Petrolprys sal daal, maar pyn vir diesel

Argieffoto.

Argieffoto.

Indien die huidige oorverhaling op petrol vir die komende week voortduur, sal die prys van petrol op 2 Maart daal.

“Petrol kan met sowat 65c per liter daal terwyl die groothandelprys van diesel egter met ongeveer 19 sent per liter sal styg onder dieselfde omstandighede,” het Paul Joubert, senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), Donderdag aan Maroela Media gesê.

“Die rand was tot dusver in Februarie gemiddeld ietwat sterker (R15,95) teen die dollar as gedurende Januarie (R16,35) en die internasionale prys van grootmaat-petrol was ook laer. Internasionaal het grootmaat-diesel egter duurder geword in Februarie as wat dit in Januarie was.”

Die kleinhandelprys van petrol en die groothandelprys van diesel word in Suid-Afrika maandeliks aangepas na gelang van die vorige maand se internasionale pryse van petrol en diesel in dollar, wat dan na rand omgeskakel word. Die prys van olie speel nie direk ʼn rol in die berekening van hierdie pryse nie, aangesien die dollarpryse van klaarvervaardigde petrol en diesel by internasionale raffinaderye gebruik word. Dit verklaar waarom die prys van petrol soms kan daal terwyl die prys van diesel styg, of andersom. In Februarie het die prys van petrol byvoorbeeld met ses sent gestyg terwyl diesel 62 sent goedkoper geword het.

“In sy begrotingstoespraak volgende week sal die minister van finansies aankondig watter veranderinge daar aan die belasting op brandstof gemaak sal word. Hierdie veranderinge aan die bedrag belasting per liter word altyd eenmalig jaarliks in April gemaak en die bedrag bly dan konstant vir die res van die jaar. Op die oomblik is die totale belasting op ʼn liter 93-oktaan petrol R4,13 en op ʼn liter diesel is dit R3,98.”

Joubert het gesê indien die prys van petrol met 65c daal, sal 93-oktaan petrol in Gauteng R11,50 per liter kos, terwyl die groothandelprys van diesel met ʼn 0,05%-swawelinhoud R9,62 per liter sal wees.

Hierdie verwagte veranderinge in die pryse is, soos altyd, aan heelwat onsekerheid onderhewig, veral met die markte so onstuimig soos hulle nou is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kaspaas ·

Laas maand het Diesel afgegaan met omtrent 70c en Petrol op. Nou is dit anders om.

MC Britz ·

Motoriste moet nie juig oor die daling in die petrol prys. Wag op die skok van die begroting. Petrol sal weer swaar belas word.

Josua keys ·

Daar is geen rede waatom Diesel moet styg nie. inteendeel kan dit n verdere 70c goedkoper word.

Ben ·

Koop ‘n petrolaangedrewe motor – die gif wat uit die uitlaatpyp kom is veel minder, maar daarvan word van veel minder gesê, (en nie net VW s’n nie). Dieseluitlaatgas maak veel meer breinselle dood as enige ander uitlaatgas, selfs die met ‘n geaktiveerde Katalisator toegerus wat kastig “filtreer.”

weggegee ·

Klug. Josua Keys stem saam geen rede vir enige styging in diesel nie in teendeel kan die prys NOG daal van diesel, maar waar skep die ” fat cats”. Hulle kan met enige verdiudeliking kom glo, glo ek hulle nie

Mossie ·

Stem nie met jou saam nie weggegee daar is n baie goeie rede – Daai gaan mos weer gestem word en mini bus taxis loop nie op diesel nie die een op die anner af niemand verloor geld en die boere wat nog nie uitgemoor is nie betaal

Paul ·

Mossie, jou teorie maak geen sin nie. Diesel het dan verlede maand met 62 sent geval, en die maand voor dit met 76 sent en die maand voor dit met 4 sent. Terwyl petrol in dieselfde maande met 6 sent gestyg, 0 sent verander en 1 sent gestyg het.

So die prys van diesel is nou R1,42 laer as wat dit in November 2015 was, terwyl petrol 4 sent duurder is. Selfs al daal petrol in Maart met 65 sent en diesel styg met 19 sent, sal diesel steeds R1,23 goedkoper wees as in November, terwyl petrol net R0,61 goedkoper sal wees.

Die pryse word aangepas volgens vaste formules wat openlik gepubliseer word. As jy kan wiskunde doen, kan jy dit uitwerk.

Hennie de Beer ·

Net so `n klug soos met die belaglik lae inflasiekoers berekeninge.

nig ·

Wraggies ek verstaan ook nie HOE werk die goed nie. Verlede maand was dit andersom. Hoe verduidelik mens dit?? Slang in die gras..er petroltenk?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.