Petrolprys styg dalk met R2 in April

(Argieffoto: Paul Brennan/pixabay)

Die voortgesette konflik tussen Rusland en Oekraïne veroorsaak steeds groot kommoditeitskommelinge wat op kort termyn ʼn beduidende uitwerking op die wêreldwye én Suid-Afrikaanse ekonomie gaan hê.

Die Buro vir Ekonomiese Navorsing (BER) by die Universiteit Stellenbosch sê die oorlog het ʼn reusekommoditeit-verskaffingskok in die internasionale ekonomie veroorsaak.

Olieprys

Hoewel die huidige streng sanksies teen Rusland tot dusver die energiebedryf uitgesluit het, het die olieprys nietemin verlede week bly styg. Groot aankopers het Russiese olie oorgesien in protes teen die oorlog in Oekraïne en in ʼn stadium het olie teen $120 per vat verhandel – die hoogste vlak sedert 2012. Die het sedertdien ten minste weer gedaal.

“Die plaaslike uitwerking van die ongelooflike styging in oliepryse word weerspieël in die daaglikse onderverhalingsyfers vir die Suid-Afrikaanse petrolpryse van die departement van minerale hulpbronne en energie,” sê die buro.

“In dié stadium dui dit daarop dat plaaslike brandstofpryse met tot R2 per liter in April kan styg. Na gelang van die olieprys gedurende die maand kan die styging heelwat meer as R2 per liter beloop.”

Dié verwagte styging volg boonop op ʼn rééds skerp styging van sowat R1,50 per liter wat vandeesmaand in werking gestel is.

Die BER waarsku ook dat Suid-Afrika nie onaangeraak gaan bly deur die uitwerking op inflasie wat die skommelinge veroorsaak nie.

Al hoe meer plaaslike maatskappye het reeds laat blyk dat hulle nie meer ʼn volgehoue styging in insetkoste kan absorbeer nie en dat hulle dié stygings nou na die eindverbruikers sal moet begin deurgee.

Graanpryse

Rusland is ʼn groot verskaffer van olie en gas en Rusland én Oekraïne dra beduidend by tot wêreldwye graanuitsette. “Saam is die twee lande verantwoordelik vir meer as 25% van wêreldwye graanuitvoere,” lui die buro se weeklikse hersiening.

Te midde van kommer dat die oorlog nie net graanuitvoere van verlede jaar se oes gaan ontwrig nie – Oekraïense hawens is gesluit – kan dit ook vanjaar se oes raak. Dit het veroorsaak dat internasionale graanpryse verlede week reeds die hoogte ingeskiet het.

Sommige Europese graanpryse het ook tot ongekende hoogtes gestyg en in Suid-Afrika is ʼn 13%-styging reeds gesien.

Daar is ook bykomende kommer oor die koste van kunsmis, aangesien Rusland en Belarus albei belangrike rolspelers in dié bedryf is. Belarus is een van die wêreld se grootste verskaffers van potas, ʼn belangrike deel van kunsmis.

Maar, nes Rusland is Belarus ook gekap met streng sanksies weens sy steun aan die Russiese oorlog.

“Die skerp styging in graanpryse, met kunsmis wat gaan volg, veroorsaak groot gevaar vir reeds rekordhoë wêreldwye voedselpryse,” sê die buro.

Berigte die afgelope naweek oor besprekings tussen die VSA en sy Europese bondgenote oor ʼn verbod op Russiese olie-invoere het oliepryse verder opgejaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Witbaard ·

Die krisis is al n paar jaar gelede hier.Hy eskaleer nou net teen n hewige tempo

DieKriek ·

Absorbeer? Hulle het dit dan nog altyd net op die verbruiker afgedwing. Hoe absorbeer hulle die prysstyging?

annie ·

So terloops, wat het van die Sasol-ooreenkoms geword nl dat dit pryse sal stabiliseer in krisis-tye? Destyds is groot gewag gemaak van die plan en die regering het selfs ‘n spesiale persoonlike belasting afgekondig waartydens geld van iedere werker afgetrek is as lening wat later glo terugbetaal is (met rente?).

Henri ·

Alles in plek vir die “perfekte storm”.

COVID se stadige, maar langdurige, negatiewe uitwerking op die wêreld se ekonomie kan gesien word soos ‘n langdurige droogte. Mense het net nie meer finansiële reserwes nie.

Die konflik in oos Europa is soos ‘n enorme wolkbreuk wat massiewe oorstromings tot gevolg gaan hê wat alles in hulle pad gaan meesleur.

Trek maar die belde stywer. Hier kom nou swaar tye.

Jacques ·

As die gemiddelde persoon verarm in oorlogstyd, vra jouself af WIE is besig om geld te maak uit hierdie humanitêre krisis en waarom ‘n eskalasie in geweld voordelig is vir “besigheid”.

Iemand….. se geldsake is besig om fantasties te floreer op die oomblik…….

Vrijburger ·

Mmmm vra ook – Watter regerings polities in die moeilikheid is, en wat kan doen met ‘n ‘vyand’ om die stemvee weer agter hulle te verenig?

Annelize ·

Agge nee wat, as dit gebeur is ek solidly in my kanon in.

Ek wonder net hoeveel die oorlog in Oekraiene werklik die petrolprys beinvloed, en word dit nie maar net as gerieflike verskoning deur die regering gebruik om ekstra “inkomste” te genereer nie.

Ek weet net een ding, miljoene mense kan net nie meer nie, die uitgawes raak al hoe meer en duurder, en jou inkomste bly dieselfde, die skaaltjie is op die punt om om te neuk.

VaalDonkie ·

Laaskeer wat die olieprys $120 was, toe was petrol R15/l of iets.

Alfred E Neuman ·

Baie waar, maar ons piesang republiek geldeenheidl is amper niks werd weens al die gestelery.

Yolandie ·

Die petrol prys is besig om menige middel inkomste Suid-Afrikaners se kele heeltemal af te sny. Dis nie ‘n geval van hoe word die verhogings in rentekoerse, kospryse, krag en petrol prys geabsobeer word nie. Dis ‘n kwessie van wanneer val alles uit mekaar want niemand kan meer die pot aan die kook hou as die helfte vd mense net glad nie meer verhogings of bonusse kry nie. Grootskaalse oproer is oppad. Dis al wat ek weet.

Kokerboom ·

Dankie Putin!!!Jy het GEEN emosie met gevolge vir wêreld!

Boer ·

Ek het klaar met my werk gepraat ek het n Donkie en hy mag kom wy op hulle gras.

Pietertjie ·

Maatskappye het nog nooit stygings in insetkoste geabsorbeer nie. Hoekom sal hulle nou verander?

JohanR ·

Kan julle hoor hoe stil die paaie is. Nie ‘n voertuig beweeg enige plek op SA paaie. Dit is doodstil amper soos die eerste twee maande na die toesluit. Dankie ANC julle het die reg gekry om pad vervoer, lug verwoer en trein vervoer te verwoes. Nee wag ek hoor en sien iets..dis ‘n vrou op ‘n fiets, en daar in die verte sien ek ‘n Voortrekker wa aankom getrek deur osse, en hier is ‘n familie op ‘n donkie nou net verby.

Duck ·

En hier is ek, op die drumpel om af te tree met ‘n klein nes eiertjie, vol pragtige drome vir my oudag en ewe skielik word dit onder my voete uitgeruk wanneer ek besef al my spaargeldjies gaan dalk om net te bly leef en van dag tot dag finansièl te baklei, petrol, krag, kos en die lewenskostes word net duurder, geen verhogings vir staats amptenare. Ai wat, sal maar my drome in die toilet afspoel en maar oud word hier by my huis sonder enige drome met resessie wat ons in die gesig staar. Seker maar ons almal se lot en toekoms. En hoe sè Leon Schuster, “aag man moenie moan nie, eet jou brood en jou polonie” – Sterkte mense!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.