Petrol styg dalk net effens; diesel moontlik goedkoper

petrolpomp 2

Argieffoto.

Die Automobiel Assosiasie van Suid-Afrika (AA) voorspel dat motoriste van volgende maand af effens meer vir petrol sal betaal terwyl die prys van diesel na verwagting sal daal.

Die AA sê in ʼn verklaring die pas waarteen die rand die afgelope maand teen die Amerikaanse dollar verswak het, het begin afneem.

Internasionale oliepryse het tydens dieselfde tydperk ook effens afgeneem. “As gevolg hiervan sal die prys van petrol na verwagting met omtrent 2c per liter styg en paraffien met 4c per liter.”

Die AA verwag egter die prys van diesel sal met sowat 4c per liter daal. “Ná talle opeenvolgende brandstofverhogings is dit nodig dat motoriste bietjie asem skep.”

Dit blyk egter dat internasionale oliepryse weer teen einde Julie duurder begin raak en volgens die AA sal motoriste se begrotings tot die einde van die jaar onder druk bly.

“2018 is tot dusver ʼn jaar van onbestendigheid in die brandstofprys, en die rand en olieprys wat wipplank ry, dui daarop dat versigtigheid die wagwoord moet wees.”

Motoriste betaal vanaf 4 Julie 26c per liter meer vir 93-oktaan-petrol en 23c meer vir 95-oktaan-petrol. Die prys van 0,05%-sulfaat-diesel het met 26c per liter gestyg en die prys van 0,005%-sulfaat-diesel met 24c per liter.

Die landwye betogings teen die hoë brandstofpryse wat vir vandag beplan was, is op die laaste nippertjie afgestel.

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto; David Ritchie/ANA)

People Against Petrol and Paraffin Price Increases (PAPPPI), ʼn organisasie wat op die been gebring is om verhogings in brandstofpryse teen te staan, het vroeër vandeesweek beplan om vandag oor die hele land betogingsoptredes te hou ten einde die regering te dwing om oor dié kwessie in te gryp.

Die DA en die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het ook vroeër vandeesweek geëis dat die brandstofheffing dringend met R1 per liter verminder word. Die ANC het verlede maand ʼn beroep op die regering gedoen om die brandstofheffing te bevries of te verminder. Die IVP het gevra die heffings moet afgeskaf word.

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag gesê die regering gaan ʼn stel ekonomiese maatreëls bekendstel wat sal help om die las te verlig wat Suid-Afrikaners dra in terme van die styging in die brandstofprys asook BTW. Ramaphosa het die ministers in die ekonomiese groepering tot 30 Julie kans gegee om vorendag te kom met voorstelle oor hoe verligting aan verbruikers deurgegee kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ella ·

Dalk sou ons beter gevoel het julle berig het “dalk 4c af”.
Feit is dit gaan nooit weer afkom want die regering kan nie sonder die heffings die boeke laat klop. Maar hoe meer ons betaal hoe minder klop die boeke. Sal dalk help as die stelery en korrupsie ophou maar daarvan sal dadels kom.
So, nog steeds niks om oor bly te voel in hierdie arnsalige land.

jaco ·

Stel die petrolprys vas op 1 April elke jaar. Dit is tog die begin van die finansiële jaar. Hou dit dan dieselfde tot 1 April die volgende jaar. Dit sal ALMAL se lewe makliker maak en sorg vir beter vooruitbeplanning, want dan weet ons mos presies wanneer om die volgende verhoging te verwag.

Jonathan ·

Sasol verskaf nie net die helfte van die brandstof verbruik nie hulle voer ook die res uit na ander lande.
Dis onregverdig teenoor die publiek.

HAAS ·

Ry in Lesotho in…. Suid Afrikaanse brandstof word daar afgelewer, en is baie goedkoper as die kant. Weet van mense wat naby grens bly, ry oor grens, maak vol, kom terug….

dr. Sakkie van der Merwe ·

Skielik is daar ‘n klein styging – is dit weens die weerstand? September maand dan skiet dit verder op om Zuma se regskostes te betaal.

Adri ·

Ja, ek het nie gedink die goewerment gaan so gou skrik vir dreigende betogings nie. Dit is duidelik die enigste taal wat hulle verstaan.

Avra ·

Hoe kan brandstof met 2c/4c styg of daal as ons nie eers sulke geldeenhede het nie…

Adam ·

In watter land is 1 April die begin van die finansiele jaar?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.