Petroljoggie skryf nou ook ‘ysterman’ agter sy naam

Petroljoggie Kura Mazongo spog met die Ironman-medalje wat hy verower het. (Foto: Verskaf)

Van aanhou en vasbyt kan jy vir Kura Mazongo min vertel. Dié petroljoggie van die Oos-Kaap het Sondag sy eerste Ironman voltooi en was die volgende dag terug op sy pos om klante by die Engen Mount Pleasant-vulstasie in Gqeberha (Port Elizabeth) met ʼn glimlag te bedien.

Maar agter Mazongo se glimlag skuil ʼn vasberadenheid wat hom aangespoor het om van die taaiste uithoubyeenkomste in sport te voltooi. Vier Comrades-marathons en twee Twee Oseane-medaljes later, het Mazongo besluit dit is nou tyd vir ʼn selfs groter uitdaging.

Nadat hy Sondag ʼn moordende 3,8 km se swem, ʼn fietsrit van 180 km en ʼn marathon tydens die Ironman-kompetisie voltooi het, kan hy nou ook die titel van ysterman by sy lys prestasies voeg.

Terug by die werk hang Mazongo se medalje om sy nek terwyl hy ewe geesdriftig brandstoftenks opvul en windskerms skoonmaak.

“Nadat ek die eindstreep oorgesteek het, het ek nederig en bevoorreg gevoel om aan so ʼn toonaangewende byeenkoms deel te neem,” sê die Zimbabwiër wat reeds tien jaar lank by die vulstasie werk.

Mazongo aan’t oefen voor die byeenkoms. Sy eie fiets is ‘n paar maande gelede gesteel en het byna sy droom gekelder om aan die byeenkoms deel te neem. (Foto: Verskaf)

“Dit was ʼn ongelooflike ervaring. Ek sou dit egter nie sonder die ondersteuning van my familie, my werkgewers by Engen Mount Pleasant, die Gqeberha-gemeenskap en die mense agter die Ironman kon doen nie.”

Julius Jeppe, eienaar van die vulstasie, sê Mazongo is uiters toegewyd aan sy sport.

“Ons is geweldig trots op sy prestasies. Hy is welbekend vir sy toewyding en geesdrif vir uithousport.”

Jeppe ondersteun Mazongo se droom ten volle en moedig hom aan om passievol oor sy deelname aan sportbyeenkomste te bly.

Mazongo het ekstra skofte gewerk om die R7 000 te spaar wat hy nodig gehad het om ʼn intreevlak-resiesfiets te koop. Sy droom om aan die Ironman-kompetisie deel te neem het egter byna skipbreuk gely toe sy fiets in Junie vanjaar gesteel is. Dit was ʼn reuseterugslag en vir ʼn oomblik het Mazongo gevrees sy deelname is van die baan.

Mazongo en die eienaars van die vulstasie waar hy in Port Elizabeth werk. (Foto: Verskaf)

Danksy die steun van sy familie en die plaaslike Ironman-gemeenskap, het hy in Augustus ʼn fiets geleen. Kort voor die kompetisie het Ironman SA weer vir hom ʼn fiets geleen om mee te jaag.

En Sondag is sy toewyding beloon met die medalje om sy nek.

“Om aan die Ironman deel te neem is allermins maklik en ek moes soveel uitdagings te bowe kom. Ek het egter klaargemaak en volgende jaar gaan ek selfs beter vaar – omdat ek glo ek kan en omdat ek almal wil wys dat hulle geloof in my nie verniet was nie,” sê Mazongo.

Atletiek loop in sy bloed en Mazongo het as skoolseun reeds die 100 m in 10,35 sekondes kafgedraf. “Ek was dadelik mal daaroor en het sedertdien gehardloop en reeds aan verskeie marathons deelgeneem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Skappie ·

Baie geluk Kura. Mag daar nog vir jou baie geleenthede wees om aan deel te neem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.