Petroljoggie bly agter tralies oor beweerde kubermisdaad

Die Valke het ‘n petroljoggie, Sifiso Masuku in Middelburg aangekeer. (Foto: SA Polisie)

ʼn Petroljoggie van ʼn vulstasie op die N4 naby Middelburg in Mpumalanga bly agter tralies nadat hy met ʼn kaartkloningtoestel betrap is.

Sifiso Masuku (32) het Woensdag vlugtig in die Middelburg-distrikshof op aanklagte van die oortreding van die Wet op Kubermisdrywe verskyn. Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê Masuku – ʼn burger van Eswatini – is Maandag aangekeer.

Die saak is tot Vrydag vir die bevestiging van sy adres uitgestel.

Masuku se inhegtenisneming volg nadat ondersoekers van Absa en FNB tydens ʼn interne oudit snuf in die neus gekry het dat ʼn kloningtoestel moontlik deur petroljoggies by die vulstasie gebruik word.

Dié inligting is na die Valke vir verdere ondersoek verwys.

Masuku, wat in daardie stadium aan diens by die vulstasie was, is in besit van die kloningtoestel betrap.

Die waarde van die transaksies wat met die toestel verwerk is, moet nog bepaal word, maar dit word reeds op sowat R400 000 geraam. Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pierre ·

Go Shell, nie baie goeie advertensie nie, sekerlik was meer mense bewus wat aan gegaan het.

Di ·

Daar is meer kriminele in die land as wetsgehoorsame mense. Wat gaan aan met die spul?

Papsak ·

Ja ek stem goeie dae gewees nie soos nou nie maar ja wat sal ons se hulle is nou maar net rowers en skelms !!!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.