Petisies oor Eskom en brandstofprys by parlement ingedien

Dr. Eugene Brink en Morné Mostert. Foto: AfriForum

Die burgerregte-organisasie AfriForum het twee energieverwante petisies – onderskeidelik oor Eskom en die brandstofheffing – by die parlement ingedien.

Morné Mostert, hoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê Eskom en die elektrisiteitsektor moet dringende aandag op die hoogste vlak geniet. “Die kragreus het onder verskeie korrupsieskandale deurgeloop en die tesourie het ook verslae uitgereik oor Eskom se verskeie oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1 van 1999. Die wanbestuur van nuwe kragstasies en rampspoedige steenkoolkontrakbestuur laat Suid-Afrika onder hewige beurtkrag deurloop. Eskom se skuld beloop nou al nagenoeg R420 miljard.

“Dit is nou reeds baie duidelik dat Eskom, as struktuur met ’n monopolie op kragopwekking, nie na behore funksioneer om betroubare kraglewering te verseker nie. Genoeg is genoeg. Ons het ’n parlementêre debat nodig oor hoe Eskom gedesentraliseer kan word en hoe daar na oplossings gesoek kan word om Eskom te ontbondel. Ons versoek die parlement ook om ’n kommissie van ondersoek oor Eskom se sake aan te beveel,” sê Mostert.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer by AfriForum, sê hoewel daar ’n groot daling in die brandstofprys in Desember was, betaal Suid-Afrikaners steeds te duur daarvoor. “

Dit bly bo R15 per liter aan die einde van 2018, terwyl dit R13,54 in Maart vanjaar was en R12,61 in 2015. Nie net betaal ons duurder by die pompe nie, maar dit het ook ’n uitwerking op inflasie sodat ander goedere soos kos ook vinniger duurder word. Die jongste daling is voorafgegaan deur massiewe stygings en gaan waarskynlik ook deur nuwe stygings in die nuwe jaar ongedaan gemaak word,” sê Brink.

Volgens hom moet daar weer na die brandstofheffings gekyk word. “Nasionale en provinsiale staatsdepartemente asook die meeste staatsbeheerde ondernemings het in 2017-’18 minstens R51 miljard onreëlmatige besteding aangegaan. Die Padongelukkefonds (POF), wat sowat R2 van elke liter brandstof se prys ontvang en oor ’n jaarlikse begroting van sowat R37 miljard beskik, was vanjaar in die nuus omdat hulle R1 666 per maand per stoel ingevolge ’n twyfelagtige kantoormeubelkontrak moes opdok.

“Indien hierdie soort vermorsing en praatjies oor byvoorbeeld onteiening sonder vergoeding uitgeskakel kan word, kan die POF se werking asook ander uitgawes wat deur die algehele brandstofheffing gedek word, betaal word.

“Ons vra dat daar ook ’n parlementêre debat oor die verlaging van die onderskeie brandstofheffings in die konteks van hierdie vermorsing en algehele ekonomiese beleid plaasvind, want verbruikers kan eenvoudig nie meer verdere druk absorbeer nie,” sluit Brink af.

Die twee petisies is ook aan die departement van energie gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

James ·

Ons het ons vakansie geld gevat en n generator gekoop en sit nou tuis, en nou gaan krag nie meer af nie. Dankie eskom nou sit ons due vakansie TUIS met n generator wat nie eers nodig was nie!!!!!

Gemaskerde Sopbeen ·

Moenie te gou opgewonde raak nie James…..jy GAAN nog daai kragopwekker nodig kry, gee kans. Jy’s eintlik baie gelukkig…..Sit net met EEN kragopwekker. Daar is ‘n hele paar kleinhandelaars in hierdie landjie wat erg hande geklap het toe beurtkrag weer ‘n realiteit word….Hulle sit nou met vertoonkamers VOL kragopwekkers, wat toe nou nie so goed verkoop as wat hulle gehoop het nie!!

Piet Lourens ·

Ek hou al vir meer as 20 jaar vakansie by die huis. Dit is baie lekker. Geen verkeer stres, tou in winkels ens. Jy sal verbaas wees wat jy alles kan doen sonder om geld uit te gee. Geniet dit

Tiaan ·

Daar is nie n manier wat ek kosbare vakansie geld op n kragopwekker mors nie. So nou en dan sonder krag is nie die einde van my wêreld nie.

Nico ·

Afri firum julle moet maar maak soos die inwoners van Frankryk. Maar nouja due ANC se onderdane dien dit ak vir jare en niks verander nie so ek weet nie dut gaan help nie.

henk ·

“die kragreus het onder verskeie korrupsie skandale deurgeloop” TOG word daar NERENS berig dat een enkele krimineel al in hegtenis geneem is vir hierdie korrupsie nie. en die mees kommerwekkendste is die feit dat almal wat oor die korrupsie raas, doen NIKS om die kriminele vervolg te kry nie!

Jack Daniel ·

Lol!! Netso Henk! Het my ookal Dai vraag af gevra.
Net soos a blaffende hondjie wat by die draad staan n kef n nie te lank nie Dan le hy langs die skelms rustig n slaap.
Al die commotion n niks kom daarvan.
Is dit miskien dat hul hand op die blaas is met die skelms.

jaco ·

handig sommer ook n petisie by die parlement in teen parlementslede se reusagtige salarisse: gewone lede van ALLE partye (vanaf sosialistiese EFF tot die “wedergebore Christene in die ACPP) kry elkeen R1,3miljoen PER JAAR plus n onthaaltoelae, plus verniet vlieg, plus n lekker motor plus n vet petroltoelae. net daardie petroltoelae alleen beteken dat ‘n petrolprys van selfs R25 per liter hulle glad nie sal pla nie.
Eintlik bou elke parlementslid maar lekker met hierdie vet vergoeding aan ‘n mini-Nkandla.
NS: Die bybeltekste “dis makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as om die hemel te kom” en “the love of money is the root of all evil” is seker toegeplak in die Bybels van die ACPD se parlementslede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.