Petroljoggie vas ná hy glo met motor verdwyn

Argieffoto (Foto: Activ-Michoko, Pixabay)

ʼn Man is Maandag in St. Helena in Welkom in hegtenis geneem ná hy ʼn motor by ʼn motorwas-onderneming gesteel het en toe glo na ʼn taverne gegaan het met die gesteelde voertuig.

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 37-jarige vrou beweer sy het haar silwer VW Golf Maandag na ʼn motorwas-onderneming in Othellostraat geneem en na bewering die sleutels van die motor by die petroljoggie gelos.

“Na ʼn ruk het sy teruggegaan om haar motor te gaan haal, toe is die perseel gesluit en die voertuig was nêrens te vinde nie,” het Thakeng gesê.

Op pad weg van die plek af het sy verby ʼn taverne beweeg en haar motor buite die plek gesien en gesien hoe die petroljoggie die plek verlaat.

“Sy het dit by die polisie aangemeld en ʼn saak van motordiefstal is aanhangig gemaak. “Die polisie het onverpoosd gewerk om te verseker dat ʼn 29-jarige verdagte binne ʼn kort tydjie in hegtenis geneem is.”

Die polisie het motoriste aangeraai om versigtig te wees en nie hul motors by motorwas-ondernemings te los nie, maar eerder te wag totdat die voertuig klaar gewas is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.