kan ons nie ook leer nie. Verminder die invoere van Sjinese staal. Dan het ons eie vervaardigers geen ander keuse as om produktiwiteit te verhoog om in die plaaslike behoefte te voorsien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.