Petrolprys styg weer; diesel steeds goedkoper

(Foto: Charlé Bester)

Motoriste gaan van Woensdag 11 sent per liter meer opdok vir petrol, terwyl dieselgebruikers vandeesmaand wéér ʼn blaaskans kry.

Diesel met ʼn swaelinhoud van 0,05% daal met 13,29 sent per liter en diesel met ʼn swaelinhoud van 0,005% daal met 14,29 sent per liter, het die Sentrale Energiefonds (SEF) bekend gemaak.

Die prys van paraffien daal met 2 sent.

Verlede maand het die prys van 93-oktaanpetrol met 96c per liter gedaal en die prys van 95-oktaanpetrol met 95c per liter. Diesel met ʼn swaelinhoud van 0,05% was 74c per liter goedkoper en diesel met ʼn swaelinhoud van 0,005% se prys het met 75c per liter gedaal.

Die SEF sê in ʼn verklaring die rand se effense verstewiging teen die Amerikaanse dollar is een van die faktore wat tot die prysvasstelling bygedra het. Die gemiddelde rand/dollar-wisselkoers was tussen 28 Junie en 1 Augustus 14,0709, in vergelyking met 14,5227 tydens die vorige tydperk. Dit het gelei tot ʼn laer bydrae tot die basiese prys vir petrol, diesel en paraffien van 27,59c/ℓ, 28,56c/ℓ en 28,89c/ℓ onderskeidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

m.d.r. ·

Ek sit elke oggend vroeg op my voorstoepie en kyk na die verkeer op die R11……vanaf 3h30 begin die eerste motors verbykom rigting Petoria/Midrand/Johannesburg…….almal op pad werk toe.
Elkeen van daardie motoriste moes logies eers water en elektrisiteit gebruik om te was ens. items waarvoor betaal moet word aan of Eskom of die watervoorsieners…..dan die lang pad teen hierdie sotlike brandstof prys om sy daaglikse werk en belasting bydrae te gaan lewer….! Hulle begin so 3h30 verby te kom , so elke dertig sekondes dan al hoe nader aan mekaaar sodat Saartjiesnek hier neffens ons buffer teen buffer moet weerstaan…..
Hoekom is almal op pad in hierdie rigting ? Want daar is nie WERK waar hulle woon nie…en die regering vra sy pond vleis van diegene wat nog die ekonomie aan die gang hou…….!
Werkverskaffing ..? nie op die manier nie…!

Elna ·

Nou gaan als weer automaties styg. Alle produkte word mos met groot swaar vragmotors vervoer wat diesel enjins in het. Diesel se prys bly konstant maar die kos prysse ens styg die hoogte in. Kan iemand dit asb vir my verduidelik hoekom?

Hanna Hoekom ·

Ek kry die gevoel dat verhogings in die petrolprys maar net n maklike manier is om die reeds vuisvoos belastingbetalers weer te laat opdok vir een of ander staatsinstelling wat weereens geld benodig (lees ESKOM, SABC). Ons val lankal nie meer vir daardie flou olie-verskonings nie!

John ·

Elke maand se holruggeryde storie…Rand /Dollar wisselkoers, internasionale olieprys…bla bla blaaa….

SjN ·

Die prys word gemanipuleer deur die regering, diesel in Botswana is n paar rand per liter goedkoper en hul het geen invoer struktuur nie, dit kom van SA af

Arie ·

Die petrol prys het lankal niks met die olie pryse te doen nie, dis politiek!!!

Pieterd ·

Help my bietjie met die logika. Die Rand het verstewig en dit het bygedra dat die prys opgaan? Dit het ook “gelei tot ‘n laer bydrae tot die basiese prys …”
Is daar nou ‘n inverse verhouding tussen ‘n sterker Rand en petrolprys?

ne ·

die staat kort geld, hulle vingers kan nie in ‘n leë kas bykom nie….
Nog geld vir die soustrein.

Ig ·

Kyk waaruit is die petrolprys opgemaak, volgende stap is hulle gaan e tol skrap en nog n heffing inbou in die prys, alles is buite ons beheer, ons kan maar kla en kerm soos ons wil, hulle maak net wat hulle wil, welkom in SA binnekort die 2de Zimbabwe????? (10 jaar van nou af)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.