Petroleum-vakbonde verklaar dispuut

Argieffoto

Argieffoto

Vakbonde in die petroleumbedryf het ‘n geskil verklaar met die betrokke werkgewers nadat geen ooreenkoms vandeesweek in die salarisonderhandelings bereik kon word nie.

Dit is reeds die tweede ronde van onderhandelings tussen die onderskeie partye bereik, het die vakbond Solidariteit Vrydag gesê. Hoewel Solidariteit ook ʼn geskil met die werkgewer verklaar het, is die vakbond steeds vasbeslote om ʼn gunstige ooreenkoms, wat in sowel die werknemer en die werkgewer se beste belang is, te bereik.

Marius Croucamp, bedryfshoof in die chemiese bedryf by Solidariteit, meen die geskilronde, wat oor twee weke plaasvind, bied aan partye die geleentheid om nader aan ʼn ooreenkoms te beweeg. “Hoewel die proses nou uitgestel en verleng word, meen ons die geskilronde is nodig ten einde konstruktiewe onderhandelings voort te sit. Ons lede besef dat stakings selde in werknemers se guns is, en daarom verkies ons om eerder rondom die onderhandelingstafel op ʼn konstruktiewe wyse met die werkgewer te onderhandel,” sê Croucamp.

Croucamp sê dat hoewel daar steeds ʼn verskil van drie persentasiepunte is tussen Solidariteit se huidige eis en die werkgewer se aanbod, die vakbond positief is dat hy tydens die volgende ronde onderhandelings ʼn ooreenkoms met die werkgewer sal kan bereik. “Uitgerekte onderhandelings is in niemand se belang nie. Ons beywer ons daarvoor om die beste moontlike salarisooreenkoms vir ons lede te beding sonder dat die proses enige negatiewe gevolge vir ons lede of die werkgewer inhou,” verduidelik Croucamp.

Solidariteit het vroeër reeds aangedui dat besparingsinisiatiewe van sleutelmaatskappye in die petroleumbedryf vanjaar se onderhandelings met die Nasionale Bedingingsraad vir die Chemiese Bedryf (NBCCI) gaan oorheers. Sasol se Projek Phoenix, waarmee die maatskappy poog om sy bedryfskoste met tot R3 miljard oor die volgende drie jaar te verminder, is een van die groot faktore wat vanjaar se onderhandelings beïnvloed.

Solidariteit eis tans ʼn salarisverhoging van 10% vir sy lede in die bedryf, terwyl die werkgewers tans ʼn verhoging gelykstaande aan die VPI-inflasiekoers plus een persentasiepunt, wat oor twee jaar strek, aanbied. Solidariteit verteenwoordig nagenoeg 5 000 lede in die petroleumbedryf alleen. Onderhandelings met die NBCCI het in Mei begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.