Petrolprys: Slegte nuus vir motoriste verwag

Argieffoto

Brandstofpryse sal aan die begin van die nuwe jaar aansienlik styg.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê alle grade petrol kan met tot 42c per liter styg en diesel en paraffien met 55c per liter.

“Dit was ʼn goeie maand vir die rand, met die plaaslike geldeenheid wat tot R14,50 teen die Amerikaanse dollar versterk het. Ondanks die sterker rand is die 13%-styging in internasionale petroleumprodukpryse in dieselfde tydperk kommerwekkend,” het die AA gesê.

“Die rand het voortgegaan om teenoor die dollar te versterk, wat ʼn aangename uitkoms is ná die ernstige terugslag wat die geldeenheid vroeër in die jaar gehad het. Selfs met die volgehoue versterking van die geldeenheid is dit nog nie genoeg om die styging in oliepryse na die vlakke voor die Covid-19-pandemie te laat keer nie.”

Internasionale oliepryse het die afgelope paar dae gestabiliseer, maar die AA sê dit is te vroeg om te weet of dit ʼn nuwe plato bereik het en of dit te verwagte is weens handelsaktiwiteit wat afgeneem het.

“Hoewel brandstofpryse nog ver weg is van vorige rekordhoogtes, moet ons ook in ag neem dat die land se ekonomie in ʼn brose toestand is, en enige skokke rakende internasionale oliepryse of die wisselkoers kan brandstofverbruikers erg benadeel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.