Petrolbomme gegooi oor Sanral-uitsettingsbevel

Argieffoto Foto: SAPS, Facebook

Argieffoto Foto: SAPS, Facebook

Die polisie in die Wes-Kaap het bevestig betogers het Dinsdag in Lwandle buite Kaapstad petrolbomme gegooi.

“Die betogers het petrolbomme gegooi en bande aan die brand gesteek,” het lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die situasie is gespanne, maar die polisie behou die wet en orde.”

Die polisie het toesig gehou oor ʼn uitsettingsbevel deur die balju.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Sewe mense is Maandag in verband met openbare geweld in die gebied in hegtenis geneem. “Die polisie het beslag gelê op drie petrolbomme,” het Traut gesê. “Die verdagtes sal in die hof verskyn sodra hulle aangekla is. Hulle is tans in polisie-aanhouding.”

Die ANC het Dinsdag aangevoer die uitsetting is ʼn straf vir mense wat nie op 7 Mei in die algemene verkiesing vir die Demokratiese Alliansie gestem het nie. “Die ANC veroordeel die uitsetting deur die Kaapstadse metro sonder dat alternatiewe behuising verskaf word soos deur die wet vereis word,” het Zizi Kodwa, woordvoerder van die party, in ʼn verklaring gesê. “Dit ondermyn demokrasie en vryheid van keuse.”

Die geweld het Maandag begin nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof vroeër vanjaar ʼn uitsettingsbevel aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) toegeken het. Sanral is die eienaar van die stuk grond.

Siyabulela Mamkeli, burgemeesterskomiteelid van die stad Kaapstad, het Maandag in ʼn verklaring gesê die interdik het die balju en die Suid-Afrikaanse Polisiediens die mag gegee om die bevel uit te voer. Dit is teen enige persoon of struktuur op die betrokke grond wat die bevel verontagsaam. “Die balju is deur sy kontrakteurs bygestaan om enige strukture te verwyder ná ʼn onwettige besetting op die grond wat aan Sanral behoort,” het Mamkeli gesê.

Kodwa sê die ANC het die nasionale departemente van vervoer en menslike nedersetting versoek om in te gryp.

Mamkeli sê die polisie ondersteun die balju se aksie. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rudi ·

Dis waarom die EFF 10% van SA as ondersteunes het. Die arm werklooses is despiraat vir grond naby die stede.

Peter Says ·

Mmmm, die rooimiere kan elders in die land maar uitsit, maak en breek nes hulle wil en dit, haal nie die nuus nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.